Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Landbou(11) – Hennie Stander

Olyfolie

Groot sorg is aan die dag gele om die olyfolie te suiwer. Daarna is dit in kruike en leersakke gebêre. Olyfolie is soos botter en kookvet gebruik en was ‘n belangrike bestanddeel van die daaglikse dieet (vgl Esegiël 16:13). Dit het ook deel van die spysoffer uitgemaak (Levitikus 2:1). Voorts is dit as brandstof vir lampies gebruik (Matteus 25:3,4) en verder is dit met soda gekook sodat seep daarvan gemaak kon word. Olyfolie is in die vel, ingevryf om dit te laat blink en ook is die hoofde daarmee gesalf om die hare te laat blink.

Moontlik was dit juis die skoonheid wat deur’ hierdie olyfolie teweeggebring is, wat veroorsaak. het dat dit ook in die godsdienstige lewe ‘n belangrike plek ingeneem het. Voorwerpe wat aan God se diens toegewy is, is met olie gesalf, d.w.s. met olie gevryf. Daarom is ook profete (1 Konings 19:16), priesters (Levitikus 8:12), en konings (1 Samuel 16:13; 1 Konings 1:34) almal met olie gesalf omdat hulle spesiaal toegewy was vir diens tot God. Hierdie rituele gebruik van die olie was so belang­rik dat dit as ‘n ernstige oortreding beskou is om gewyde salfolie vir alledaagse gebruik aan te wend (Eksodus 30:32-33). So ‘n salwing van persone het ingehou dat ’n bietjie olie op die kop gevryf is. Die persoon wat sodanige salwing ontvang het, was in ‘n gesagsposisie en die nodige respek moes aan hom betoon word (1 Samuel 24:6-7): Die profeet het tot die mense gespreek oor dit wat hy van God verkry het; die priester het die volk voor God verteen­woordig, en die koning het die Wet van God tot stand gebring.

Ook die woord Messias is afgelei van ‘n Hebreeuse woord wat “salf” beteken en dit kan dus met Gesalfde” vertaal word. Jesus Christus was terselfdertyd profeet, priester en koning. Hierin is daar baie simboliek vervat. Verder is olyfolie geas­sosieer met ‘n geskenk van God en met Sy uitstor­ting van die Gees: Jesus het ook gesê dat die Gees van God op Hom was omdat die Here Hom gesalf het (Lukas 4:16-21; Jesaja 61:1).

‘n Persoon is aan God toegewy deur hom te salf omdat dit geglo is dat die olie van God afkomstig was en die handeling self is gesien as ‘n voorberei­ding tot die diens van God. Daar staan geskryf dat Christene die salwing van die Gees ontvang het (1 Johannes 2:27).

Maar olie is ook vir die genesende krag daarvan gebruik. Toe die Barmhartige Samaritaan die man, wat deur rowers aangeval is terwyl hy op pad van Jerusalem na Jerigo was, gehelp het, het hy olie en wyn op sy wonde gegooi (Lukas 10:34). Moontlik is dit juis hierdie genesende karakter van olyfolie wat gemaak het dat dit simbolies gebruik is as teken van goddelike genesing. Wanneer daar iemand onder die vroeë Christene siek was, moes die mede-gelowiges vir die siek persoon bid en horn met olyfolie salf (Jakobus 5:13-16). Ander persone glo weer dat die salwing van siekes ‘n simboliese handeling was om aan te toon dat die persoon aan God gewy word of aan Horn oorgegee word sodat God vir hom kon Sorg. In Markus 6:13 lees ons dat toe Jesus die dissipels twee-twee uitgestuur het, het hulle die siekes met olie gesalf en hulle gesond gemaak.

Verder is die olyfolie ook gebruik om skilde mee te olie (2 Samuel 1:21) om te voorkom dat die leer kraak. Dit het dieselfde funksie vervul as wat skoenpolitoer vandag doen.

Skrywer:  Prof Hennie Stander