Diereoffers – Hermie van Zyl

Bresler vra:

Hoekom moes onskuldige diere geoffer word, bv 2 Samuel 6:13? Diere ly ook weens droogte, maar hulle is onskuldig. Hoe versoen ‘n mens dit met ‘n God van liefde?

Antwoord

Proff Hermie van Zyl antwoord:

Wanneer ons as moderne mense met iets soos die offerkultus van die Ou Testament gekonfronteer word, is daar baie wat vreemd en selfs afstootlik aandoen, soos wat ons vraagsteller suggereer. In die lig van die klem wat vandag tereg geplaas word op die bewaring van die natuur, wat uiteraard diere insluit, is dit vir ons ondenkbaar dat diere so voor die voet geslag kon word net om een of ander onverstaanbare en bedenklike godsdienstige ritueel te voltrek (gesien vanuit ons perspektief vandag). Veral as mens in aanmerking neem dat die tempel in antieke Jerusalem gesentreer het rondom die offerkultus en dat duisende diere elke jaar daar geoffer is, kan ons vandag inderdaad die vraag vra: Het God werklik vereis dat onskuldige diere se bloed moet vloei om Hom te dien? Hoe versoen ons dit met ’n versorgende en liefdevolle God? Maak dit nie van Hom ’n “bloeddorstige” God wat eers tevrede is wanneer daar bloed vloei nie?

Die verdere verwysing na onskuldige diere wat weens droogte ly, laat ek daar, want ménse ly ook onder natuurrampe waarvan hulle nie die oorsaak is nie. Laasgenoemde handel dus eerder oor die onvolmaakte en brose struktuur van hierdie bedeling, wat ietwat op ’n ander vlak lê as die kwessie van offerdiere wat deel was van antieke godsdienstige rituele waarvan ons die sin vandag nie mooi begryp nie.

Om die vraag na die offerdiere na behore te beantwoord, is dit nodig om ’n paar aspekte van die antieke samelewing uit te lig soos dit onder andere in die Bybel manifesteer, asook om te probeer agterkom wat werklik aan die wortel van die offerkultus van oud-Israel gelê het. Ek stel dit puntsgewys aan die orde.

Eerstens, oud-Israel was deel van die antieke oud-Oosterse kultuur. Daar was nie ’n nasie wat nie een of ander vorm van offerkultus as deel van hulle godsdiensbeoefening gehad het nie. Noem maar op: Kanaäniete, Fenisiërs, Arabiere, Babiloniërs, Egiptenare, Grieke – offerandes was eenvoudig deel van die manier waarop die verhouding met die godheid beleef en ingerig is. En as kinders van hulle tyd was die offerkultus een van die belangrike maniere waarop Israel uitdrukking gegee het aan hulle belewing van en diens aan God. Dis daarom nie soseer God wat dit as eis gestel het om so gedien te word nie (die verdere verloop van die geskiedenis sou dit bevestig), maar dis eerder so dat Hy aanvaar het wat Israel aangebied het en dat Hy dit terselfdertyd ook so gelei het dat die essensie van wat Hy eintlik van hulle verwag het, ook in die offerkultus na vore sou tree. Mense het destyds ook nog nie ’n goeie besef gehad van die fyn ekologiese balans tussen mens en dier nie, en dat diere ook die reg het om waardig behandel te word. Die punt is: om te verwag dat oud-Israel, hoewel aanbidders van die lewende God, hulle godsdiens anders tot uitdrukking moes bring as onder andere deur middel van die offerkultus, sal ’n totale anakronisme wees. Dit sal hulle tot lewensvreemde mense in hulle eie tyd brandmerk, as mense wat ernstig te kort skiet in hulle toewyding aan God. Dis amper soos om vandag te verwag dat Christene hulle geloof beoefen sonder om die sakramente van die doop en nagmaal te gebruik.

Tweedens, ons moet die diereoffers vanuit ’n wyer perspektief bekyk. Drie gedagtes is hier belangrik. 1. Allereers was die diereoffers slegs ’n onderdeel van die totale offerkultus. Nie net diere is geoffer nie, maar ook plantprodukte. So was daar die graan- en vrugteoffers as simbool dat die totale oes aan die Here gewy word. En die pinksterfees, wat vyftig dae na die paasfees gevier is, was ’n oesfees waar God geprys is as die gewer van reën en die vrugbaarheid van die land. Wierookoffers, bestaande uit allerlei plante en speserye, is ook gebring as selfstandige én as begeleidende offers by diereoffers, en was onder andere simbool van reiniging en van die gelowiges se gebede wat tot God opstyg (vgl Op 8:3-4). Belangrik in die offerkultus was ook die feit dat sommige offerandes bedoel was om die priesters wat diens gedoen het in die tempel, te versorg. Die tiendes was weliswaar ’n belangrike deel van die tempelonderhoud, maar sekere offers is nie volledig verbrand nie maar aan die priesters geskenk as deel van hulle lewensonderhoud. Dit is dus duidelik dat die offerkultus nie net op die diens aan God gerig was nie, maar ook in diens van die naaste gestaan het. 2. Verder was die offerkultus nie die enigste manier waarop God gedien is nie. Die onderrig in die verbondsbepalings – die torah – het die ander groot deel van die gelowige Israeliet se godsdiens uitgemaak. Trouens, in die tyd van die ballingskap (6e eeu vC), toe die tempel in Jerusalem in puin gelê het en die offerkultus tydelik tot stilstand geruk is, was die uitleg en uitleef van die wet van God die enigste manier waarop God gedien kon word. En ná die val van Jerusalem en die vernietiging van die tempel in 70 nC het die offerdiens in elk geval vir altyd opgehou om te bestaan en was dit slegs die sinagogale erediens met sy torah-onderrig wat die kenmerk van die Judaïsme geword het, tot vandag toe. 3. Hiermee hang saam die kritiek op die offerkultus wat reeds in die Ou Testament teenwoordig was. Nie dat die offerkultus as sodanig aangeval is nie, maar veral die profete en die Psalmdigters het te velde getrek teen die gedagte dat mens kan voortgaan met offers maar nalaat om God met jou hart en lewe te dien. Dan vloek die offerdiens teen die ware godsdiens. Jesaja 1:11-17, Amos 5:21-27, Miga 6:6-8 en Psalm 50:8-15 is goeie voorbeelde van hierdie kritiek teen die dubbelslagtigheid en huigelary onder Israel as dit kom by die diens aan God – wanneer jy (offer)handelinge werktuiglik en onnadenkend uitvoer terwyl jou hart ver van God is. So asof die offerhandeling in sigself outomaties die verhouding met God in stand hou. In al die genoemde Bybeltekste word die klem daarop geplaas dat God nie in die eerste plek offers vereis nie, maar opregtheid voor God en dade van geregtigheid teenoor mense.

Deur die offerkultus so in wyer perspektief te plaas, is dit duidelik dat hierdie vorm van godsdiens nie die enigste manier was waarop oud-Israel God gedien het nie; trouens, dit het algaande op die agtergrond getree totdat dit heeltemal verdwyn het. Dit het mettertyd duidelik geword dat die offerdiens nie op ’n outomatiese manier die verhouding met God kan bewerkstellig en bestendig nie, maar in der waarheid ’n simboliese karakter het. En dit bring ons by die volgende aspek van diereoffers.

Derdens, ten spyte van die aversie wat die bloedige offers van die Ou Testament by moderne gelowiges oproep, moet ons probeer verstaan waaroor dit eintlik in die offerkultus gegaan het, ten minste soos dit in Israel verstaan is. Ons moet begryp dat offerandes nie bedoel was om God te paai sodat Hy nie in toorn teen die volk ontbrand nie, of om Hom met gawes om te koop en gunstig te stem sodat Hy sy gunste en gawes aan die volk sal gee nie. (Hierdie gedagte was dikwels in die heidense godsdienste teenwoordig.) Daar is veral drie elemente te onderskei wat sin verleen het aan die offerkultus. 1. Die offerdier was ’n gawe uit die kudde van die gelowige Israeliet, uit dankbaarheid vir wat die Here aan sy kinders skenk. Alles behoort aan die Here, daarom is die eerstelinge van die oes of kudde wat aan die Here geoffer word ’n erkenning hiervan. Meer nog, so ’n offer kom uit die kudde of produkte wat die gelowige nodig het vir sy lewensonderhoud. Die offer is dus eintlik ’n stuk van homself wat aan die Here gewy word. Hy verloor iets van homself, maar wen tegelyk, want so verbind hy hom aan die Gewer van alle goeie gawes. Hierby moet ook onthou word dat veral by diere wat doodgemaak en geoffer word, daar permanent afstand gedoen word van daardie gawe. Dit word onherroeplik aan God gewy, waarmee gesimboliseer word dat die offeraar niks terughou nie; alles wat hy besit behoort aan God. Hiermee hang saam dat die Israeliet geglo het dat die lewe in die bloed van die dier gesetel is (Levitikus 17:11); die bloed wat vloei was dus simbool van die lewe van die gelowige wat aan God gewy word. En wanneer die bloed gestort word by die altaar, die setel van God se teenwoordigheid, is die offeraar se eie lewe dus so in diens van God gestel. 2. Met die offerande word daar ook gemeenskap gestig met God en medegelowiges. Wanneer God die offer aanvaar, en die offeraars die oorblywende deel van die offer by ’n godsdienstige maaltyd eet, kry hulle deel aan die gemeenskap met God en mekaar. Dit was veral van toepassing by die dank-, familie- en maaltydoffers waar slegs ’n gedeelte aan God geoffer is en die res deur die offeraar geëet is. Dit bring die vreugdekarakter van die offerhandeling na vore waar offer as gawe en gemeenskap saamval. 3. Elke offer het vanweë sy aard as gawe en gemeenskapstigtende handeling tussen God en mens ook ’n versoenende waarde. Dis veral hier waar die bloed van die offerdier belangrik is; spesifiek by die sondeoffer en skuldoffer staan dit op die voorgrond. By hierdie offers vind daar geen offermaaltyd plaas nie, maar alles word op die altaar verbrand. Die offerdier se bloed wat vloei kry dan ’n plaasvervangende karakter ten opsigte van die lewe en oortredings van die offeraar. Die offer kom staan tussen God en mens en so word die verhouding tussen God en mens herstel.

Vierdens, in die tyd van die Nuwe Testament tree die fisiese offer heeltemal op die agtergrond. Hoewel die tempel in Jerusalem met sy offerkultus in die tyd van Jesus se aardse optrede nog bestaan het, word die offergedagte in die geskrifte van die Nuwe Testament eerstens betrek op Jesus se finale offer, en vervolgens figuurlik toegepas op die gelowige se diens aan God. So sê die Hebreërgeskrif (9:23-28) dat alle offers in die Ou Testament eintlik maar net ’n afskaduwing was van die offer van Jesus: Hy was nie net die volmaakte offer nie maar ook die enige en ewige hoëpriester wat vir ons blywend versoenend intree by God. En Romeine 12:1 sê dat gelowiges hulleself as lewende en welgevallige offers aan God moet gee (vgl ook Hebreërs 13:15-16). Dít is die wesenlike van ons godsdiens, en dis dieselfde gedagte wat ons reeds by die Ou-Testamentiese profete en psalmdigters teëgekom het as hulle afwysend teenoor wanopvattings rakende die offerkultus staan en die klem plaas op wat vir God werklik belangrik is: liefdesdiens aan God en naaste. Verder, as herinnering aan en ter versterking van Jesus se offer en die klem op naastediens het veral die sakrament van die nagmaal eintlik die simboliese plek ingeneem van die Ou-Testamentiese offers. Want in die nagmaal vier ons die gemeenskap met God en met mekaar, en herdenk ons die versoening wat die eenmalige offer van Christus aan die kruis bewerk het.

Met bostaande oorsig het ons probeer om die essensie van die offerkultus in die Ou Testament vas te vat en ook probeer aantoon hoe die offerkultus geleidelik op die agtergrond getree het ten gunste van die essensiële van ons diens aan God. En so vind ons dat God inderdaad ’n genadige en liefdevolle God is, dat Hy nie net mense liefhet nie, maar ook diere. Maar dit sou lank duur voordat hierdie insigte behoorlik deurgebreek het by gelowiges. Ons moet ons daarom nie blindstaar teen die bloedige aard van die Ou-Testamentiese offerdiens nie, maar oog kry vir die feit dat Israel as kinders van hulle tyd op dié manier (onder andere) uitdrukking gegee het aan hulle liefde vir en toewyding aan God. Eers mettertyd sou dit deurdring dat God nie eintlik in diereoffers belangstel nie, maar in die offers van die hart en lewe van elke gelowige. Dít is ons wesenlike godsdiens.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl