Die Here versorg sy kinders en straf die vrome goddeloses (66:6-17) – Francois Malan

66:6 ‘n Stem van rumoer uit die stad; ‘n stem uit die tempel; die stem van die Here; Hy is besig om vergelding uit te deel aan sy vyande.’

In verse 1-5 is ‘n duidelike onderskeid getref tussen regte gehoorsaamheid en onverantwoordelike aanbidding. Die verdeling is ook om die nederige boetvaardiges (v2) te bevestig, wat in ontsag voor die woord van die Here bewe (vv2,5), en dié wat afskuwelikhede bedryf (vv3-4) te waarsku. Die teruggekeerde gemeenskap is diep verdeeld in strydende partye. Dié twee groepe wat so in verse 1-5 beskryf is, word nou gekonfronteer met die Here se streng en vasbeslote ingryping waardeur elke groep sy verdienste kry. Dit word aangekondig met die blaas van trompette soos van ‘n invallende leërmag wat aangemarsjeer kom. Dit kom uit die stad, uit die tempel, daar waar die mense dink dat die Here sou bly – Amos 1:2 sê: ‘die Here se stem brul uit Sion, Hy laat sy stem uit Jerusalem hoor.’ Die hele aarde, en die geloofsgemeenskap in die besonder, gaan onderwerp word aan die Here se deurtastende beoordeling met toepassing van sy beslissings.

Verse 7-14a gee die positiewe uitspraak oor dié wat aan die Here toegewy is in hulle aanbidding en gehoorsaamheid. Die aankondiging geskied met die ophoping van verskillende beelde:

66:7-9 Die nuutheid sal ‘n skielike wonderbaarlike geboorte wees, teen alle normale prosedures en verwagtings, slegs deur die krag van die Here. Iets heeltemal nuuts gaan gebeur. Dit geskied teen die agtergrond van die onvrugbare vrou se hopeloosheid en uitsigloosheid (Jes 54:1). Die Here gaan nou die onvrugbaarheid van die toegewyde Jode omkeer. In vers 9 word die Here as die vroedvrou geteken. Hy, die Skepper, gaan onverwags iets nuuts skep, ‘n nuwe nasie lojaal aan Hom (vgl. Jer 31:31-34 se nuwe verbond; 2 Kor 5:17-19 se nuwe mens).

66:10 en 14a Die nuwe skepping sal uitbundige vreugde ontlok, deels uit blote verbasing oor die nuutheid en deels oor die nuwe lewe self. Die vreugde word in die gedig verbind aan die geboortemetafoor. So word vreugde en rou verbind aan geboorte en onvrugbaarheid. Die moeder wat haar suigeling voed, is vervul met blydskap en verwondering, soos in 40:1: die uitkoms is hier! Letterlik: troos, troos my volk. So belowe Jesus vir sy dissipels vreugde oor sy opstanding en die koms van die Heilige Gees (Joh 16:20-22).

Vers 14a gebruik ‘n ander beeld: ‘Julle sal sien en julle harte sal bly wees en julle bene (julle hele wese) sal blom soos gras wat uitspruit – die wonder van die sagte gras wat deur die harde kors van die aarde deurbreek ná die reën. So het die ongelowige Tomas in verwondering en blydskap sy geloof bely in die opgestane Jesus: My Here en my God! (Jn 20:28) en het Paulus, die fanatiese vervolger (Gal 1:13-14), gevra: Wie is U Here? (Hand 9:5; Gal 1:15-16) .

66:11-12 Die beeld van ‘n baba wat aan die ma drink word weer gebruik, soos ‘n kind wat genoeg drink by sy ma tot vertroosting, sodat julle mag drink en vreugde put uit die oorvloed van haar heerlikheid. In vers 12 gaan die beeld oor na die leiers van die nasies wat kinder-oppassers word soos die Here in 60:16 gesê het. En dan verander die beeld na ‘n rivier. Die Here sal sjalom soos ‘n rivier na  Jerusalem laat vloei en die rykdomme van die nasies soos ‘n rivier wat sy walle oorstroom. In dié verband wys sjalom nie in die eerste plek na vrede nie, maar na die voorspoed en welsyn wat na Jerusalem sal stroom deur die genadige ingryping van die Here – so radikaal anders as wat hulle die afgelope 100 jaar ná die ballingskap beleef, vgl. 60:5-11; 61:5-7; vgl egter Maleagi 3:6-12; 4:2, wat in hierdie tyd van Nehemia geskryf is. Die metafoor van ‘n stroom wat die rykdomme aandui word ook verbind aan die beeld van ‘n oorvloed vir die sogende baba, wat daarby op die arm gedra en op die skoot van die ma  getroetel en gewieg  word.

66:13 Hier identifiseer die Here Hom met die ma wat haar kind vertroos en vertroetel. Die beelde vertel van die Here se liefdesverhouding tot die groep in Israel, wat, soos ‘n baba aan die ma drink, so by Hom hulle voedsel en sorg kom soek. Hulle is in 65:13-14 reeds sy dienaars genoem. Die reeks metafore beklemtoon die intieme verhouding van die Here met sy dienaars, met die troue liefderyke sorg van ‘n moeder as die beeld van die nuwe verhouding wat die Here skep.

66:14a is reeds saam met vers 10 se vreugde bespreek. Maar die mikpunt met die vreugde wat die Here gaan skep is dat die nasies sal sien dat die seënende en bewarende hand van die Here op sy dienaars rus.

Verse 6b, 14b-16 is egter ‘n bevestiging van die Here se dreiging teen diegene wat die Here spot en uitdaag en gruweldade beoefen, soos in verse 3-4 uitgespel is. Die dag van afrekening (v6) van die Here se straf op sy vyande (v14b) het gekom. Hy kom in vuur en strydwaens soos ‘n stormwind, met die swaard (v15-16) kenmerkende beelde vir die Here se verskynings (Jes 29:6; Ps 50:3; vuur in die braambos in Eks 3:2; op Sodom en Gomorra in Gen 19:24; op Karmel in 1 Kon 18:38; strydwaens soos ‘n stormwind in Jer 4:13; Amos 1:14; Spr 10:25; die swaard van die Here in Jes 34:6; Rigt. 7:20; Jer 12:12; 47:6).

Soos die seëninge van die Here in vers 12 ingelei word met ‘Kyk!’ om op te roep tot besondere aandag, word die vervloekinge van die Here in vers 15 ook met ‘Kyk!’ ingelei (Kyk, is nie in die vertalings opgeneem nie). Die twee rye terme: My dienaars sal eet-drink-bly wees-sing, maar julle sal honger-dors-beskaamd wees-huil, praat van ‘n lewe in die seën en ‘n lewe onder die vloek van die Here; van materiële dinge en insluiting of uitsluiting. Alle aspekte van die lewe staan onder die Here se seën of sy vloek. Joh 3:36 sê: Wie in die Seun glo het die ewige lewe; wie egter aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die straf van God bly op Hom.

66:17 sluit die strafgedeelte af  met ‘n herhaling van die sondes wat in 66:3-4 en 65:3-4 beskryf is. Die tuine word gesien as plekke van hulle selfbevredigende ‘aanbidding.’ Dit is hulle wat, teenoor vers 11 se beeld van moeder en kind, gaan drink aan die onsedelikhede van die afgodsfeeste in die tuine (65:3), wat kies om in selfbelang hulle eie pad te volg. Daar, in die tuine van die afgode, is die heiligheid van die Here totaal afwesig. Hoofstuk 65:4 se eet van varkvleis as die toppunt van hulle oortredings, word hier vererger met die eet van muise. Dit gaan om hulle rituele onreinheid waaraan hulle, sonder om goed daaroor te dink, trots deelneem, en die hele samelewing daarmee in gevaar stel. Ironies reinig hulle hulleself vir hulle optog na die tuine om daar deel te neem aan die heidense onreinhede. Saam vertoorn hulle die Here met hulle optrede en sal almal saam uitgeroei word.

Skrywer:  Prof Francois Malan