Ou Apostel Kerk – Vraag oor Doop? – Hermie van Zyl

‘n Leser vra,

My dogter is getroud met n man wat aan die Ou Apostle kerk behoort. Hulle is in ons kerk NG getroud . Ons kleindogter is gedoop in hulle kerk maar my dogter moes eers hulle Geloof en kerk aanvaar, ingesweer en ge her-doop word voordat ons kleinkind gedoop kon word. As n NG lidmaat het ek n geweldige innerlike stryd hiermee. Hoekom is my Gees so onrustig en voel dit net heeltemaal verkeerd?

Antwoord:

Prof Hermie van Zyl antwoord

Self het ek ongelukkig geen eerstehandse ervaring of besondere kennis van die Ou Apostel Kerk (OAK) nie, maar ek sien dat daar reeds ’n stuk oor die OAK op die webblad van Bybelkennis verskyn het, geskryf deur prof Pieter Verster van die Universiteit van die Vrystaat.  (Skakel na artikel) . Die vraesteller kan dit gerus lees. In die stuk is daar ook ’n skakel na Wikipedia wat verdere waardevolle inligting oor die OAK gee. Die vraesteller kan dit ook opvolg.

 Nadat ek self bg stukke deurgelees het, is dit vir my duidelik dat daar drie kommerwekkende aspekte van die OAK is:

  1. Hulle leer dat die apostelamp van die Nuwe Testament vandag voortgesit word. Hiermee verkry die apostels in die OAK ’n mag en status wat buite verhouding is tot die beperkte insig waaroor ons as mense beskik, selfs al het ons ’n teologiese opleiding en selfs al staan ons in ’n besondere amp in die Kerk. Selfs die apostels in die Nuwe Testament het mekaar tereggewys (Paulus vir Sefas/Petrus: Gal 2:11-14). Verder, die apostelamp in die NT was ’n eenmalige amp vir die vestiging van die kerk en het na die dood van die apostels opgehou om te bestaan. Trouens, wat ons in die NT het, is juis die neerslag van die apostels se insigte, lering en geskrifte. Al wat ons vandag kan doen, is om daardie insigte te bestudeer, dit ons eie te maak, dit te verkondig, mekaar daaraan te herinner en dit sáám uit te leef. Maar juis daarom kan daar nie eietydse “apostels” wees wie se woord sonder teenspraak aanvaar moet word nie. Die enigste “apostels” wat daar vandag is, is die NT en OT, d w s, die Bybel.
  2. Juis vanweë die OAK se siening van die voortsetting van die apostelamp, beskou die OAK homself as die enigste Kerk wat die weg tot saligheid bewandel en kan aanwys. Hulle het daarom geen ekumeniese bande met ander Kerke nie. Dit is uiters kommerwekkend, want Christene het mekaar nodig. Sáám moet ons besin oor die waarheid van die evangelie vir vandag. Dit was nog altyd so dat wanneer ’n Kerk hom van ander distansieer en afskei en as uitgangspunt aanvaar om geen skakeling met enige ander Kerk te hê nie, allerlei skeeftrekkings van die evangelie ontstaan wat tot groot nadeel van die lidmate se geestelike heil kan wees.
  3. Die OAK aanvaar nie dat die Bybel veel historiese waarde het nie. Alles moet dus allegories verstaan word, d w s vergeestelik word. Nou, dit is wel so dat bepaalde historiese sake in die Bybel soms om spesiale interpretasie vra, maar dit  beteken nie dat die historiese as beginsel bevraagteken kan word nie. Dan word die hele evangelie op losse skroewe gestel. Die Christendom is juis ’n historiese godsdiens, bedoelende: ons glo dat God sy openbaring in die geskiedenis en deur besondere gebeure en mense bekendgemaak het. Sonder hierdie erkenning en belydenis vervlugtig die Christelike boodskap tot ’n filosofie en kan enigiets in die Bybel verdraai word om omtrent enigiets te beteken.

Ten spyte van bogenoemde besware is daar heelwat sake waarmee mens kan saamstem in die OAK se geloofsbelydenis, soos wat prof Verster ook uitwys.

Ek vertrou dat die vraesteller hiermee voldoende ingelig is om te weet waaroor dit in die OAK gaan.

Skrywer:   Prof Hermie van Zyl