Stry vir die geloof
Ah! if there be degrees in glory, they will not be distributed according to our talents, but according to our faithfulness in using them. —C.H. Spurgeon
Stry vir die geloof
Geliefdes, ek was vas van plan om aan julle te skrywe oor die verlossing waaraan ons almal deel het. Maar nou voel ek my verplig om julle met my brief aan te spoor om te stry vir die geloof wat een maal oorgelewer is aan dié wat God vir Hom afgesonder het (Judas :3).
Baie van ons ouer mense het groot geword in ‘n kerk wat die tweede gedeelte van die vers baie ernstig opgeneem het: stry vir die geloof. Dit is wat Judas in die res van hierdie kort briefie doen – hy stel die vals leraars aan die kaak. So ons stry vir ons geloof; ons behou die goeie leer; ons waak oor ons teologie. Die opdrag kan ons nie sommer ligtelik opneem nie – ons moet dit gehoorsaam.
Maar dit is nie wat Judas beplan het om te skrywe nie. Waaroor hy wou geskryf het, was iets wat hom en sy lesers verheug het – die verlossing waaraan ons almal deel het. Maar nou moet hy ‘n brief skryf wat nie so aangenaam is nie, maar vir die heil van sy lesers was dit belangriker.
Nou ‘n vraag vir diegene van ons wat hou van ‘n gesonde leer: Is ons nie maar net ywerig om ander Christene se teologie te polisieer nie? Is ons nie stilweg bly as ons foute ontdek nie? Of is ons gretiger om te juig oor dit wat ons met ander Christene in gemeen het? Waar lê ons diepste vreugde?