Ondervraging van die ouers (9:18-23)
Ondervraging van die ouers (9:18-23) – Francois Malan
9:18,19 Die Fariseërs, wat die leiding geneem het in die ondersoek, word nou ‘die Jode’ genoem. Dit is Johannes se term vir die groep onder die volk wat vyandiggesind was teen Jesus, teenoor die term ‘Israel’ wat die gelowige groep aandui (bv. 12:13). Die Jode probeer uit hulle verleentheid kom deur te ondersoek of die man werklik blind gebore was. Indien nie, het daar nie ‘n wonderwerk gebeur nie. Die man se identiteit, waaroor daar selfs by die bure twyfel bestaan het (v9), moet vasgestel word, want hulle betwyfel dit ook, en wil nie aanvaar dat ‘n wonder plaasgevind het nie. Die ouers word opgeroep en twee vrae aan hulle gestel: (i) is dit julle seun van wie julle sê dat hy blindgebore is; (ii) hoe sien hy dan nou? Met die eerste vraag bevraagteken hulle die ouers se woord, en met die tweede die wonder.