Die verskeidenheid van geestelike gawes volgens 1 Korintiërs 12 – Johann Voges

Hoe weet ‘n mens of iemand die Heilige Gees ontvang het of nie; kom ons probeer om die vraag eerder te formuleer in die streking van Paulus se bedoeling met 1 Korintiërs 12 – 14 … wat verwag ek moet daar in my eie hart en lewe as christen gebeur wanneer ek, soos Paulus dit hier vers 13 stel, met die Heilige Gees gedoop is of deur die Heilige Gees deurdrenk is?

Dis nie net ‘n belangrike vraag waarop ek as christen in my lewe ‘n antwoord moet kry nie, maar dis net so belangrik dat my antwoord ook in die Bybelse konteks verstaan word.

Sommige gemeentelede in Korinte het gedink dat ‘n mens die vraag net kan beantwoord as jy ook begin doen wat diegene doen wat daarop aanspraak maak dat hulle al die regte geestelike belewenisse ervaar het, met ander woorde waar ander mense die geestelike dinge beoefen is die plek waar jy ‘n antwoord op jou vraag moet gaan soek. En toe lidmate se geestelike ervaring die norm begin word het vir die mate waarmee jy dink jy deur die Heilige Gees deurdrenk is, het die gemeente van Korinte al groter geestelike probleme begin optel.

  • sommige gemeentelede het begin dink dat hoe meer ek myself emosioneel kon laat meevoer of inleef in my godsdiens, hoe ‘n beter kwaliteit christen word ek dan
  • dit het veroorsaak dat daar ‘n soort geestelike hoogmoed tussen die gemeentelede ontstaan het. ‘n Houding van “ek is ʼn beter en meer toegewyde christen” as enige ander afhangende van die lysie geestelike gawes waaroor ek dink ek beskik
  • natuurlik het lidmate jaloers op mekaar begin raak of vir mekaar begin neusoptrek omdat hulle begin glo het dat my geloofwaardigheid as christen af gehang het van veral ‘sekere’ gawes. So het sommige lidmate eerder ‘n groter spiritual nuinsance as ‘n spiritual influence op die gemeentelewe begin kry
  • die hartseer van dit alles was dat al die sogenaamde geestelike ervarings in die gemeente nie net verwaandheid en ʼn toutrekkery onder baie lidmate veroorsaak het nie, maar dat daar veral ‘n stuk vervreemding en verdeeldheid tussen lidmate onderling begin ontstaan het.

 

In sy antwoord hierop in 1 Korintiërs 12 – 14, wys Paulus nie net op hoe verwarrend dit kan raak as elke christen sy eie geestelike ervaring vir ander wil begin voorskryf as die norm vir ‘n geesvervulde lewe nie, maar probeer hy veral om hier om ‘n korrekte perpektief te stel op wat ‘n geesvervulde lewe werklik beteken.

Om met die Heilige Gees gedoop / deurdrenk te wees of die Heilige Gees as gawe te ontvang, beteken vir Paulus: As julle nie seker is of iemand regtig onder die invloed van die Heilige Gees praat nie, wil ek julle ’n goeie toets daarvoor gee. Iemand wat deur die Gees praat, sal nie sê: “Vervloek is Jesus” nie. As iemand egter sê: “Jesus is die Here,” is dit die Heilige Gees wat hom dit laat sê” 1 Korintiërs 12;3; Johannes gee ‘n soortgelyke antwoord hierop: “Liewe vriende, moenie enige persoon glo wat beweer hy sê dit of dat onder die invloed en leiding van die Gees nie. Ondersoek en toets eers hierdie “geestesuitsprake”. Kyk of die oorsprong daarvan regtig by God lê; die wêreld is vol vals profete. Ons kan die Gees van God só uitken: iemand wat nie bang is om vir seker te sê dat Jesus Christus mens van vlees en bloed geword het nie, het die Gees wat van God af kom” 1 Johannes 4;1-2. Die sekerheid of die Heilige Gees in my lewe werk of nie, gaan dus gepaard met my belydenis aangaande Jesus Christus. Ses van die sewe kere wat daar in die Nuwe Testament van die doop met die Heilige Gees gepraat word, verwys dit na die uitstorting van die Heilige Gees op pinksterdag. Hier in 1 Korintiërs 12 wil Paulus dus sê as ek glo in die Here Jesus as my Here en Verlosser, word ek ook deurdrenk / gedoop met die Heilige Gees … is my lewe as christen onder beheer van die Gees van God.

‘n Belangrik ding om hier raak te sien is dat die doop met die Heilige Gees nie iets is wat êrens gebeur omdat ek nou so ‘n oulike deurleefde christen geword het nie. Die Bybel is hieroor baie duidelik, as die Here God ‘n sondaar red, sluit dit vergewing van al sy sonde in … maak nie saak of  dit in onwetendheid of moedwilligheid gedoen is of nog steeds gedoen word en nog gedoen sal word nie. Die Here verlos my volkome van sonde … daarom is dit ook die een ding wat nooit weer lekker is om te doen nie. Dis hoekom Johannes sê: “Niemand wat deur God sy kind gemaak is, maak nog ’n gewoonte van die sonde nie. Hoe kan hy? God het so iemand mos lewendig gemaak. Ja, uit God self is hy gebore, want God is kragtig en sterk. Daarom mag die gedagte om iets te doen wat God ongelukkig maak, nie eens by ’n kind van God opkom nie” 1 Johannes 3:9. Daarmee wil Johannes nie sê dat ʼn kind van God nie meer sonde “kan” doen nie, maar ʼn kind van God “wil” nie meer sonde doen nie. God vergewe my nie net nie, Hy vernuwe my ook … om in soveel woorde te probeer sê wanneer iemand tot bekering kom, word dit ook pinkster in sy lewe.

Hiermee word dan ook in dieselfde asem gesê wat God se eintlike bedoeling met my verlossing as sondaar is … om deel te wees van die liggaam van die Here Jesus, dit is sy kerk. Geen christen kan dus onbetrokke by die kerk wees omdat hy voel dat hy die Here beter op sy eie kan dien nie … sulke soort christene het nie ‘n bestaansreg nie. Daarom word elke christen in die kerk, deur die Heilige Gees toegerus met verskillende gawes volgens my vermoë en met die oog op die spesifieke verantwoordelikheid (hede) wat ek in die Here se gemeente het.

Wat Paulus hiermee probeer verduidelik, is dat in die kerk van die Here Jesus het elke lidmaat ‘n eie funksie, ‘n eie plek en ‘n eie verantwoordelikheid wat ek moet nakom sodat die liggaam van die Here Jesus (sy kerk) in sy geheel reg kan funksioneer. As ek dus die toerusting wat die Heilige Gees vir my gegee het vir my verantwoordelikheid in die gemeente vir iets anders gebruik of dit gladnie gebruik nie, word ek die oorsaak dat die gemeente soos ‘n gestremde liggaam begin lyk en funksioneer. Dis presies wat hier in Korinte gebeur het, lidmate het die gawes van die Heilige Gees begin gebruik tot hulle eie voordeel en prestige in die dorp in plaas van vir die doel waartoe of waarvoor die Heilige Gees dit vir elkeen (verskillend) gegee het.

Miskien net iets in kort oor die verskillende moontlike gawes… Daar is seker gemeenskaplike gawes wat ons almal ontvang het al verskil ons hoe ookal van mekaar. Byvoorbeeld die gawe of vermoë om te kan glo, hoop en om lief te hê 1 Korintiërs 13 , om die vrug van die Gees te kan dra … liefde, blydskap, vriendelikheid ens Galasiërs 5:13vv. Hierdie gemeenskaplike gawes het veral te doen met my verhouding met die Here en my gedrag as christen in die gemeente enb ook alledaagse samelewing.

Maar bo en behalwe die gemeenskaplike gawes, gee die Heilige Gees ook aan elkeen van ons verskillende individuele (besondere) gawes soos wat elkeen van ons nodig het vir die spesifieke verantwoordelikheid wat ek in die gemeente het. In elke gemeente sal mens dan ook die individuele gawes kry wat vir daardie gemeente in sy tyd en omstandighgede die nuttigste is om as gemeente van die Here Jesus te kan funksioneer.

Maar as lidmate soos in die geval van die gemeente in Korinte begin om individuele gawes wat vir verskillende mense verskillend bedoel is, gemeenskaplike gawes te probeer maak waarop lidmate jagmaak terwille van prestige waarde of geloofwaardigheid, is daar chaos. Dan noem Paulus hier byvoorbeeld as iemand die gawe van spreek in tale het, met ander woorde die gawe om op ‘n seker manier uitting te gee aan sy geestelike ekstase en daar is niemand wat dit kan verstaan nie, water nut het dit vir die gemeente. Laat dan liewer die lidmate wat die gawe van profesie het, met ander woorde die gawe om God se Woord op ‘n verstaanbare manier te kan verklaar, laat hulle in die erediens optree terwille van die toerusting en seën van die hele gemeente1 Korintiërs 14.

Per slot van rekening gaan dit nie oor hoeveel of watter van die of daardie individuele gawe elkeen van ons kan of mag besit nie, maar hoe dié waarmee die Heilige Gees vir elkeen van ons toegerus het, tot seën en opbou van sy gemeente in Korinte (of waar ookal) gebruik word. Daarom sê Paulus hier dat al verskil ons hoe ookal van mekaar en al het geen twee van ons dieselfde genadegawes van die Heilige Gees ontvang nie, is dit geen rede om op mekaar neer te sien of met mekaar te wedywer nie, want al het jy ook die beste gawes ontvang, maar daar is geen liefdesgesindheid waarmee jy dit uitleef nie, beteken jy vir die gemeente en vir die Here niks, 1 Korintiërs 12;31-13;1.

As die gemeente van Korinte of my gemeente dus soos ‘n gestremde liggaam van die Here Jesus begin lyk en funksioneer, behoort ek as christen my hand in eie boesem te steek met die vraag … is dié gemeente nie dalk gestremd omdat ek die gawes wat die Heilige Gees my gegee het óf gladnie gebruik nie óf net gebruik terwille van my eie verrykking … want dan is my bedoeling daarmee in elk geval siek.

Miskien moet ons meer bid … Here begin by my … gee my die genade om die genadegawes wat U aan my gegee het te gebruik vir dit waarvoor U dit hier in my gemeente bedoel het. Die genade om te besef dat die gawes wat U gee ‘n mens nie belangrik of onbelangrik maak nie, maar eerder bruikbaar en diensbaar vir U hier waar ek is. Genade Here om ook ander lidmate se gawes te waardeer en te respekteer …  die tannie met die gawe om beter kos te kook as om te praat waar daar nood is; die ouderling wat die gawe het om mense ‘n seer pad te kan loop eerder as om ‘n wyksbyeenkoms te kan hou; die diaken wat ‘n groter deernis met mense het as die vermoë om te kollekteer; die genade om in my gemeente te kan ervaar dat waar status en swaarkry die geneigdheid kan hê om lidmate net vir hulleself te laat leef, U ons opnuut sal vrymaak om as U kerk vir mekaar en vir U te leef … sodat ons ook in hierdie gemeente mag besef hoe afhanklik ons van mekaar is en hoe ons mekaar nodig het om U kerk te kan wees.

Skrywer: Dr Johann Voges