Mense en Redding: Sonde (6) – Jan van der Watt
Mense en Redding is ‘n reeks artikels geskryf deur Prof Jan van der Watt. Ons dank aan CUM vir die gebruik van hierdie materiaal.
Word sonde na die doop vergewe (Heb 10:26)?
In die vroeë middeleeue was daar groepe wat op grond van Heb 10:26 hulleself nie wou laat doop nie. Hulle het probeer wag tot net voor hulle doodgaan en het dan gevra om gedoop te word. Die rede was omdat hulle Heb 10:26 verstaan het as dat as mens opsetlik sondig nadat jy gedoop is, daaar nie weer ‘n kans is nie. Dan is jy verlore. Heb 10:26 lees so: Want as ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie.
Die woorde opsetlik sondig verwys na iemand wat in minagting van God voortgaan met ‘n lewe wat nie vir God aanvaarbaar is nie. Dit word duidelik in 10:29 gestel: hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy verdien wat die Seun van God vertrap het en die bloed van die testament waardeur hy geheilig is, onrein geag en die Gees van genade gesmaad het? So iemand hoort dus nie binne die raamwerk van gelowiges nie – dit bewys hy deur sy optrede. Wat alles vererger is dat die persoon die kennis van die waarheid ontvang het. Hy weet wat is reg, maar vertrap nogtans die Seun van God. Dit gaan dus duidelik nie hier oor iemand wat ‘n fout gemaak het en sonde gedoen het, dit wil bely en alles weer wil regmaak nie. Vir so persoon is daar sewentig maal sewe maal vergifnis. Dit gaan hier oor iemand wat bewustelik heeltemal sy verhouding met God verbreek het en dit so uitleef ook. Vir hom bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie. Hierdie is kultiese taal, met ander woorde, taal wat dui op aksies wat daarop gerig is om die verhouding tussen God en mens reg te stel of te versterk. Die persoon wat sy rug op God gedraai het, het ook sy rug op hierdie moontlikhede gedraai.