Hebreërs 10 – ‘n oorgang
Child of God, you cost Christ too much for him to forget you. —C.H. Spurgeon
Hebreërs 10 – ‘n oorgang
Hebreërs 10 bring baie van die vroeëre argumente in die boek saam, terwyl dit met nuwe argumente na vore kom. Daar is ook ‘n duidelike oorgang by vers 19. Die balans tussen verduideliking en vermaning verander – daar is nou meer vermaning en minder verduideliking.
Die opsomming van die vorige onderrig kry ons in vers 1: Die wet van Moses is slegs ‘n skadubeeld van die weldade wat sou kom, nie ‘n werklike beeld daarvan nie. Voortdurend, jaar na jaar, word dieselfde offers gebring, en tog kan die wet dié wat die offers bring, nooit volkome van sonde vry maak nie. Die wet van Moses verwys na die volledige wetsverbond insluitend die tabernakel, priesterlike sisteem en offers.
In teenstelling hiermee lees ons in vers 19 – 20: Broers, ons het dus nou deur die bloed van Jesus vrye toegang tot die heiligdom, en dit op ‘n weg wat nuut is en na die lewe lei. Hierdie weg het Hy vir ons gebaan deur die voorhangsel heen, dit is deur sy liggaam. Dit lei tot vyf baie belangrike stellings:
- Laat ons tot God nader (vers 22). Omdat so ‘n groot en finale offer vir ons gebring is, moet ons daarvan gebruik maak deur die heilige God met ‘n opregte hart en met volle geloofsekerheid te nader.
- Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely (vers 23). Wat Christus aan die kruis bereik het, is die vervulling van die modelle en voorspellings van die Ou Testament. Die hoogtepunt lê nog voor. Hierdie hoop is verseker, want God is getrou: Hy doen wat Hy beloof het.
- Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade (vers 24). Christene leef nie in isolasie nie, maar leef in die geloofsgemeenskap en eendag leef ons in die gemeenskap van die hemelse stad.
- Dan ‘n negatiewe stelling: Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly nie (vers 25). As ons werklik die omvang van die verlossing waaraan ons deel het, begryp, sal ons ons nie onttrek nie.
- Samevattend: Laat ons mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom. Almal van ons word soms moeg, maar dan moet ons onderneem om mekaar aan te moedig.