Seuns van God en vroue van die aarde

image_pdfimage_print

Seuns van God en vroue van die aarde – Marius Nel

Christo vra:

Veduidelik vir my Gen 6 waar die seuns van God die vroue van die aarde geneem het as vroue en daar is reuse gebore. Hoekom sou God dit toelaat en waarom?

Antwoord:

Prof Marius Nel antwoord:

 

Genesis 6:1-8 handel oor die verval van die mensdom.

 

6:1-4 Die vergoddeliking van mense.

 

Presies wat met hierdie vier verse bedoel word, is onseker. Daarmee word dit een van die mees omstrede dele in die Bybel.

 

Die woord hemelwesens is letterlik “seuns van God/gode”. Die woord vir “God/gode” word in die Ou Testament vir gode in die algemeen, maar ook vir God gebruik. Het ons te doen met ander hemelse wesens, byvoorbeeld engele of ’n hemelse vergadering (vgl Job 1:6; 2:1) of ander gode (Ps 82:2,6; 89:7) of bloot hemelliggame (Job 38:7), of besondere mense (Eks 4:22, vgl 2 Sam 7:14)? 

Na aanleiding hiervan word die volgende verskillende verklarings teëgekom:

(a) Dis engele wat met mensedogters getrou het. Daarteenoor word gesê dat volgens Matteus 22:30 engele nie kan trou nie.

(b) Omdat Israel in Eksodus 4:22 “seun van God” genoem word, verwys dit na die afstammelinge van Set. Maar hoe kan ’n mens sommer Israel met Set gelykstel?

(c) Die hemelwesens is afstammelinge van Set, terwyl die dogters van die mense afstammelinge van Kain is. Die probleem is dat dit nêrens pertinent  so gesê word nie.

(d) ’n Joodse interpretasie lui dat dit konings of vername mense van destyds is (vgl 2 Sam 7:14, hy sal vir my ’n seun wees). Die beswaar is dat die oordeel van 6:3 dan onverstaanbaar is.

(e) Ons het met ’n mite* te doen wat ’n bepaalde verskynsel op ’n bonatuurlike wyse wil verklaar. In hierdie verband word gevra of ’n mens dan van mites in die Bybel kan praat.

 

Uitsonderings het nog altyd mense se aandag getrek. In die antieke tyd het mense sulke voorwerpe en persone aan die bomenslike verbind. So byvoorbeeld is bome of rotsformasies met ’n vreemde voorkoms beskou as met krag belaai. Geleidelik het mense gedink iets goddeliks kleef daaraan. Mettertyd het dit selfs oorgegaan in die aanbidding van die voorwerpe.

Die ou verhale van die antieke wêreld vertel van sulke besonder dapper, sterk, groot of bekwame figure wat beskou is as deels mens en deels goddelik. Gewone mense is nie so nie, daarom kan so ’n persoon nie ’n gewone mens wees nie, het hulle gedink. ’n Goeie voorbeeld kry ons in die bekende Babiloniese vertelling oor Gilgamesj in die sogenaamde Babiloniese vloedverhaal. Daarvolgens was Gilgamesj ’n besonder sterk en dapper persoon omdat hy een derde mens en twee derdes godheid sou gewees het.

 

Hierdie opvattings was ook in Israel aan die orde van die dag. Daarvan getuig die talle profetiese vermanings teen die vergoddeliking van kragte, voorwerpe en mense.

Wanneer daar in die Bybel teen ’n populê­re opvatting standpunt ingeneem word, word die opvatting dikwels gestel en dan opgevolg deur die profetiese vermaning. Omdat daar in Hebreeus egter nie so iets soos aanhalingstekens is wat die populêre aanhaling sou aantoon, nie, is dit vir ons moeilik om die onderskeid raak te sien. Voorbeelde is Hosea 9:7b-9 (waar die vertaling geen aanhalingstekens gee nie), Hosea 12:5-7 en Miga 2:6-7 (waar die vertaling wel aanhalingstekens gee).

Die antieke literatuur gebruik verskillende metodes om ’n saak te beklemtoon. Een manier is om die teenoorgestelde vóór en ná die saak te stel en dit so as ’t ware te omkring. Dit is wat in 6:1-4 gebeur. In 6:1-2 en in 6:4 word die populêre opvattings weergegee, terwyl 6:3 die weerspreking is en die klem dra. Die populêre opvatting is dat reuse … , sterk mense … en manne van naam nie bloot mense is nie. Hulle is die resultaat van die verbintenis tussen mense en hemelwesens.  Maar sulke gedagtes druis in teen alles wat die Bybel verkondig oor God, hemelwesens en die mens. Dis maar net ’n ander weergawe van die heidense “heilige huwelik” (tempelprostitusie) tussen die priesteres en die priester as verteenwoordiger van die godheid. Dit vergoddelik mense, in plaas daarvan dat die besondere gawes as God se gawes erken word. Daarom moet dit afgekeur word. Mense is nie halfgode nie. Om dit te bevestig, word die mens se lewensduur beperk tot 120 jaar. So word die dood van die mens, en met name die dood van besondere mense, ’n teken: hoe wonderlik iemand ook mag wees, hy of sy bly ’n mens, sterflik. Daarmee sê die Bybel ’n groot NEE! vir menseverheerliking. Of dit politieke figure of sporthelde of popsterre is – geen mens mag selfs in die volksmond die sweem van goddelikheid kry nie. Dit kom net die Here toe.

 

Skrywer: Prof Marius Nel

 

image_pdfimage_print