Jesaja – Oordeel en hoop vir Israel (hoofstukke 28 tot 29) – Francois Malan
Hoofstukke 28-33 is ‘n ingewikkelde gedig wat hoofsaaklik die komende oordeel oor Jerusalem beskryf waarin die eerste vier hoofstukke (28-31) telkens met ‘n wee!-uitroep oor die Here se oordeel begin. Maar tussenin is daar spore van hoop en nuwe moontlikhede wat God gee (28:5-6; 16-17; 29:5b-8; 17-21; 23-24;30:15; 18-33) en veral in hoofstukke 32-33 uitgespel word, in Jesaja se raamwerk van oordeel en hoop, wat in die oordeel ook hoop sien.
Die kuns van die digter blyk uit sy beelde en uitdrukkings om gewaagde waarhede oor God se denke oor te dra, kosbare juweeltjies, vgl. bv.
28:15,18 Julle sê: ons het ‘n ‘verbond met die dood gesluit/gesny;’ (daarom is hulle nie bang vir die dood nie – in Hebreeus word ’n verbond gesny, deur tussen die helftes van ’n geslagte dier te loop en te sê: mag die Here so met my doen as ek die verbond verbreek, Gen 15:10; 31:44 ‘laat ons ’n verbond sny’)
28:16 die Here het ‘n ‘kosbare hoeksteen’ in Sion gelê, wie op Hom vertrou hoef nie te vlug nie – in die Nuwe Testament verwys dié steen na Christus (Ef 2:20; 1 Petr 2:6; vgl. aanhaling in Rom 9:33);
28:21 God se ‘vreemde werk’ – waarmee Luther God se oordeel beskryf, en sy genade as sy eintlike werk;
28:23-29 is ‘n landbou-gelykenis oor die kennis wat die Here vir die boer leer – en so vir elke soort werk;
29:10 Die Here het ‘n ‘sluier oor julle oë’ gegooi – 2 Kor 3:14.
29:16 die beeld van die pottebakker en die klei – wat in Jes 49:9; 64:8 uitgewerk word (Rom 9:21).
28:1-6 begin met ‘n verwysing na Samaria, die hoofstad van die tienstammeryk, die kroon en trots van die dronkaards. Samaria was in die gebied van Efraim. Israel se hoofstad is ’n verlepte lourierkrans. Daarteenoor is die Here die getroue oorblyfsel se trots en lourierkrans van oorwinning (die wenner-atleet kry ’n lourierkrans).
28:7-13 oordeel die dronk priesters en profete van Jerusalem, wat in 28:14-22 op die politieke leiers toegepas word (hulle verbond met die dood verwys moontlik na die Kanaänitiese afgod Mot, die god van die dood; ‘mot’ is die Hebreeuse woord vir ‘dood’ wat hier gebruik word). Hulle ontkenning van doodsgevaar is ‘n ontkenning van die Here wat daaroor besluit (vgl.vv 18-22). Die Here se toets is geregtigheid en regverdigheid (28:17). Sy oordeel en vernietiging is egter sy vreemde werk (v21), vreemd aan sy genadige opbouwerk, maar onvermydelik vir dié wat hulle rug op hulle Maker gedraai het om in onreg en onregverdigheid te lewe.
28:23-29 se landbou-beeld wys hoe noukeurig die Here is, tot in die fynste besonderhede onderrig Hy die boere.
29:1-8 kondig oordeel aan as ‘n waarskuwing vir Jerusalem en beskryf ‘n onvoorspelbare redding. Die ‘wee’ roep knoop aan by die leiers se valse gevoel van veiligheid met hulle ‘verbond met die dood’ (28:15). Die woord Ariël het verskillende betekenisse: ‘leeu van God,’ ‘God se verdediger,’ ‘die vuurmaakplek op God se altaar’ (soos in 29:2 vertaal is), of bloot as ‘n ander naam vir Jerusalem of ‘n wyk in die stad (daar is tans so ’n straat in Jerusalem). Die betekenis is waarskynlik soos volg: al is die stad voor Israel se tyd deur God gestig in die Jebusiete se tyd, en al het Dawid die stad as sy stad vir hom opgeëis, veg die Here nou teen die stad, soos vers 3 en 7 aandui: rondom die stad is tente opslaan (v3), die menigte soldate rig torings teen die stad op (v7).
Van vers 5 af word die Here se besondere genade oor Juda beskryf. Hy gaan skielik ingryp om Juda te red en dan sal die bedreiging van die groot leër soos ‘n slegte droom lyk. Die nasies sal nie hulle doel bereik teen Jerusalem nie, want die Here gaan hulle stop by Sionsberg (soos in hoofstuk 36-37 uitgespel word).
29:9-16 bevat drie kort oordeelsuitsprake teen Juda: wat doof geword het vir die Here se woord (9-12), hulle eer die Here met lippediens en nie met die hart nie (13-14; vgl Mark 7:6-8), hulle erken die Here nie as hulle Maker nie, en dink hulle kan hulle planne so diep wegsteek dat die Here dit nie ken nie (15-16; vgl. Rom 9:20-22). Die Here se weë is onverstaanbaar, maar Jesaja vra onvoorwaardelike vertroue op die God wie se planne en strategieë bó ons verstand is. Ons is soos klei in die hand van ons Pottebakker wat ons vorm tot sy eer.
29:17-24 bevat ‘n belofte van ‘n verlossing wat nog in die toekoms lê, ‘n volkome vernuwing ná die ballingskap. Die land word vernuwe en baie vrugbaar (v17); blindes sien, dowes hoor – ook die mense se blindheid en doofheid van verse 9-12 word weggeneem om die woorde van die Boek te hoor en die Here se weg in te sien (v18) – onderdrukte nederige armes en behoeftiges sal die Heilige, wat toegewy is aan Israel, uitbundig loof as hulle Here (v19), want daar is geen onderdrukker, spotter of kwaaddoener meer nie (v20); ook nie meer korrupte leiers en regters wat die reg in die poort (hof) verkrag nie (v21). Die openbare instellings, wat die aanwysings van die Here volg, sal reg funksioneer in ‘n goeie en gelukkige samelewing.
29:22-24 Die skande en skaamte van Israel tydens hulle ballingskap sal wonderlik verander word, soos die onvrugbaarheid van Abraham en Sara, en soos Jakob (‘bedrieër’) se naam wat die Here verander het na Israel (‘God geworstel’ – met hom). Israel sal die Here se gawe en sy seën op hulle (‘kinders’) met hulle eie oë sien, sal begin verstaan (anders as in verse 9,14 en 16) en hulle toewy (hulle heilig) aan die Heilige, wat toegewy is aan Jakob. Hulle sal weer vir hulleself die identiteit as die Here se eie volk in die wêreld toe-eien, en die God van Israel as hulle enigste God eer, vir Hom as Persoon (sy Naam) eer, en hulle sal sy lering gehoorsaam. Die herstel van Juda en Israel geskied egter deur ‘n lang proses van geweldige verdrukking wat hulle eers deurgaan (29:2-4).
Skrywer: Prof Francois Malan