Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Regering en Samelewing (5) – JP Louw
Die regters
In die dae voor die koningskap was elke stamhoof of leier ‘n regter in sy eie reg. So het Josua vir Akan verhoor en veroordeel (Josua 7:19-20). Later was daar profete wat reg gespreek het soos Samuel, wat selfs rondgegaan het en regsake aangehoor het (1 Samuel 7:15-17). Dan was daar ook weer die plaaslike oudstes wat in die poort gesit en regspraak gelewer het (Deuteronomium 21:18-21). Toe die koningskap gekom het, was regspraak een van die funksies van ‘n koning (2 Samuel 12:1-6, 15:2-4, 1 Konings 3:16-18). Moses het reggespreek, maar ook persone aangestel om minder belangrike sake te verhoor (Eksodus 18:25-26). In Deuteronomium 16:18-20 word verdere voorskrifte gegee oor regters en amptenare wat aangestel moet word om reg te laat geskied. Later het dit meegebring dat regters oral aangestel is, spesifiek vir regspraak, soos koning Josafat gedoen het (2 Kronieke 19:5-7).
In Jerusalem weet ons uit die Nuwe Testament dat daar Joodse howe was wat bestaan het uit priesters, skrifgeleerdes, uit Leviete en uit familiehoofde (oudstes) wat in die stad regspraak gedoen het oor verskeie sake wat die Joodse gebruike en tradisies geraak het. Die Romeine het dus binne hulle eie oorkoepelende reg ‘n mate van eie regspraak oor kleiner sake toegelaat. In Handelinge 4:5-7 word so ‘n raad wat mense verhoor het, beskryf. Hierdie raad was dus in wese die Sanhedrin waarvan die volle lede uit 71 persone bestaan het, die hoëpriester en sewentig lede uit owerpriesters, familiehoofde, skrifgeleerdes, ens.
‘n Besondere faset van regspraak was die borslap, of beter borssak, wat die hoëpriester gedra het wanneer by uitspraak gelewer het. Eksodus 28:15-30 beskryf die maak en uitleg van die borssak waarin twee voorwerpe geplaas is tydens die uitspraak. Hierdie voorwerpe, genaamd urim en tummim (Eksodus 28:,30), was blykbaar die simbool van God wat as regter spreek deur die hoëpriester. Wat die voorwerpe presies behels het, is onbekend.
Skrywer: Prof JP Louw