Engele in die Bybel (7)
Engele in die Bybel (7)
Tussen die Testamente
Engele word “ingelees” in die Ou Testament
Dat sommige mense in hierdie tyd besonder baie in engele belang gestel het, kan ‘n mens sien uit die manier waarop die verhale in die Ou Testament op ‘n nuwe manier oorvertel is.
In baie van die verhale in die Ou Testament word daar glad niks oor engele gesê nie. As die verhale dan in hierdie tyd oorvertel is, het die mense sommer self engele in verhale “invertel”. Een van die interessantste voorbeelde wat hier genoem kan word, is die boek Jubileë. Hierdie boek is omtrent twee honderd jaar voor die Nuwe Testament geskryf. Dit is geskryf asof dit ‘n geheime openbaring is wat die engele van God lank terug aan Moses op die berg Sinaï in die woestyn gegee het. In hierdie boek word al die gebeure vanaf Genesis 1 tot Eksodus 12 weer oorvertel, maar baie keer op so ‘n manier dat daar heelwat veranderinge is. Een van die veranderinge wat ‘n mens dadelik raaksien, is dat daar op baie plekke engele ingevoeg word waarvan ‘n mens niks in die Ou Testament lees nie. ‘n Enkele voorbeeld:
- In Genesis 22 (in die Bybel) word vertel hoe die Here vir Abraham beveel het om sy seun Isak te gaan offer. In die eerste gedeelte van dié verhaal word daar niks oor engele gesê nie. As hierdie verhaal egter in die boek Jubileë oorvertel word, word gesê dat dit Prins Mastema, een van die bose engele, was wat na die Here toe gekom en vir Hom uitgedaag het om vir Abraham te toets deur vir hom te sê om sy eie seun te gaan offer. Anders as wat Mastema egter verwag het, het Abraham absoluut gehoorsaam aan die Here gebly.
In ‘n boek met die naam Pseudo-Philo kry ‘n mens net sulke interessante veranderings. So word die verhaal van Dawid en Goliat byvoorbeeld op ‘n hele paar plekke verander. In plaas van vyf klippies (soos die Bybel sê) tel Dawid sewe klippies op. Op elkeen van die klippies skryf hy dan iets. Op die eerste vyf klippies skryf hy die name van sy voorvaders, Abraham, Isak, Jakob, Moses en Aaron. Op die sesde klippie skryf hy sy eie naam en op die sewende klippie skryf hy die Here se Naam. Anders as in die Bybel, lees ons in hierdie boek nog ook dat die Here spesiaal ‘n engel met die naam Zervihel gestuur het om vir Dawid by te staan toe hy vir Goliat aangedurf het. Zervihel was die Here se “Oorlogsengel“. In die Bybel word net gesê dat Dawid vir Goliat teen die voorkop met die klip gegooi het en dat hy daarna sy kop afgekap het. In Pseudo-Philo word egter vertel dat Goliat nie dadelik dood is toe Dawid hom met die klip raakgegooi het nie en nog geleef het toe Dawid by hom kom. Hy het toe vir Dawid gevra om gou te maak en hom sommer dadelik dood te maak. Dawid het toe eers vir hom gesê om sy oë oop te maak en te kyk wie hom doodgemaak het. Toe Goliat kyk, het hy die engel Zervihel gesien. Daarna het Dawid sy kop afgekap.
Die afleiding wat ‘n mens uit hierdie voorbeelde kan maak, is dat daar iewers in hierdie lang tydperk iets gebeur het wat gemaak het dat daar ‘n groeiende belangstelling in die engele gekom het. Presies wat dit was wat dit veroorsaak het, weet ons nie meer vandag nie. Party navorsers sê dit het dalk iets te doen met die feit dat die Jode so swaar gekry het in hierdie tyd en dat hulle op dié manier die gedagte wou uitdruk dat God wel vir hulle sorg al gaan dit swaar met hulle.
Engele kry name
In hierdie tyd begin dit al hoe gebeur dat engele se name genoem word. Een van die buite-Bybelse boeke uit dié tyd waarin ‘n mens name van engele kry, is ‘n boek met die naam Henog. Die boek is so geskryf dat dit lyk asof dit van Henog af kom, maar dit is nie regtig deur hom geskryf nie. Van Henog lees ons in Genesis 5:21-24.
- Uriël: Hy is in beheer van die donderweer en aardbewings.
- Rafael: Hy hou toesig oor die geeste van die mense en is ook die een wat genesing bring.
- Raguel: Hy oefen beheer oor die hemelliggame uit.
- Migael: Hy oefen beheer oor die Joodse volk uit.
- Sariël: Hy oefen beheer uit oor die geeste wat mense mislei.
- Gabriël: Hy is in beheer van die Paradys, die serafs en die gerubs.
- Remiël: Hy lei die siele van mense uit die Doderyk na die Troon van God om geoordeel te word.
Slegte engele
In die Henogboek word ook vertel van engele wat teen God in opstand gekom het. Henog gee byvoorbeeld die name van die twintig engele wat as die leiers opgetree het toe ‘n klomp engele besluit het om teen God in opstand te kom. Op ‘n ander plek noem hy ook die name van ‘n klomp slegte engele wat vir die mense verkeerde dinge geleer het (1 Henog 8). Kyk byvoorbeeld na die volgende:
- Asael het die mense geleer om swaarde en ander soorte oorlogswapens te maak. Hy het ook vir die mense gewys hoe om met goud en silwer te werk en om mooi goed vir hulle vrouens te maak – selfs ook hoe om grimering en juweliersware te gebruik.
- Semhasa het die mense geleer om te toor.
- Hermoni het die mense geleer hoe om toordery weer ongedaan te maak.
- Barakel, Kokabiel en Zikiel het die mense geleer hoe om weerlig, sterre en vuur te gebruik in towerkuns.
Henog vertel ook wat hulle straf was. Hy sê dat hy die vreeslike plek gesien het waar die engele gestraf word deurdat hulle tot in alle ewigheid gevange gehou is.
Baie verskille
Die lyste hierbo is maar net twee van die voorbeelde van dit wat oor engele in hierdie tyd geskryf is. Daar is nogal redelik baie verskille tussen dit wat die verskillende boeke wat in hierdie tyd geskryf is, oor die engele sê. Enkele voorbeelde van sulke verskille:
- Soms word gesê dat daar net twee soorte engele is: die engele van God se teenwoordigheid en die engele van God se heiligheid. ‘n Ander boek wat ook twee soorte engele noem, praat weer van die sewe “hoof-” en sewe “adjunk-“engele.
- In sommige boeke kry ‘n mens weer lang lyste van verskillende soorte engele. Een boek praat byvoorbeeld van nege verskillende soorte engele: 1. Gewone engele; 2. Aartsengele (wat op God se bevel lewe aan mens en dier gee); 3. Vorste (engele wat oor die meteore gesag het); 4. Magte (wat oor die hemelliggame toesig hou); 5. Kragte (wat oor die duiwels beheer het); 6. Volkere-engele (wat elkeen in beheer van ‘n spesifieke volk is); 7. Trone; 8. Serafs en 9. Gerubs.
• Soms word daar ook gesê dat die hemel uit verskillende “verdiepings” bestaan en dat elke verdieping sy eie groep engele het. Soms word gesê dat daar net twee verdiepings is, maar dan praat ander boeke weer van drie, sewe of selfs tien verdiepings in die hemel. In een boek word byvoorbeeld gesê dat die hemel uit sewe “verdiepings” bestaan en dat daar tien klasse engele in die sewende hemel is. Soms word nog ook gesê watter soort werk elke engel het om te doen. In sommige boeke word feitlik alles wat gebeur – weerlig, sneeu, ryp, hael, mis, die bewegings van die son, die maan en die sterre, selfs hoe dof of hoe helder die sterre skyn! – gekoppel aan die engele wat in beheer daarvan is.
Skrywer: Prof Francois Tolmie