Dwaalleraars
It’s not only what we do, but also what we do not do for which we are accountable – Moliére
Dwaalleraars
Ons kry dwaalleraars dwarsdeur die verhaal van die Bybel. Hulle beklemtoning verskil, maar basies verkondig hulle iets wat van die Skrif (waarheid) wat aan ons deur Christus toevertrou is, verskil. In die Nuwe Testament kry ons dwaalleraars wat te streng is (hulle vereis dinge wat God nie vereis nie); ander dwaalleraars is weer laks (hulle onderhou nie God se vereistes nie).
In die Nuwe Testament gaan verkeerde onderrig en verkeerde gedrag saam. Dwaalleer is nie net ‘n intellektuele saak nie – dit is ook ‘n morele saak. Die teenoorgestelde is ook dikwels waar: morele foute en probleme met die leer gaan dikwels saam. Die genade van God wat verlossing bring, het immers aan alle mense verskyn. Dit voed ons op om die goddelose leefwyse en wêreldse begeerlikhede te laat vaar (Titus 2:11- 12).
Dwaalleraars moet tereggewys en stilgemaak word. Daar is sekere mense wat vals leerstellings versprei, en jy moet hulle dit verbied (1 Timoteus 1:3). Hoekom beskou Paulus dwaalleer in so ‘n ernstige lig?
- Hulle bring hele huisgesinne in beroering deur dinge te leer wat nie toelaatbaar is nie, en dit net om skaamteloos geld te maak (Titus 1:11)
- Daardeur vernietig hulle die geloof van sommige (2 Timoteus 2:18).
- En hulle woorde sal voortvreet soos kanker
- Hulle gee voor dat hulle God ken, maar hulle dade weerspreek dit (Titus 1:16).
Paulus glo dat daar hoop is vir hierdie dwaalleraars: Dit kan wees dat God hulle bekeer, en hulle tot kennis van die waarheid bring (2 Timoteus 2:25). Maar as hulle volhou op hulle verkeerde pad moet Christene niks met hulle te doen hê nie (Titus 3:10).