Die oproep vir nederigheid

image_pdfimage_print

If man has no personal God, all the more surely he has one or more impersonal gods. — Emil Brunner

Die oproep vir nederigheid

Naäman was ‘n ryk generaal in die Siriese leër. Ons lees sy verhaal in 2 Konings 5. Die man was ‘n dapper soldaat, maar hy het melaats geword. By sy vrou se bediende (ons weet nie eers wat haar naam was nie) hoor hy van die profeet in Samaria wat hom van sy melaatsheid kon genees. Hy gaan na sy koning en kry ‘n brief aan die koning van Israel. Hy reis na Israel met silwer, goud en tien stelle klere – en ‘n brief van sy eie koning. Hy gaan reguit na die koning van Israel en gee vir hom die brief. Dit is eintlik ‘n dreigbrief: Wanneer hy by jou uitkom, moet jy hom van sy melaatsheid gesond maak – moet.

 

Soos so baie van ons het Naäman geglo dat geld en invloed sy lyding sal genees. Daarom gaan hy na die persoon wat volgens hom die meeste geld en invloed in die Israelse kultuur het – die koning – en verwag ‘n oplossing. Wat doen die koning van Israel? Hy skeur sy klere en sê: Is ek dan God wat mense laat sterwe of hulle die lewe gee. In wese sê hy: Moenie van my verwag om iets te doen wat net God kan doen nie.

Is dit nie tyd dat ons weer na hierdie uitroep van die koning van Israel luister nie. As ons voor  lyding te staan kom, dink ons ons kan dit oplos deur ‘n beleidsverandering van die regering of die kundigheid van sielkundiges en psigiaters of tegnologiese vooruitgang. Dit gaan nie gebeur nie.  Dit is verkeerd om te glo dat ons lyding met ons kennis gaan oorwin en beheer.

Ons moenie passief wees as rampe en tragedies ons tref nie. Natuurlik as ‘n verandering in regeringsbeleid kan verhoed dat ‘n ramp weer gebeur, moet ons dit doen. Maar terselfdertyd moet ons besef dat hierdie maatreëls nooit genoeg is nie. Pyn en die boosheid in hierdie wêreld is diepgaande en het geestelike wortels. J. R. R. Tolkien (The Lord of the Rings) sê: Always after a defeat and respite, evil takes another shape and grows again. Maak nie saak wat ons doen nie, menslike lyding en die bose kan nie uitgewis word nie. As jy lyding en die bose wil hanteer, het jy meer as wêreldse hulpbronne nodig.

Naäman wend hom uiteindelik  nie na geld of  kundiges of tegnologie nie, maar na God self. In plaas daarvan om met trots in sy eie en ander se kundigheid te vertrou, word hy geroep tot … nederigheid. Hy word nie alleen genees nie, maar ontwikkel ‘n nuwe verhouding met God en ‘n siel vol genade en vreugde. Lyding lei tot sy verlossing.

Dit antwoord nog nie ons vrae nie: “Waarom laat God toe dat soveel swaarkry in die wêreld bly voortbestaan?” Dit regverdig ook nie lyding nie. Tog leer ons in die Bybel dat feitlik niemand tot grootheid groei of God vind  sonder lyding nie. Selfs Christus het nie verlossing en genade aan ons gebring sonder lyding aan die kruis nie. Hy het ons lief genoeg gehad om sy lyding met geduld en moed te hanteer. Soos sy swakheid en lyding tot sy opstandingskrag gelei het, kan lyding ook vir ons na krag lei.

 

 

image_pdfimage_print

You may also like...