Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Vakmanne en Bedrywe(7)- Hennie Stander
Leer- en kledingstofwerkers
Die eerste klere wat die mens gemaak het, was van velle gemaak met die diere se hare nog steeds daarop (Genesis 3:21). Later is dit van leer gemaak. Elia (2 Konings 1:8) en Johannes die Doper (Matteus 3:4) het leergordels om hul heupe gedra, soos wat al die skaapherders van daardie tyd gedoen het. Skaapherders het hul voedsel in leersakke (herderstassies) gedra. Tente is oorspronklik van diervelle gemaak, maar dit is later deur materiaal van bokhaar vervang. Verder is leer gebruik vir militêre uitrusting soos helms, skilde en slingers. Maar die leerwerkers het ook allerhande houers van vel gemaak. Wynsakke, byvoorbeeld, is van leer gemaak (Matteus 9:17). Verder was die gebruik van leer belangrik vir die maak van perkamentvelle waarop onder andere ook die manuskripte van die Bybel geskryf is (2 Timoteus 4:13).
Diervelle is tot leer gemaak deur die proses van leerlooiery. Die leerlooiers het die hare van die velle verwyder deur dit of te krap, te week en kalk aan te smeer. Die velle is in water geweek wat galneute en sumakblare bevat het. Dit is dan met hondemis besmeer en daarna is die vel geslaan of gestamp. ‘n Leerlooier was nie ‘n baie populêre man nie, vanweë die stank van die middele wat by moes aanwend om die leer te looi. In die Nuwe Testament lees ons van Petrus wat in Joppe by ‘n leerlooier met die naam van Simon tuisgegaan het (Handelinge 10:6).
Linne- en wolkledingstof is vroeg reeds ontwikkel. Onder die Jode is veral wolkledingstof baie algemeen. Nadat die wol van die skape gewas is, is dit gekam om dit so vir die spinproses voor te berei. Die spinwerk is gedoen met ‘n houtstok of spinsil met ‘n keep of hakie aan die een punt daarvan. Aan die ander end van die spinsil is ‘n gewig met ‘n gat in die middel aangesit. Hierdie gewiggie is die spinkatrol genoem en dit is van klei, klip of been gemaak.
Onbewerkte wol en skaapvelle buitekant ‘n handelaar se winkel in Hebron
Wanneer die spinner die spinkatrol ‘n vinnige draai gee met haar hand, het dit momentum aan die spinsil gegee. Die spinner het woldrade getrek uit die gewaste wol wat sy onder haar linkerarm vasgehou het, en dan het sy die drade aan die keep of hakie vasgemaak. Sy het die spinstok vinnig in die rondte laat draai en dit dan tot amper op die grond laat val. Terwyl die spinsil, met die gewiggie aan, ondertoe val en terwyl dit ook terselfdertyd al in die rondte draai, het dit ‘n woldraad uitgetrek wat in hierdie proses rondom die spinsil gedraai het. Die hele proses is keer op keer herhaal.
Kleuring
Alhoewel natuurlike kleure in die weefproses gebruik is, was dit ook moontlik om die draad te kleur. Die drade of gare is met loog en seep (Jeremia 2:22) gewas voordat dit gekleur is. Bloedrooi kleursel (Eksodus 25:4) is van luiseiers gemaak wat tot fyn poeier gemaal is. Indigo (blou) is verkry van granaatskil. Die pers kleurstof (Handelinge 16:14) is verkry van die purperslak. Die skulpe is fyn gemaak, in sout gekook, en in die son gelos sodat die vog daarvan pers kon word (vgl ook Numeri 15:38; Ester 8:15). Maar ook blou kleurstof kon van die purperslak gemaak word deur bloot ‘n ander bymiddel by te gooi gedurende die kookproses. In Egipte is geel kleurstof uit die saffloerplant vervaardig maar die Romeine het dit van die saffraanblom gemaak. Die kleurstowwe is gemaak deur ‘n oplossing van water, potas en kalksteen te maak. Na twee dae is die kleursel bygegooi en die kleuring is in erdepotte of klipbakke gemaak. Nadat die draad of vel gekleur is, is dit in skoon water gewas en opgehang om droog te word.
Skrywer: Prof Hennie Stander