Engele in die Bybel (5)

Engele in die Bybel (5)

Gerubs

In die Bybel hoor ons baie meer gereeld van gerubs as van serafs. In totaal word daar meer as negentig keer van gerubs in die Bybel gepraat en dit kom met een uitsondering (Hebreërs 9:5) almal in die Ou Testament voor.

Om te verstaan wat die Bybelskrywers bedoel as hulle van gerubs praat, moet ons so ver moontlik die prentjie wat ons in ons gedagtes het wanneer ons gewoonlik aan engele dink, probeer opsy skuiwe. As die Bybelskrywers van gerubs praat, dink hulle nie aan een of ander soort engele nie. Hulle dink aan gemengde wesens wat vlerke het en as’t ware saamgestel is uit menslike en dierlike dele. Hierdie wesens word ook nie altyd op dieselfde manier voorgestel nie. So het hulle byvoorbeeld soms elkeen net een gesig, maar in ander beskrywings het hulle tegelykertyd weer meer as een gesig. Dié gesigte lyk soms soos mense se gesigte, maar in ander gevalle lyk dit weer soos dié van diere, byvoorbeeld soos die gesigte van leeus, arende of bulle. Die gerubs het soms twee bene, maar in ander gevalle het hulle vier bene.

Soos met die serafs, het ‘n mens ook in die destydse wêreld onder die volkere wat rondom Israel gebly het, afbeeldings van sulke gemengde wesens gekry. Hierdie wesens is gewoonlik met die gode of met die koning geassosieer. Soms word ‘n koning byvoorbeeld uitgebeeld met sy troon wat bo-op die gerubs is. In Assirië het ‘n mens weer by die ingange van sommige geboue groot klipbeelde gekry met menslike gesigte, dierelywe en vlerke. Dit word vandag nog in die Britse Museum in Londen bewaar. As ‘n mens na hierdie uitbeeldings kyk, kan ‘n mens min of meer ‘n idee kry van dit waaraan die Bybelskrywers gedink het toe hulle van gerubs gepraat het.

Wanneer daar in Ou Testament van gerubs gepraat word, het dit gewoonlik op een of ander manier te doen met die idee van God se teenwoordigheid of sy majesteit. Interessant genoeg word daar meestal nie na die gerubs as sodanig verwys nie, maar na afbeeldings daarvan. Let op die volgende voorbeelde:

In die tabernakel is uitbeeldings van gerubs baie gebruik. Moses het byvoorbeeld opdrag gekry dat die materiaal waarmee die tabernakel gemaak word, versier moes word met gerubs wat daarop uitgeborduur moes word. In die heel heiligste deel van die tabernakel het die ark gestaan met die twee kliptafels daarin. Die deksel van die ark moes so lyk (Eksodus 25:17-20):

Dan moet jy ‘n deksel van suiwer goud maak, een en ‘n kwart meter lank en ‘n driekwart meter breed. Maak twee gerubs van geslae goud op die kante van die deksel, een links en een regs. Die gerubs aan weerskante van die deksel moet so gemaak word dat hulle ‘n eenheid met die deksel vorm. Hulle vlerke moet uitgesprei wees oor die deksel, sodat hulle dit bedek. Die gerubs se gesigte moet na mekaar toe wees, en hulle moet afkyk op die deksel.

Hier kan ‘n mens baie mooi sien hoe die gerubs gebruik word as ‘n simbool vir God se teenwoordigheid. God sê byvoorbeeld ook aan Moses dat Hy daar in die heel heiligste deel van die tabernakel met Moses sal praat. Hy sê dan ook spesifiek aan Moses dat Hy van daar tussen die twee gerubs uit met Moses sal praat.

Later, toe Salomo die tempel laat bou het, is afbeeldings van gerubs ook ruimskoots gebruik (1 Konings 6). Teen al die mure is daar gerubs, palms en blomknoppe in die houtsneewerk uitgesny. Op die twee deure van olyfhout wat na die binneste heiligdom gelei het, het Salomo dieselfde simbole laat aanbring en dit met goud laat oortrek. In die binneste heiligdom self het hy twee massiewe groot gerubs laat maak. Hulle was vyf meter hoog met vlerke wat elkeen twee en ‘n half meter lank was. Hulle vlerke was uitgestrek sodat dit in die middel aan mekaar geraak het en aan die kant teen die mure geraak het. Later is die ark toe in die middel onder vlerke van die gerubs neergesit (1 Konings 8:6). Hieruit kan ‘n mens ook sien dat die gerubs simbolies van God se teenwoordigheid is. Dit kan ook wees dat hulle op ‘n simboliese manier aandui dat God deur hulle sy ark beskerm.

Omdat die gerubs altyd met God se teenwoordigheid en majesteit geassosieer word, kry ‘n mens in die Ou Testament ook gereeld beskrywings van God wat hieraan herinner. Hy word byvoorbeeld die Almagtige wat oor die gerubs troon, genoem (1 Samuel 4:4). Soms gebruik die Bybelskrywers ook pragtige beeldende taal oor die gerubs. Kyk byvoorbeeld na die aangrypende uitbeelding van God in 2 Samuel 22:11:

Hy het op ‘n gerub geklim en gevlieg

op die vleuels van die wind het Hy verskyn.

 

Skrywer: Prof Francois Tolmie