Hoop sonder geloof en liefde, wat geleef word, is nikswerd – Johann Voges

image_pdfimage_print

1 Korintiërs 1231 – 14 1

ʼn Allerbeste ‘boere’Raat

Johann Voges 2020

Die heel beste ‘boere’raat om grendeltyd gesond enduit mee te deurleef

en agterna in die onderstebogeit van ons wêreld weer sinvol te begin leef

daarvoor is daar basies net een baie goeie raat van paradystyd af al…

sorg dat jy elke dag genoeg skeute ‘liefgehê wees’ inkry by al

Hoe meer gereeld, hoe beter en so ʼn bietjie ekstra net vir ingeval!

Met eg ‘liefgehê wees’ sal jy nooit enige oordosering’s newe effek beleef

net die vals selfsugtige ene bly soms soos modder aan mens vaskleef

 

Om ‘liefgehê te wees’ is iets waaroor almal praat en genoeg van wil hê

ma’ wat’s daai ‘iets’ wat ek so nodig het om goeie gesondheid te kan hê?

‘Liefde’ is die mees verslete, vuilgevat en opgebruikste entjie woord…

dis van kansels af opgepreek, uitgeblêr in menige minneliedjiekoor

dan gebruik elkeen die woord met ʼn eie verstaan van wat ek wil hê.

Tog is dit die enigste woord wat ek… ‘ek gee rêrig om’… mee kan sê

Daar’s nie so iets soos verskillende soorte liefde vir wie of wat ookal

die enigste verskil is die manier hoe ek wys ‘ek gee om’ dis eintlik al

 

Die gevaarlikste ‘virus’ wat liefde dodelik siek kan maak… is ‘vrees’

… vir alleenwees en oudraak of daai gevoel van onveilig wees

… nie raakgesien te word vir wie jy is of alleen siek te moet wees.

Liefde in my raak die dag wakker waar ek kan raaksien en waardeer

…dit wat heel en mooi en goed is in alles en almal wat om my bestaan

…bewus te raak van heilige grond waarop ek gereeld verstom staan

Ek kan die Here en ook alles en almal om my liefhê en waardeer

omdat ek weet dat ek eerste liefgehê is, lank voor my liefhê probeer.

 

Die verleentheid as my vermoë van glo, hoop en liefhê verward raak

Ons almal lees en ken 1 Korintiërs13 vir die mooi woorde wat Paulus hierin oor liefde te sê het, maar om werklik die bedoeling daarvan reg te ver­staan moet ʼn mens dit binne die konteks lees waarin hy dit destyds geskryf het. Hierdie hoofstuk oor liefde, geloof en hoop vorm eintlik deel van Paulus se ‘raaspreek’ wat al hier in die vorige hoof­stuk12 begin tot einde van die hoofstuk hierna14. Miskien is dit dalk eerder meer ‘n soort ‘hart­seer’- as ‘n ‘raas’preek oor die ver­deeld­heid wat die genade gawes onder die lid­mate in Korinte veroor­saak het. Die bedoeling van al die verskillende genade gawes wat die Here vir elkeen gegee het soos wat hulle nodig het om ʼn verskil in hul gemeente te kon maak, het in plaas daarvan ʼn tipe gods­diens­tige snobgeit onder die Korintiërs veroor­saak so asof sekere gawes jou be­langeriker en ouliker laat lyk as dié wat dit nie het nie1 Korintiërs 12.

 

Die gawes wat veronderstel is om van hulle  ʼn bruikbare christene te maak het hulle in onverduurlikes verander as gevolg van die misbruik van hierdie gawes. Dis amper soos hierdie ‘tong innie kies’ storie wat vertel word van ʼn akteur wat die rol van Jesus in ʼn passie­spel moes vertolk. Terwyl hy êrens in die toneel so met die kruis die heuwel uit sukkel, is daar ‘n toeris wat nou behoorlik daarop uit was om sy siel te versondig deur die gek met hom te skeer en allerhande simpel op­merkings te maak oor hoe hy die rol vertolk. Op ‘n punt kon die akteur dit net nie meer vat nie en gooi die kruis net daar op die grond neer en loop daai toeris storm en slaan hom onderstebo. Daarna loop vat hy toe weer die kruis en gaan met sy toneelspel aan asof niks gebeur het nie. Na die passie­spel het die regis­seur hoogs ontsteld die akteur die leviete voorgelees … jy kan mos nie die rol van Jesus wil vertolk en dan ouens wat jou irreteer met die vuis bydam nie… Jesus sou nooit so iets gedoen het nie. Na baie eksuus- en jammersê herhaal daaiselfe moei­lik­heid hom presies netso die volgende dag, waarop die regisseur toe besluit om die akteur die trekpas te gee. Na baie mooivra kry hy toe nog ʼn kans omdat die geld wat hy hier­mee verdien het vir hom om den brode ­gaan. Die volgende dag is die spotter weer daar maar die akteur het hierdie keer rêrig so al wat hy kan probeer om hom nie aan die verpesting te steur nie. Soos wat die ou aangaan en aanhou kan gn mens se kwaadmeter dit uitstaan nie, maar hy gooi nie die kruis neer nie, loer net so onder die dwarsbalk deur en vir sê vir daai spotter… hou maar aan met jou nonsense, ek kry jou na die opstanding.

 

So kom daar dikwels tye dat ek as Christen langs die pad my kruis neergooi om eers my probleme reggeslaan of geskel te pro­beer kry. Daai gevoel van ek probeer om vir jou lief te wees, maar ek hou gladniks van jou nie omdat jy alewig ʼn kwaadgeit uit my irreteer wat ek nie weet hoe om te hanteer nie… ek weet dat ek glo maar jou simpel vrae is besig om my geloof in flarde te skeur… ek hou vas aan die hoop wat ek het maar almal se wanhoop om my laat my al meer wonder of ek nie dalk die kat aan die stert beet het nie.

 

Hoe behoort my omgee vir ander mense te wees…

Wat sou Paulus bedoel met die hierdie liefde wat ek nodig het om ook met jou klaar­gekom te kan kry sonder om my kruis te wil neer­gooi oor die kwaadgeit wat elke keer in my wil oorkook oor alles wat om my verkeerd en stukkend loop raak het? Vir baie is liefde ʼn manier om uiting te gee aan daai gevoel wat jy voel wat jy nie weet wat jy voel as jy dit die slag voel nie… verliefdgeit noem ons dit party­keer. Jy onthou mos nog daai gevoel toe jou geliefde so diep in jou oë gekyk het en jy kon voel hoe jou bloed daarna in eno’s ver­ander. Of is liefde dalk hierdie hyg gevoel wat jy oral in die Hollywood flieks kry met daai gekafoefel wat die stoom so op hulle laat uitslaan. Wat is liefde rêrig as dit dan veronderstel is om meer te wees as net ‘n deurmekaar-gevoel of hierdie weird Holly­wood benoudgeit? Is dit dalk iets senti­men­teel of geheim­sinnig soos die valen­tine liefde­­koors wat ons soms net in Februarie maande kry? Volgens Paulus het ons almal die ver­moë gekry om te kan liefhê. Daar is nie ver­skillende soorte liefdes­ver­moëns nie, dis maar net dié een gawe wat ek het waar­mee ek my ouers liefhet en waarmee ek die Here liefhet en vir jou of vir wie ook­al… al wat rêrig verskil is die manier waarop ek dit elke keer wys. Ek wys my liefde vir my kinders anders as wat ek dit vir my vrou wys of ek wys my liefde vir die Here anders as wat ek dit vir jou of enige iemand anders wys. My liefde vir myself wys ek anders as wat ek dit vir ʼn vreemdeling sou wys wat ek nie ken nie. Paulus se kommernis hieroor… hoe wys ek my vermoë om te kan liefhê sonder dat dit siek of verkeerd oorkom? Natuurlik is die vraag netso van toepassing op my vermoë om te kan glo en te hoop opgrond van wat ek sê ‘ek glo’!

 

Jy word waardeer en respekteer vir die manier waarop jy jou omgee wys

In 1 Korintiërs13 lees ons van Paulus se hartseer oor die Korinte gemeente… mooi vroom mense wat Sondae die kerkbanke volsit… talent­volle mense wat dinge in die lewe laat gebeur, maar op ʼn manier mekaar bloed­neus slaan, soos die akteur van die passie­spel, omdat hulle nie met mekaar klaargekom kry … want elkeen dink hulle is ouliker as enige ander ene oor die gawes wat elkeen het of nie. In Paulus se woorde… tussen al daai vroom- en oulikgeit het die heel belangrikste gawes, geloof en hoop en liefde êrens soek loop raak. Waar dit in enige gemeente gebeur, maak nie saak hoe vol die kerk­banke sit of met watse vroom gesigte almal oral rondloop nie… die dag as jou geloof, hoop en liefde siek raak… is dit ‘n helse krisis vir almal en vir jou inkluis.

 

My werdgeit as christen word gewys in die manier hoe ek myself, die Here en ander mense liefhet… anders gesê… wys my die manier waar­op jy die Here liefhet… wys my die manier waarop jy vir jou naby of ver mense omgee… wys my die manier waar­op jy jou ouers res­pekteer; wys my die manier waar­op jy ander mense waar­deer, veral die wat nie dink en lyk soos jy nie… wys my die manier waarop jy met jou buurman of die ou op straat praatwys my hoe jy dit wat jy sê jy glo geleef kry ook daar waar niemand dit raaksien nie… wys my watter hoop daar in jou steek as almal om jou kerm en kla oor alles wat verkeerd en stukkend loop raak het … en ek sal jou kan sê of jy weet wat dit beteken om rêrig ‘n Christen te wees of nie.

 

Dis Paulus se kommer oor die gemeente in Korinte, nie hul oulik- of vroom­geit nie, maar wat hulle aanvang met hierdie vermoëns wat die Here vir elkeen van ons gegee het om te kan omgee vir mekaar of vir enige iemand anders … om te bly glo ten spyte van alle ongeloof en te bly hoop al word niks waar van jou geloofsoortuigings nie. In Paulus se woorde… ‘hoekom is dit vir mense nie meer lekker om saam met julle te wil wees nie… waarom voel mense on­veilig waar julle bymekaar is?’1 Kor 13:4 Soos iemand dit op ʼn kol gestel het ‘people will not care how much you know, until they know how much you care!’ Of in die woorde van die Franse skrywer Danté… die pro­bleem is nie dat mense mekaar nie meer liefhet nie, die probleem is mense gee nie meer om nie. Dis dalk waar­om moeder Teresa op ʼn dag gesê het… ‘ons dink dat ar­moe­de te doen het met die mense wat honger is, nie klere het om aan te trek of ’n huis het om in te woon nie, na­tuurlik is dit ’n pro­bleem op sy eie, maar die grootste ar­moede is as mense jou nie wil hê nie… jou nie liefhet nie en nie vir jou wil sorg nie’.

 

Kom ek probeer dit vir jou so verduidelik, liefde, net soos geloof en hoop, is gawes wat die Here aan elkeen van ons gegee het. My vermoë om iemand anders te kan vertrou (geloof); my vermoë om na iets te kan uitsien wat ek in my geloof raakgesien kry (hoop); my vermoë om vir iemand anders te kan omgee (liefde)… dis almal gawes wat elkeen van ons het. Dis nie soos die genade gawes in hoofstuk12 waar daar vir verskillende mense ver­skillende gawes gegee word om hul spesifieke ver­ant­woordelikheid in die gemeente te kan nakom nie. Wat ontstel Paulus hier… as ek die dag begin dink dat enige van hierdie vermoëns of gawes, wat of ons almal of net ek het, be­doel was om my oulik of vroom te laat lyk, is dit nag. As ek byvoorbeeld net myself vertrou, net uit­sien na dit wat my blymaak of oulik laat lyk en net vir myself en my eie goeters omgee… dan sê Paulus, het my ge­loof, hoop en liefde siek en niks­werd loop raak. Dis hoekom hy so geweldig ontsteld is oor ­die liefde­lose self­ge­sentreerdgeit onder die gemeentelede in Korinte. Dit plaas nie net ‘n vraag­teken oor hul geloofwaardigheid as Christene nie, maar veroor­saak ook aller­hande onnodige rusies en tou­trekkery onder mekaar oor wie dan nou kamma die belangrikste of oulikste onder hulle is in terme van die soort en hoeveelheid gawes wat jy ont­vang het of nie.

 

Geloof en hoop werk nooit sonder omgee nie

Oor die belangrikste gawe wat elkeen van ons ontvang het, die ver­moë om te kan liefhê of om te kan omgee is daar drie dinge om te weet sê Paulus…

1 om te kan liefhê maak oral die verskil wat nodig is, daarom is ‘n kerk waarin liefde nie uitgeleef word nie met nikswerd ­gods­diens speletjies besigvs 1‑3. Nie wat ek en jy alles met ons mooi getuienisse of groot uitreik­aksies regkry vorm die hartklop van ‘n ge­meente nie, maar hoe ons vir mekaar omgee en ruimte gee vir mekaar se andersheid, is wat op die ou end rêrig die verskil maak.

 

  In vers 1 – 3 noem Paulus allerhande godsdienstige ge­bruike wat volgens die Korintiërs van ‘n mens ‘n goeie Christen sou maak. As ‘n mens dit kon doen het hulle gedink sal jy definitief met musiek en blomme by die hemelpoort verwelkom word. Die probleem is nie die hê van die gawes nie, maar as jy enige van die gawes wat jy het, nie in liefde kan uitleef nie, beteken jou gawes hê absoluut niks nie… dan het jy eintlik ʼn ‘gawe’ ver­leent­­heid vir almal geraak… natuurlik jouself inkluis!

 

2 My vermoë om lief te kan hê is bedoel om geleef te raak teenoor almal om my elke dag en waar ek dit regkry, word ‘n stukkie hemel op aarde waar vs 4‑7. Liefde word gewys in hoe ek bereid is om vir die mense om my soms ten koste van myself plek te kan maak… ‘n stuk ruimte te gun om hul­leself te kan wees of anders te wees as wat jy eintlik van hulle verwag het om te wees. Liefde vra… hoe goed kry ander mense met my klaar­gekom… is dit vir hulle rêrig lekker om by my te kan en wil wees.

 

3 Daar is ook iets van ʼn vir altydgeit in liefde. Eendag, sê Paulus gaan al die goeters wat ons nou so graag wil wees en hê, nie meer belang­rik wees nie vs 8‑13. Vir die gemeente in Korinte ʼn bitter pil om te sluk. Want vir hulle was sekere gawes belangriker as ander, veral die wat hulle gedink het jy nodig het om jou vromer en ouliker as ander te laat lyk. Soos om goed te kan preek of om enige Bybelteksvers te kon verklaar of om in onverstaan­bare tale te praat of om mense van allerhande siektes gesond gebid te kon kry… wie dit kon doen het hulle gedog loop met ʼn engelestralekrans oral rond… maar al wat hulle daarmee reggekry het, was om mekaar se vlerke geskroei te kry.

 

Vir Paulus is dit nie belangrik hoeveel of watter klomp gawes jy alles het of nie het nie, maar wat maak jy met die hoop, geloof en liefde wat jy daarmee­saam gekry het. Want al die opgaar en bymekaarmaak van allerhande gawes dra nie regtig enige permanente karakter van die hemel nie, maar die liefde wel. Daarvoor gebruik Paulus twee voor­beelde om dit te verduidelik… die eerste voorbeeld fokus op die verskil tussen die optrede en belang­stelling van ‘n kind teen­oor dié van ‘n volwas­sene… die Korintiërs mag nou miskien voel dat sekere gawes alles is, maar eendag by die weder­koms, sal hul­le “grootword” en dan insien dat al die verskillen­de gawes nie so belang­rik was as wat hulle daar­van probeer maak het nie… dan besef dat liefde toe al die tyd belangriker as enige ander gawes is wat daar kan wees.

 

Nog ‘n voorbeeld ons kennis en insig in dinge is nou maar beperk en indirek ons raai eintlik maar die meeste van die tyd oor die dinge wat ons probeer verstaan of wat ons dink ons weet. Maar een­dag met die wederkoms sal ons besef hoe belangrik ge­loof, hoop en liefde toe al die tyd was.

 

Baie mense sukkel vandag om te verstaan dat daar ‘n God van liefde kan wees as die wêreld so deur­mekaar lyk. Ons leef in chaos nie omdat die Here nie meer omgee nie, maar omdat ek kort kort die kruis wat ek moet dra, neersmyt om te probeer regtimmer wat my irreteer… wat help dit ons praat van ‘n God van liefde maar ek en jy wat ver­onderstel is om ʼn voorbeeld te wees van hoe hierdie liefde moet lyk, kan nie eers met mekaar ordentlik oor geloof en hoop gepraat kry sonder om daaroor aan die stry te raak nie. Wat help dit ek gebruik gereeld nagmaal om te dink aan hoe­kom Jesus sy kruis gedra het terwille van my kind van God te kan wees, maar ek gooi kort-kort my eie kruis neer om met my vuiste dinge reg te slaan of met my bek dinge reg geskel te kry en dan ewe vroom daarna my kruis weer te wil loop optel en maak asof niks gebeur het nie.. omdat ek allerhande ander gawes het wat moet kompenseer vir my gebrek aan geloof, hoop en liefde.

 

Die dag as ek in my lewe begin ervaar dat ek liefgehê is, deur die Here en die mense om my… dat ek gerespekteer en vertrou word vir die manier wat ek geleef kry wat ek sê ‘ek glo’… die dag as ek dit ook kan regkry om vir ander mense hoop te gee omdat hulle dit in my manier van lewe raakgesien kry … dan het dit ‘hemel op aarde’ geraak!

Skrywer: Dr Johann Voges

ʼn hoofstuk aanhaling uit: Miskien is daar hoop. Johann Voges 2020. CLF, bladsy 155 – 163

image_pdfimage_print

You may also like...