Is Christene onverdraagsame haters?
Small numbers make no difference to God. There is nothing small that God is in. —D.L. Moody
Is Christene onverdraagsame haters?
Christene ontvang allerhande neerhalende etikette – arrogant, eksklusief, dogmaties, homofobies, ens. Maar daar is twee etikette wat uitstaan: onverdraagsaamheid en haters. Oënskynlik sien ons moderne wêreld teregwysing oor verkeerde gedrag as ‘n vorm van haat. So ‘n situasie kan gelowiges ontmoedig – dit mag lei tot wanhoop en gelowiges mag dink die kerk gaan donker dae binne.
Miskien sal ‘n historiese perspektief ons help. Hierdie etikette is reeds aan die vroeë Christene geheg.
- Plinius die Jongere: Christene is onverdraagsaam
In die Grieks-Romeinse wêreld was daar baie gode – elke groep het sy eie gode gehad. Baie selde het mense teen die bestaan van hierdie gode beswaar gemaak. Die vroeë Christene het in een God geglo en het geweier om aan die standaard godsdienstige praktyke van die Romeine deel te neem. Vir die Romeine was dit ‘n deurlopende frustrasie. Plinius was die goewerneur van Bitinië. Tussen 111 en 113 skryf hy aan die keiser, Trajanus. In die brief kla hy oor die hardkoppigheid van die Christene – hy was kwaad oor hulle onverdraagsaamheid. Hoekom is hy ontsteld? As gevolg van die invloed van die Christene word die heidense tempel verlate en daar was min mense wat die offerdiere wou koop. Kortweg: hulle was besig om geld te verloor.
Sy oplossing was om Christene te dwing om die heidense gode te aanbid en om God te vervloek. Sou hulle weier, sou hulle doodgemaak word. Hy besef dat ware Christene nie hierdie dinge kon doen nie. Plinius, terwyl hy die Christene martel, erken hy hulle hoë morele standaarde: “Christene bind hulle met ‘n eed om nie bedrog te pleeg, te steel, owerspel te pleeg nie. Hulle sal nie ‘n vertroue in hulle gestel weier as hulle daarvoor gevra word nie.”
Dus: onverdraagsaamheid van die Romeinse gode is genoeg rede om Christene dood te maak ten spyte van hulle heilige lewens.
- Nero: Christene is haters
Nero was bekend vir sy vervolging van Christene. Tagikus, die bekende Romeinse geskiedskrywer vertel dat hulle deur honde verskeur is, gekruisig is, op die brandstapel gesterf het, ens. Watter misdade het hulle gepleeg om sulke behandeling te verdien. Weereens het hulle geweier om die gode en die godsdienspraktyke wat daarmee gepaard gegaan het, goed te keur. Tagikus sê hulle is doodgemaak weens hulle “haat teen die mensdom.”
Die verhale van Plinius en Nero is bemoedigend, maar ook skrikwekkend. Skrikwekkend, want dit klink nogal na die taal en aanklagte wat Christene vandag hoor. Hulle word nie meer gevra om eerbied aan die Romeinse gode te bewys nie, maar moet eerbeid betoon aan die gode van verdraagsaamheid.
Hierdie stories is ook bemoedigend, want dit herinner ons daaraan dat vervolging niks nuut is nie. Vervolging was nie die einde van die Christendom nie, maar die begin Ten spyte daarvan groei die kerk.
Jy is Petrus en op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie (Matteus 16:18).