Die tempelreiniging (2:13-22)
Die tempelreiniging (2:13-22) – Francois Malan
Die Johannes-Evangelie plaas dit aan die begin van Jesus se bediening in Judea om te verduidelik dat die Messias vernuwing bring in die diens van God, soos die wynwonder ‘n nuwe reiniging simboliseer; ook dat Jesus se optrede skeiding bring onder mense: sommige kom tot geloof (v11), en ander kom in verset (v18-20).
2:13 Vir sy nie-Joodse lesers onderskei die skrywer tussen die Joodse paasfees wat die uittog uit Egipte vier en die Christelike paasfees wat die opstanding van Jesus vier. Soos vir die Jode voorgeskryf is, gaan Jesus ook Jerusalem toe vir die paasfees wat volgens Johannes begin op Vrydagaand (13:1; 18:28; 19:31). ‘opgegaan’ – Jerusalem lê 700 meter bo seespieël, Kapernaum 200 meter onder seespieël en die Jordaan by Jerigo nog verder onder seespieël. Daarby gaan die pad van Jerigo na Jerusalem berge op en berge af.
2:14 In die voorhof vir vroue en nie-Jode bied verkopers offerdiere, wat deur die priesters goedgekeur sal word, te koop aan (duiwe vir die armes se offers (Lev 5:7) , skape vir die paaslammers (Eks 11:3-6), beeste vir dankoffers van die rykes (Lev 1:1-9). Die geldwisselaars ruil die Romeinse geld met die keiser se kopbeeld op, vir tempelgeld waarmee die jaarlikse tempelbelasting betaal word.
2:15 Jesus vleg ‘n sweep van tou (waarskynlik van die toue waarmee die diere vasgemaak is); dit is soos ‘n koning se teken van gesag. Dat geharde besigheidsmanne luister, is ‘n wonder. Jesus tree op met die gesag van die Seun van God wat die eer en heiligheid van die huis van sy Vader beskerm. Die handelaars trek die aandag af van die dankbare aanbidding van God, en godsdiens word besigheidstransaksies om God se guns met offers te wen.
2:16: Die duiweverkopers moet die duiwe met hokke en al wegvat. Hulle maak die huis van ‘my Vader’ ‘n huis vir handeldryf/’n mark. Vir die eerste keer in Johannes praat Jesus van God as sy Vader. Johannes lê klem op die ontheiliging van die tempel. Die sinoptiese Evangelies beklemtoon die oneerlike praktyke ‘’n rowersnes’ (Jer.7:11) omdat die pryse so hoog was, en die priesters wins gemaak het uit die handelaars se stalletjies en ‘n persentasie van die wins.
2:17 Jesus se volgelinge sien sy optrede as ‘n vervulling van Ps 69:10 (volgens die Griekse vertaling). Met dié Messiaanse psalm identifiseer hulle Jesus met die verwagte Messias. Jesus kom alles wat die ware aanbidding van God kan verhinder uit die weg ruim. Die dissipels vrees dat Jesus se optrede sy dood sal kos, maar niemand roep die tempelpolisie om Hom te stuit nie.
2:18 Die Joodse leiers, Jesus se teenstanders , eis ‘n wonderteken om sy volmag van God vir sy optrede tot hulle bevrediging te bewys. Jesus weier om sy ongelowige teenstanders te bevredig.
2:19 Jesus antwoord met ‘n metafoor/beeldspraak wat ook ‘n raaisel is (vgl. Mk 4:11,12). In Grieks het elke woord hier twee betekenisse: ‘breek af’ (maak los) kan na die tempel verwys en na ‘n mens wat sterwe; ‘die tempel’ kan ook na die mens se liggaam verwys (1 Kor 16:9); ‘oprig’ word gebruik van ‘n gebou en opwek uit die dood. Jesus verwys na die toekomstige optrede van die Jode wat Hom gaan uitlewer om gekruisig te word. Hulle sal dan saamwerk aan die teken wat hulle vra, ‘en na drie dae sal Ek dit weer oprig’. Maar die tempel waar die offers gebring word, gaan ook afgebreek word, omdat Jesus se liggaam die afdoende offer gaan bring (Hebr 10:19-20). Met sy opstanding verrys Hý as die nuwe tempel, nadat die voorhangsel van die ou tempel geskeur het, sodat Hý die vrye toegang tot God is vir elke sondaar wat na Hom toe kom (vgl. Jn 14:7).
Volgens Matteus 26:61 word hierdie antwoord van Jesus as getuienis teen Hom gelewer.
2:20 Die Jode verstaan Jesus se antwoord as ‘n verwysing na die tempelgeboue. Hulle beskou dit lagwekkend en onmoontlik. Die gebou wat Herodes in 19 v.Chr. begin bou het, is eers in 64 n.Chr. voltooi en in 70 n.Chr. deur die Romeine afgebreek Indirek het hulle self die tempel afgebreek deur hulle jarelange weerstand teen die Romeine. Die 46 jaar na 19 v.C. beteken dat Jesus ongeveer 28 n.Chr. gekruisig is.
2:21 Johannes verduidelik Jesus se uitspraak om ‘n misverstand by sy lesers te voorkom. Na drie dae sal sy liggaam opgewek word. Die liggaam van Jesus is die tempel waarin God teenwoordig is; ‘n ander manier om te sê: die Woord het mens geword (Jn 1:14). Met sy uitspraak bedoel Jesus dat in sy liggaam word die vervulling gegee van alles wat deur die tempel afgebeeld word. Sy sterwe maak die offerdiens oorbodig (Jn 4:21-26; 10:11), en sy opstanding maak die tempel self oorbodig (vgl. Jn 11:25,26). Hy is die nuwe tempel van Openb 21:22 en 22:1-2. Nie ‘n gebou nie, maar die Persoon van Christus in wie die Gees van God woon is die tempel van God (1:33), deur wie ons na God gaan.
2:22 Na sy opstanding het dit alles eers vir die dissipels duidelik geword, onder die leiding van die Heilige Gees (vgl. Jn 14:26; 16:13). Toe het die dissipels geglo dat sy woorde dieselfde gesag het as die Ou Testamentiese Skrif, dat Hy die Woord van God is en bring. Toe het hulle aanvaar dat die tempelreiniging ‘n teken is dat die ou bedeling plek gemaak het vir die nuwe.
Skrywer: Prof Francois Malan