Psalm 8 (3)
We have a God who delights in impossiblities – Andrew Murray
Psalm 8 (3)
[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Hierdie is ‘n lang psalm so ek gaan ‘n hele aantal blogs aan hom spandeer.
Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.
8:6 – 10: Verwondering dat God eer en heerlikheid aan die mens gee – Hy gee vir hulle gesag oor die skepping
Nieteenstaande die oorweldigende feite en die vrae wat hulle opper (vers 3 – 4), delegeer die oppermagtige Heerser mag aan mense. Dit herinner aan Genesis 1 – die mense is beelddraer en verteenwoordiger.
8:6: 6U het hom net minder as ’n god gemaak; ; U het hom met majesteit en glansrykheid gekroon.
Mense is net ‘n bietjie minder as goddelik. Hulle word gekroon en deel so in God se eer en heerlikheid. Soos Genesis 1 en 2 glo die psalmis die mens is koning. En tog dink God aan die mens; gee Hy aandag aan hom; versorg Hy hom. God let noukeurig op die mens: nie net na wat hy doen nie, maar ook na sy omstandighede; Hy sien om na hom. Wanneer mense hulle nietigheid besef en God as Koning in hulle lewe erken, word sy genade vir hulle ‘n werklikheid. Hy wat alles gemaak het, sorg ook vir my! Wat ‘n voorreg is dit om kind van God te wees.
8:7: U laat hom heers oor die werk van u hande; U het alles onder sy voete geplaas,
As heersers het die mens opdrag om oor die werk van God se hande te heers, en het so die eerbetoon van wesens onder sy gesag gekry. Hulle is “tussen God en die wêreld”.
8:8 – 9: Al die kleinvee en beeste, ja, selfs die diere van die veld, die voëls van die hemel en die visse van die see wat verbytrek op hulle roetes deur die oseane.
Die mens heers nie net oor mak diere nie, maar ook die wilde diere van die veld, voëls, vis en ander seediere. Alles word aan die mens onderwerp. Toe die skeppingswerk afgehandel is, het dit nie beteken dat alles reeds hulle bestemming bereik het nie – die mens moet die skepping na sy eindbestemming neem. Natuurlik het die mens misluk en die skepping moet vooruit kyk vir sy bestemming. Intussen kreun die skepping.
8:10: 10Here, ons Heer, hoe magtig is u Naam oor die hele aarde!
Die psalm eindig soos dit begin het: met lof aan God. Hy regeer. Ek leef uit sy genade; Ek is iets omdat hy my iets gemaak het. Op aarde heers ek namens Hom omdat Hy my aangestel het. Aan Hom kom al die lof toe. Hierdie herhaling van vers 2 beklemtoon die positiewe wonder en verseker dat die aanbidders hulle lofprysing afsluit met gedagtes aan God – nie van hulleself nie.
Volgende keer kyk ons na die teologiese implikasies van Psalm 8.