Gog en Magog – Hermie van Zyl
‘n Leser vra:
Ek het geleer dat aan die einde sal die dorpe probleme veroorsaak en dat dit hoofstede van die wêreld sal word. Vertel my asb meer van die dorpe en hoe dit in die geskiedenis van die Woord inpas.
Antwoord
Prof Hermie van Zyl antwoord:
Ongelukkig het ek geen inligting omtrent die vraag oor die dorpe en stede aan die einde nie. Ek weet ook nie hoe dit inpas by die onderwerp van God en Magog nie. As die vraagsteller meer inligting gee oor wat presies sy geleer het rakende die “dorpe” en “hoofstede van die wêreld” en hoe dit inpas by die “einde”, kan ek miskien daarop reageer. In my antwoord hieronder konsentreer ek dus slegs op Gog en Magog, waaroor daar wel iets gesê kan word.
Ons lees van Gog en Magog hoofsaaklik op twee plekke in die Bybel: Esegiël 38-39 en Openbaring 20:8. In laasgenoemde geval word gepraat van die Satan wat na sy gevangenskap tydens die duisendjarige vrederyk, losgelaat word en dadelik begin om die nasies oor die hele aarde te verlei en bymekaar te maak om teen die gelowiges oorlog te maak. Hierdie vyandige nasies word die Gog en Magog genoem en hulle tree dus as handlangers van die Satan op. Hulle kry egter nie eens kans om die gelowiges aan te val nie, maar word terstond deur vuur uit die hemel verteer (Op 20:9).
Die agtergrond vir Openbaring se Gog en Magog vind ons in Esegiël 38-39. Dit is duidelik dat die outeur van Openbaring by hierdie gegewens uit die Ou Testament aansluit. Maar hy verander die inhoud effens, hoewel die hoofgedagte behoue bly. Waar Gog en Magog in Openbaring op die vyandige nasies dui, is Gog in Esegiël waarskynlik ’n persoon en Magog ’n land. Gog is die regeerder van Mesek en Tubal, stede of gebiede in die land Magog. Hierdie plekke moet waarskynlik in die verre noorde van die destydse Babiloniese Ryk gesoek word, min of meer suid-oos van die Swart See, in die destydse Klein-Asië, vandag Turkye. Hulle is tradisioneel as ’n permanente bedreiging vir Israel beskou. Volgens Esegiël probeer Gog dan ook sy bes om Israel na dié se ballingskap verder in die grond te trap. Maar Esegiël 38-39 beskryf hoe God paal en perk stel aan hierdie tradisionele vyande van Israel. Hulle sal niks kan uitrig nie; uiteindelik sal hulle begraafplaas in Palestina gevind word (Eseg 39:11). Die boodskap is duidelik: God sal nie toelaat dat sy volk verder verneder word deur Gog nie. God het weliswaar sy volk gestraf deur hulle in ballingskap te laat wegvoer, maar die straf is nou verby. Nou is dit weer die tyd van die heropbou van Israel, daarom sal God sorg dat die boosaardige vyande van die noorde se moorddadige militêre veldtog teen Israel nie slaag nie.
Hierdie hoofgedagte vind ons basies terug in Openbaring 20. Hoewel die Satan die nasies (Gog en Magog) teen die gelowiges sal opkommandeer, sal daar niks van sy planne kom nie. Hulle sal ’n vinnige dood sterf as daar vuur uit die hemel op hulle neerdaal. Die uitslag van die finale slag word deur God bepaal; dit lê in sy hande, nie by die Satan nie. Dit moes ’n ontsaglike troos vir die destydse gelowiges ingehou het: Net soos die Ou-Testamentiese gelowiges beskerm is teen die destydse verteenwoordiger van die bose magte wat Israel se ondergang gesoek het (Gog), so sal die Nuwe-Testamentiese gelowiges ook in die finale stryd teen die bose (Satan en die magte van Gog en Magog) beskerm word.
Deur die eeue was daar talle pogings gewees om Gog en Magog te identifiseer met eietydse nasies of gebiede. Byvoorbeeld, in die antieke tyd is hulle in verband gebring met onder andere die Etiopiërs, Skitiërs en Romeine. In meer moderne tye is hulle weer geïdentifiseer met Asië en Rusland. Maar dit bly alles spekulasie. Dit bly die beste om te sê dat Gog en Magog ’n antieke simboliese aanduiding is van die bose wat ’n bedreiging vir die gelowiges inhou, maak nie saak in watter tyd die gelowiges hulle bevind nie. Maar die troosboodskap is dat die finale beslissing in God se hande is.
Skrywer: Prof Hermie van Zyl