Perspektief op gebed (28) – Die hartklop van gebed. – Jan van der Watt

Wanneer huigel ek in gebed?

As daar oor huigelary in gebed gepraat word, word daar veral aan twee dele uit die Bybel gedink.

Op straathoeke met baie woorde!

(i) In Mat 6:5-15 praat Jesus oor gebed. Hy begin deur te waarsku teen skynheiligheid (6:5). Daar was mense wat daarvan gehou het om op die straathoeke en in die sinagoges te staan en bid sodat die mense hulle kon sien. Mense het dan hierdie ‘heiliges’ bewonder en geëer vir hulle vroomheid. (Daarom word gesê dat hulle hul beloning klaar weg het). God het nie meer in die sentrum gestaan nie, maar die bidder.

Gebed word dus nie gebruik waarvoor dit bedoel is nie. Gebed word misbruik vir eie eer. Die fokus val op die bidder en nie op God nie. Dit word ‘n instrument vir die bidder om sy of haar eie belange te soek. Hierdie selfsugtige gebed word in Jak. 4:3 duidelik afgewys: ‘As julle bid, ontvang julle nie, omdat julle verkeerd bid: julle wil net julle selfsugtige begeertes bevredig’.

In die verdere verloop van hierdie gesprek verwys Jesus na ‘n tweede probleem. ‘Wanneer julle bid, moet julle nie soos die heidene ‘n stortvloed van woorde gebruik nie. Hulle verbeel hulle hulle sal verhoor word omdat hulle baie woorde gebruik’ (6:7). Jesus sê nie hier dat God net na kort gebede luister nie. Hy luister na opregte lang gebede ook. Die probleem is egter dat daar onder die heidene die idee bestaan het dat as ‘n mens aanhoudend praat en veral baie godsname gebruik die blote krag van jou woorde die god sal oortuig om te luister. Jou oorvloed van woorde word die instrument waarmee die god dan gedwing en gemanipuleer word om te doen wat jy sê. Só laat die lewende God Hom nie manipuleer nie!

Gebed is so weereens nie gehoorsame kommunikasie tussen Vader en kind nie, maar word ‘n instrument waarmee die bidder sy wil op die wil van die Vader probeer afdwing. Weereens staan die bidder in die sentrum. Daarom herinner Jesus in Mat 6:8 net weer sy dissipels aan Wie werklik die sentrum van elke gebed moet staan: ‘…julle Vader weet…’

In ‘n lofsang oor jouself!

(ii) ‘n Tweede belangrike deel vertel die verhaal van ‘n fariseër en tolleaar in gebed (Luk 18:9-14). Die fariseër het in hoogmoed homself geprys. Breedvoerig het hy aan God vertel hoe vroom hy is. Die tollenaar kon daarinteen maar net sy kop laat sak en God om genade smeek! Laasgenoemde, sê vers 14, het weggegaan as die een wie se saak met God reg is!

Die verhaal is so duidelik dat verdere opmerkings eintlik oorbodig is. Iemand wat homself in sy verhouding met God so na  vore stoot en begin dink God skuld hóm iets, ja, dat God eintlik bly moet wees om hóm as navolger te hê, wys eintlik hoe ver hy regtig van God af staan. Hy bid nie omdat hy regtig voor die lewende God in ootmoed wil staan nie. Hy bid omdat hy oor homself wil praat. Iemand wat die fokus van gebed so verskuif, huigel!

Die ware voorreg van gebed: om met God te praat!

Gebed nie daar is om iets vir jou of jou aansien te verwerf nie. Om gebed as ‘n soort van verdienste te gebruik is huigelary. 

Gebed is ook nie daar om God te probeer beïndruk of te probeer manipuleer tot jou eie voordeel nie.

Die probleem kan soms subtiel sy kop uitsteek…

Soms bid jy vinnig voor ete… net om – byna uit bygeloof – te verseker dat God darem nie vir jou kwaad sal wees nie. Van opregte dank en kontak met God is daar nie veel sprake nie.

Soms is jou gebed net ‘n herhaling van sinne wat jy elke aand in byna dieselfde volgorde aframmel. Jy dink nie eers mooi wat jy sê nie! Jy wil in die bed kom na ‘n harde dag… maar moet darem eers ‘bid’. Gedagtelose woorde is so goed as geen woorde nie. Ware gebed moet vanuit die hart opklink. Dit moet van bewustelike oortuiging spreek.

Soms word my gebed ‘n wapen teen God. Ek wil graag iets hê. Nou manipuleer ek Bybelverse so dat hulle vir my sê dat as ek net genoeg glo en bid EK enigiets kan kry, ja selfs berge kan versit… so asof God se wil nie tel nie; so asof God so klein is dat Hy maar net moet luister en doen wat ek die belangrike GELOOFSHELD sê. Wie word dan wie se here? Nee, geloof maak jou eintlik klein en afhanklik voor God. Geloof maak God nie klein en afhanklik voor jou nie!

Soms lê gebed my eie ongeloof bloot. Ek bid vir alles en nog wat. Ek vra God om my met dit of dat te help. Maar as ek van my knieë af opstaan, het ek al my versoeke klaar vergeet. Daar is nie by my die verwagting dat dinge nou anders is en gaan wees as wat dit voor my gebed was nie! My ou wêreld lyk vir my nog steeds dieselfde. Eintlik het my gebed vir my geen verskil gemaak nie. Iemand wat weet dat hy met die lewende God gepraat het wat ‘n verskil kan maak, staan nie só van sy knieë af op nie! Waarom bid jy dan as jy nie glo dat God ook erns met jou gebed sal maak nie? Word die note van ‘n huigelagtige gebed nie dalk daar gehoor nie?

Gebed moet bruis van ‘n lewende verhouding met God.

Wie daardie fokus in sy eie rigting verskuif, huigel. Wie God oneer aandoen deur gedagteloos te bid of ‘bid’ sonder dat hy  omgee of dink wat hy vir God sê, huigel!

Nee, gebed is daar om in opregtheid met die lewende God in gemeenskap te tree, omdat jou verhouding met Hom bruis van lewe. Gebed kan maar net een fokus hê en dit is die lewende God voor wie elke mens in dankbare aanbidding en lof staan!

 

Wanneer moet ek bid? Is daar bepaalde tye, of kan ek maar enige tyd bid?

‘n Mens kan darem nie voor die stoof agter die kospotte staan en bid nie… of kan jy?

Om een of ander rede het sommige van ons probleme oor wanneer ons moet bid. Gaan die Here nie dalk vir ons kwaad wees as ons net die aand voor ons gaan slaap bid en nie ook as ons in die oggend opstaan nie? As ons nie in die oggend bid nie, gaan die Here regtig die dag saam met ons wees?

Ander wonder weer of die Here na ons gaan luister as ons sommer so voor die stoof staan en bid terwyl die kos kook; of miskien of God gaan luister as ons biddend agter die stuurwiel van die motor sit terwyl ons in besige verkeer voortsukkel. Is so iets nie dalk onrespekvol teenoor die Here nie? Of verder, is dit genoeg of moet ons meer bid?

Is daar ‘n vaste patroon vir gebed?

Is daar ‘n vaste patroon vir ‘n man om met sy vrou te gesels? Natuurlik gesels hy gewoonlik met haar as hy na werk by die huis kom, of as hulle om die etenstafel sit. Soms gesels hy meer en soms minder. Soms het hy soveel te sê dat hy sommer lank die nag in gesels. Op ‘n keer is ‘n saak so dringend dat hy haar sommer van die werk af huis toe skakel. ‘n Verhouding kan alleen groei as dit met gesprek en kommunikasie gepaard gaan. In ‘n verhouding word kommunikasie ook nie ingeperk net tot sekere tye nie. Tog moet ‘n mens gereeld gesels. Daar is dus ‘n kombinasie van gereelde gesprekke en gesprekke wat toevalling kom soos die oproep van die werk af.

Net so gaan dit met gebed. Dit is mos ook deel van ‘n verhouding: ‘n verhouding tussen jou en God. Daarom kan jy gebed nie vasskryf in die hokkies van tyd nie. God se hart en ore is te alle tye vir jou oop. As jy iets vir God te sê het, sê DIT! Jy hoef nie tot vanaand te wag nie. Dit maak ook nie saak waar jy op daardie stadium is nie – praat met God.

Tog was gebed van die vroegste tye af reëlmatig gedoen. Die ou Jode het drie maal per dag op presiese tye gebid (Dan 6:11,14). Jesus self het gewys dat dit dikwels nie genoeg was nie. Hy het soms as dit nodig was, sommer ‘n nag deur gebid (Luk. 6:12)! Daarbenewens leer die geskiedenis ons dat alle groot bidders gedissiplineerde bidders was. Soos ‘n man wat ‘n vrou liefhet en graag met haar praat, moet die gelowige gereeld in rustigheid kontak met God opsoek.

‘n Verdere element is die Bybelse getuienis dat Jesus met spesiale geleenthede spesiale tyd vir gebed ingerig het. So bid Hy byvoorbeeld voor sy kruisiging. Soms gebeur daar net iets met ons wat ons laat voel dat ons nou moet bid en soms sommer lank moet bid. Doen dit! ONTHOU die Here is nie soos ‘n staatsamptenaar wat jou net sekere tye kan sien nie. Hy is soos ‘n liefdevolle Vader wat te alle tye gereed is om te luister.

Wat lei ons uit hierdie gegewens af? Die Nuwe Testament beveel ons nêrens om op spesifieke tye te bid nie. Tog lyk dit of daar tog waarde aan die reëlmaat geheg word. Reëlmaat en spontaniteit in gebed mag nie teenoor mekaar afgespeel word nie. Die hou van gebede op bepaalde tye (hetsy in die oggend of in die aand) mag die spontaniteit van die gebed nooit inperk nie. Die gelowige is steeds vry om elke oomblik spontaan die troon van sy of haar Vader op te soek

Tog kom die patroon van vaste reëlmatige gebed reeds van die Ou Testament af. Die gelowige moet ook spesiale tye inrig om met God te praat. Hy moet stil raak en homself voorberei vir ‘n ontmoeting met God. Soms is dit vir ons as moderne mense moeilik om dit te doen, wat ons voel ons doen niks as ons net stil word nie. Tog is daardie oomblikke van stilword en nadenke soos balsem vir ons oorwerkte en besige siele.

Reëlmatige gebed moet egter nie ‘n wettiese saak word nie. Ons as gelowiges is nie slawe van wette nie, maar is uitbouers van ons verhouding met God. Om ons verhouding met God te versterk bid ons gereeld en nie om wette of opdragte te probeer hou nie!

In die laaste hoofstuk word daar ‘n gebedsprogram voorgestel vir reëlmatige en gedissiplineerde gebed. Hierdie program kan met vrug gevolg word, maar mag nooit in die pad van spontane gebed staan nie!

Skrywer:  Prof Jan van der Watt