Judas Iskariot – pion in hande van kragte groter as hyself, of bepaler van sy eie lot?

Judas Iskariot – pion in hande van kragte groter as hyself, of bepaler van sy eie lot? – Hermie van Zyl

Het Judas Iskariot beheer gehad oor sy bestemming, of was hy ‘n magtelose pion in die hande van hoër kragte? Hierdie vraag is belangrik aangesien die Skrif na hom verwys as “die een wat verlore moet gaan”.

Het Judas Iskariot beheer gehad oor sy bestemming, of was hy ‘n magtelose pion in die hande van hoër kragte?

1.         Die feite

  • Judas word 20 maal in die vier Evangelies genoem, en 2 maal in Handelinge.
  • Hy is die enigste dissipel afkomstig van Judea (die ander is van Galilea). Die benaming “Iskariot” is moontlik ‘n aanduiding van sy tuisdorp, “Keriot”, in Judea.
  • Hy was die tesourier van die dissipelkring.
  • Hy help die Joodse owerhede om Jesus gevange te neem.


2.         Hoe tipeer die Nuwe Testament Judas?

  • Die algemene tendens is negatief.
  • Sonder uitsondering word na hom verwys as “verraaier”.
  • Johannes 12:6 noem Judas ‘n dief omdat hy geld van die dissipels gesteel het.
  • Hy was ‘n werktuig in die hand van Satan. Lukas 22:3 sê: “Die Satan het in Judas gevaar“, en Johannes 6:70: “Judas is ‘n duiwel“.
  • Judas stel God se heilsplan in werking, want deur Jesus te verraai, het die kruisiging plaasgevind waardeur verlossing vir die wêreld gekom het.
  • Veral Matteus en Johannes sê: Judas se optrede was die “vervulling van die Skrif”.

 

3.         Twee belangrike vrae oor Judas:

3.1       Hoe moet ons oordeel oor sy berou (Matteus 27:4), veral as dit vergelyk word met Petrus s’n na sy verloëning van Jesus (Matteus 26:75)?

  • By Petrus was daar geen voorafbeplanning nie. Hy het Jesus steeds lief.
  • By Judas gaan dit om ‘n kille, berekende daad. Hy volg sy eie agenda van selfverryking.
  • Judas probeer sy spore doodvee. Hy erken teenoor die Joodse leiers dat hy onskuldige bloed vergiet het. Maar in plaas daarvan om daarmee na God of Jesus te gaan vir vergiffenis, is hy slegs bekommerd oor sy planne wat skeefgeloop het. Sy lewe het daarom vir hom geen sin meer nie, en hy pleeg selfmoord.

3.2       Het Judas ‘n keuse gehad, of was hy voorbestem tot verraad?

  • Veral Johannes 17:12 se tipering van Judas as “Seun van die verderf” (1983-vert: “die een wat verlore moet gaan”) is ter sprake.
  • Hier is ‘n paradoks: Goddelike beplanning en menslike verantwoordelikheid / eie sonde val saam in Judas.
  • Enersyds: Judas is ‘n belangrike figuur in die uitvoer van God se heilsplan vir die wêreld: Deur Jesus se dood kom genesing vir die wêreld.
  • Andersyds: Daar is geen verskoning vir Judas se sonde nie. Hy het ‘n keuse gehad. Hy versinnebeeld die mens se opstand teen God. Hier het ons met ‘n diepe misterie te doen: deur Judas se verkeerde keuse/sonde word God se heilsplan geaktiveer, sonder dat dit Judas verskoon of sy sonde op God se rekening geplaas kan word.
  • Geen mens se pad word vooraf so bepaal dat dit ‘n “bloudruk” is wat hom afspeel sonder dat ons enige keuse daarin het nie. God respekteer ons menswees, ons keuses. Hy probeer ons eerder met sy liefde dring as dat Hy sy wil op ons afdwing. As ons vir Hom kies, het ons altyd die ervaring dat dit genade is, dat sy liefdesoormag vir ons te sterk was, dat ons gekapituleer het voor die aanslag van sy liefde. Maar as ons teen Hom kies, kan ons nie vir God die skuld daarvoor gee, as sou Hy ons vooraf bestem het daartoe sodat ons eintlik geen sê of keuse in die saak gehad het nie.

Die rede waarom Judas se keuse van verraad as “vervulling van die Skrif” en “bestem tot die verderf” in die Nuwe Testament aangemerk word, het eerder te make met die teologiese denke van daardie tyd. Wanneer iets so onbegryplik boos gebeur (soos in Judas se geval), het die destydse teologiese denke eintlik nie raad daarmee geweet nie, en het hulle die daad toegeskryf óf aan God se almag – dat Hy een of ander verhewe doel daarmee gehad het (soos in Judas se geval: heil vir die wêreld) – óf aan die Satan. (Dis interessant dat beide ten opsigte van Judas gedoen word.) Maar die gang van die Bybel se spreke oor God laat nie toe dat ons kan sê dat God kwaad beplan vir mense en dat ons nie daarin ‘n keuse het nie. Of dat ons lewe tot in die fynste besonderhede uitgewerk is en dat wat met ons gebeur, eintlik maar net die uitspeel van daardie plan van God is nie. ‘n Fyn luister na die Bybel se taal en denke oor God loop in ‘n ander rigting: dat ons geskep is na die beeld van God; dat ons self keuses kan uitoefen wat die gang van ons lewe bepaal; en dat ons ons keuses moet laat bepaal deur ons verbondenheid aan God, wat tot ware vryheid en lewensvervulling lei.

 

Outeur: Prof Hermie van Zyl