Die idee van die wegraping [2]

Die idee van die wegraping [2] – Dirk Venter

 

Teksgedeeltes waarvan die bedoeling verkeerd verstaan word, wat bymekaar gevoeg word, en dan die wegrapingsidee vorm

  •          1 Tessalonisense 4:16-17 – die ontmoeting met Jesus in die lug

Hierdie is sekerlik die belangrikste teksgedeelte vir die idee van die wegraping, en die een waaruit dit oorspronklik afgelei is.  (Die Griekse woord “harpazo” in 4:17, vertaal in Latyn met “rapere”, word “snatching away” of “rapture” in Engels).  Hier begin die misverstand.  Wanneer Paulus hierdie woorde aan die Tessalonisense skryf, is sy doel nie om daarmee ʼn nuwe idee oor die Wederkoms aan hulle oor te dra nie (sy ander briewe verkondig immers nie ʼn wegrapingsidee nie), maar om ʼn vraag te beantwoord wat hulle oor die Wederkoms gehad het. 

Die Tessalonisense was duidelik bekommerd oor wat met gelowiges wat reeds dood is, gaan gebeur wanneer die Wederkoms plaasvind (4:13, 18).  Paulus gee hulle ʼn vertroostende antwoord: hierdie oorlede gelowiges gaan eerste opgewek word, en daarna gaan hulle saam met dié wat nog lewe, die Here tegemoet om vir altyd by Hom te wees.  Hul geliefdes wat reeds dood is, sal dus wel tot die lewe opgewek word (4:14) en sal gevolglik niks agterstaan ten opsigte van dié wat nog lewe met die Wederkoms nie (4:15). 

Binne sy argument dat die dooies opgewek gaan word en dus ingesluit is by die herontmoeting met die Here, gebruik Paulus die Griekse woord harpazo (4:17) – hulle gaan “weggeruk” word om Hom te gaan ontmoet.  Waarom gebruik hy hierdie buitengewone woord (vir hom) – wat wil hy daarmee sê?  Waarskynlik wil Paulus met hierdie woord maar net beklemtoon dat die moment waarop die gelowiges met Christus herenig gaan word, oombliklik en gevolglik ook beslissend en finaal gaan wees.  Kyk gerus na 1 Korintiërs 15:52 waar hy soortgelyke klem lê op “oombliklikheid”.  Die “wegruk”-aksie” op sigself is glad nie belangrik vir die punt wat hy wil maak nie.  Om dit tot prominensie te verhef, is gevolglik om die teks te forseer om iets te sê wat dit nie bedoel nie.

Paulus verkondig dus nie hier die idee dat die kerk weggeraap gaan word en dat alle ongelowiges agtergelaat gaan word vir ʼn tydperk van intense swaarkry nie, maar eenvoudig net die opwekking van die dooies en die hereniging van alle gelowiges met Christus op die dag van die Wederkoms, dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.  Die wegrapingsleer se gedagte van ʼn geheime koms van Christus (ongemerk deur die ongelowiges) word ook deur hierdie gedeelte self weerspreek, deur die driedubbele bevestiging dat sy koms luid aangekondig gaan word (deur sy eie “bevel”, “die stem van die aartsengel” en die “trompet”, 4:16; vgl. Johannes 5:28-29).  Almal sal weet wanneer die Here terugkeer! 

Hierdie enkele verwysing in die Nuwe Testament, dat die gelowiges Jesus in die lug gaan ontmoet (baie ander teksgedeeltes verwys daarna dat ons by Hom sal wees in die Hemel, maar maak geen melding van ʼn ontmoeting in die lug – tussen Hemel en aarde – (soos hier die geval is nie), en die melding dat die gelowiges van die aarde af “weggeruk” (harpazo) gaan word tot hierdie ontmoeting, beklee regtig nie ʼn belangrike plek in Paulus (of die Nuwe Testament as geheel) se leringe oor wat in die laaste dae en met die Wederkoms gaan gebeur nie.  Die “ontmoeting in die lug” is nie eers in die onmiddellike konteks (1 Tessalonisense 4:13-18), belangrik vir die argument waarmee Paulus besig is nie, en is dus eintlik maar ʼn terloopse opmerking!  Gevolglik behoort dit nie ʼn sleutelteks gemaak te word, vanwaar ʼn hele (wederkoms-) idee uitgebou word nie. 

 

Lees gerus meer in:

DU RAND, J.   2007.  Die A – Z van Openbaring.   Vereeniging : CUM. 

 

Outeur: Ds Dirk Venter