Hoe weet ek wat God se wil is?
Thinking deeply about the gospel is the only way to consistently feel deeply about the gospel. —C. J. Mahaney
Hoe weet ek wat God se wil is?
Hoe kan ons God se wil vir ons vasstel? In die Skrif kry ons drie beginsels.
1. Soek raad
In die Spreuke-boek kry ons gereeld oproepe om wysheid te soek, maar ons lees ook dat die pad na wysheid loop deur die soeke na raad by diegene wat reeds wys is. In die dwaas se oë is sy eie pad die regte; wie wysheid het, luister na raad (12:15. Kyk ook na 11:14, 13:10, 15:22, 19:20; 15:2).
Hoe meer verreikend die besluit is, hoe belangriker is dit om raad te vra. Hierdie beginsel kry ons duidelik uit die verhaal van Jetrro se besoek aan Moses, sy skoonseun, in Eksodus 18. Moses vertel vir Jetro wat hy alles doen. Die volgende dag gaan Jetro kyk na wat Moses doen. Hy vra vir Moses: Waarom doen jy die volk dit aan? Jetro sê vir Moses wat hy besig is om te doen is nie reg nie. Daar moet ‘n duidelike werksverdeling kom – Moses moet bekwame manne kry om van sy take te doen. Moses moes leer om te delegeer. Jetro gee selfs ‘n kort beskrywing van die soort mense wat Moses moes soek. Dan lees ons: Moses het na sy skoonpa geluister en gedoen wat hy gesê het.
Die lewe is soms meer ingewikkeld. Eeue na Moses lees ons die verhaal van Absalom wat in opstand teeen Dawid kom. Dawid moes uit Jerusalem vlug. Moet hy nou vir Dawid agtervolg of moet hy eers sy mag konsolideer? Hy het twee raadgewers. Agitofel was Dawid se top raadgewer, maar nou is hy aan Absalom lojaal. Hy beveel aan dat Dawid onmiddellik agterna gesit word en verslaan word. Gusai was ‘n vriend van Dawid, maar sit in Absalom se binnekring. Hy doen hom voor as iemand wat bereid is om vir Absalom raad te gee. Gusai se raad is dat Absalom voorlopig niks doen nie. Absalom volg sy raad – die verkeerde raad, want kort daarna sterf Absalom en Agitofel hang homself op (2 Samuel 15 – 18).
Almal van ons het raadgewers nodig, maar ons moet die raad wat ons kry versigtig oorweeg.
2. Oorweeg die raad wat jy kry
In 1 Konings 12 lees ons die verhaal van Rehabeam en die skeuring van die ryk. Na Salomo se dood kom die volk na Rehabeam en vra verligting van die swaar las wat op hulle geplaas is – hoë belastings, dwangarbeid, ens. Rehabeam konsulteer twee groepe mense:
- Die ouer mense. Hulle beveel aan dat Rehabeam gehoor gee aan die versoeke van die volk.
- Die jonger manne. Hulle beveel aan dat hy hulle verpligtings vermeerder. Hy moet die volk laat besef dat hy die koning is.
Rehabeam aanvaar die raad van die jonger manne – die verkeerde keuse. Dit lei tot die skeuring van die ryk.
Hoekom lyk dit vir ons uit hierdie verhale asof daar slegte raad van God kom? Gusai se raad lei tot Absalom se dood; die jonger manne se raad aan Rehabeam lei tot die skeuring van die ryk. In 2 Samuel 15:31 bid Dawid: Here, laat daar tog niks kom van Agitofel se raad nie. God luister na Dawid se gebed en Absalom neem ‘n dwase besluit. In 1 Konings 12:15 lees ons: Die koning het nie aan die versoek van die volk voldoen nie. Dit was ‘n beskikking van die Here … Absalom en Rehabeam se aanvaarding van slegte raad werk na God se groter doel. God se wil word gedoen.
Wat leer ons hieruit?
- Dit is reg om raad by God se mense te vra, maar ons moet altyd die raad versigtig oorweeg.
- Ons moet begin deur te vra waarom ons raad wil hê? Wat is ons motief? Is dit om soos Absalom en Rehabeam ons eie ego te bevorder? Of is dit om God se heerlikheid te bevorder? As dit oor my sukses en selfverheeliking gaan, kan ons nie verwag dat ons gaan slaag nie.
- Evalueer die raad wat jy kry
Die Nuwe Testament voeg nog by hierdie hierdie wysheid om die raad wat ons kry, te evalueer.
- In Galasiërs 2:11 – 14 wys Paulus vir Petrus tereg. God kan ‘n persoon gebruik om ‘n ander tereg te wys. Paulus dring daarop aan dat ons ons geloof eerlik, deursigtig en reguit moet beoefen. Dit beteken ons optrede moet met ons woorde ooreenstem. In Handelinge 10 lees ons van Petrus se besoek aan Kornelius. Daar besef Petrus dat nie-Jode ook deel van God se koninkryk is. Hy eet saam met hulle. Maar toe ‘n groepie Joodse gelowiges daar aankom, onttrek Petrus hom. Hy soek nie konfrontasie nie. Vir Paulus was dit misleiding en hy verset hom openlik teen Petrus omdat sy optrede duidelik verkeerd was. Beide Petrus en Paulus gaan voort met sendingwerk. Petrus het Paulus se teregwysing gehoor en verander.
- Soms mag selfs die eenparige raad van God se mense ons nie lei in die rigting wat God aandui nie. In Handelinge 20:22 sê Paulus vir die ouderlinge van Efese dat hy na Jerusalem toe gaan gedring deur die Gees. Wat daar met my sal gebeur, weet ek nie. In Handelinge 21 lees ons van verskeie groepe wat Paulus afraai om na Jerusalem te gaan: die gelowiges in Tirus (21:4), die profeet Agabus (21:11) en die mense wat saam met Paulus was (21:12). Eenparig teen Paulus se besluit. Tog gaan Paulus na Jerusalem. Soos verwag was daar probleme. Maar dit is ook hoe Paulus uiteindelik in Rome gekom het – die stad waarheen God hom gestuur het. Met ons hart gerig op Jesus moet ons soms die raad van goeie, gelowige vriende verwerp.