Ons leef in ‘n wêreld van armoede
As we care for the poor over time, what may have initially been duty (“have to”) inevitibly become delight “want to”) – David Platt
Ons leef in ‘n wêreld van armoede
Wat is die implikasies van die evangelie vir ons lewens in ‘n wêreld vol dringende geestelike en fisiese armoede? In ‘n kultuur wat luukses, gemak, selfbevordering en besittings beklemtoon, sal dit in die toekoms al hoe moeiliker wees om volgens die evangelie te leef. Hoe kan ons dit doen?
- Werk toegewyd
God het die mens gemaak om te werk. God het die mens in die tuin laat woon om dit te berwerk en op te pas (Genesis 2:15). Soos ons goedere produseer en dienste lewer, dra ons tot die kultuur by op ‘n manier wat mense dien en God verheerlik. Alle soorte werk is vir die samelewing belangrik. Ons leef in ‘n kultuur wat nie werk as ‘n gawe van God sien nie. Nêrens lees ons dat God mense oproep om op te hou werk nie. Die hele konsep dat ek moet spaar sodat ek eendag ‘n lewe van gemak kan leef, het geen Bybelse fondament nie.
- Leef eenvoudig
Maar dié wat ryk wil word, val in versoeking. Hulle loop hulle vas in die strik van sinlose en skadelike begeertes waardeur mense in verderf en ondergang gestort word. Geldgierigheid is ‘n wortel van allerlei kwaad (1 Timoteus 6:9 – 10).
Ek wil meer hê. Dit sal my nie bevredig nie, want ek sal altyd net meer wil hê. Die Skrif skryf ‘n teenmiddel voor: ‘n eenvoudige, tevrede lewe wat noodsaaklikhede prioritiseer en luukses minimaliseer. In nederigheid moet ons betaal wat vir ons genoeg is en dan dit wat oor is aan ander gee. Dit gaan teen die grein van ons kultuur in. ‘n Eenvoudige lewe is ‘n voortdurende uitdaging.
- Gee opofferend
In 2 Korintiërs 8 lees ons van die gemeente in Masedonië. Al was hulle swaar beproef deur verdrukking, hulle blydskap was oorvloedig; en al was hulle baie arm, hulle was ryk in hulle oorvloedige vrygewigheid. Ons moenie net op ‘n manier wat vir ons gemaklik is, gee nie. C. S Lewis stel dit so:
I do not believe one can settle how much we ought to give. I am afraid the only safe rule is to give more than we can spare. In other words, if our expenditure on comforts, luxuries, amusements, etc is up to the standard common among those with the same income as our own, we are probably giving away too little.
- Gee konstruktief
Ons moet aan die armes gee op ‘n manier wat vir hulle goed is. Ons moet dié wat verantwoordelik is help, maar nie diegene wat onverantwoordelik is, subsidieer nie. Die ergste wat ons met armes kan doen, is om hulle te ignoreer; die tweede ergste is om hulle te subsidieer om deur hulle dag te kom terwyl ons ignoreer hoe hulle deur hulle lewens gaan kom. Dit beteken dat ons nie sommer net aalmoese uitdeel nie, maar ons moet van onsself in hulle lewens belê. Dit is nie maklik nie.
- Belê in die ewigheid
Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak waar mot en roes dit verniel en waar diewe inbreek en dit steel nie. Maar maak vir julle skatte in die hemel bymekaar, waar mot en roes dit nie verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie. Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees (Matteus 6:19 – 21).
Ons kan ons hulpbronne op korttermyn plesier spandeer wat nie kan standhou nie of ons kan ons hulpbronne in ‘n langtermyn skat wat nooit sal vergaan nie, belê. Hoekom sal jy nou ‘n ewige skat vir aardse dinge verruil?
As ons op hierdie vyf maniere leef, sal ons huidige kultuur ons beslis bevraagteken en allerhande besware opper, maar dit is wat die Bybel van ons vereis.