2 Makkabeërs 2:4-8

2 Makkabeërs 2:4-8

Wat het van die ark van God geword? Lees wat sê die 2 Makkabeërs 2:4-8.

4) In dieselfde verslae lees ons van die profeet wat ʼn openbaring van God af gekry het. Op grond daarvan het hy gevra dat die tabernakeltent en die ark agter hom aangedra moes word toe hy na die berg toe is waarteen Moses uitgeklim het om die land te sien wat God vir sy mense wou gee.

5) Daar gekom kry hy ʼn grot. Hy steek toe die tabernakeltent, die ark, asook die altaar waarop die wierook gebrand is, daar weg. Hy het die ingang toegemaak en versteek. 6) Van díe wat saam was het probeer om die pad te onthou, maar hulle kon dit nie weer kry nie. 7) Toe Jeremia hoor wat hulle wou doen, het hy hulle erg kwalik geneem: hierdie plek moet onbekend bly tot God sy volk weer bymekaar bring en vir hulle goed is bo wat hulle verdien. 8) Dan sal die Here vir hulle wys waar dit weggesteek is. Die glorie van die Here, selfs die wolk, sal dan verskyn net soos dit in die tyd van Moses verskyn het; of toe Salomo gebid het dat die Plek op ʼn buitengewone manier vir God afgesonder moes word.

Skrywer: Prof Jan van der Watt




2 Makkabeërs 7:35-38

2 Makkabeërs 7:35-38

Het jy al ooit daaroor nagedink dat ʼn mens net diereoffers in die Ou Testament kry en mense-offers verbied word, terwyl die Nuwe Testament net van mense-offers praat en sê ons hoef nie meer diere-offers te bring nie. Lees maar Romeine 12:1-2 waar ons ons lewens as offers moet gee of Hebreërs waar Jesus as die offer vir God beskryf word. Die gedagte dat mense hulle lewens vir God kan opoffer, het juis met die martelare begin. Hulle het vir God gesterf en hulle dood was nie tevergeefs nie – dit was as offer vir die Here verstaan. Hier praat ʼn Joodse martelaar met die koning wat hom martel en praat van sy lewe as offer gee…

‘Jy het nog nie aan die oordeel ontsnap van die almagtige God wat alle dinge sien nie. 36) My broers het vir ʼn rukkie baie pyn deurgemaak, maar hulle smaak nou die ewige lewe, soos God in sy verbond ooreengekom het. Maar wat jou betref: God self sal jou oordeel. Jy sal gestraf word vir al jou arrogansie. 37) Soos my broers offer ek my liggaam en lewe op vir die wette van my voorvaders. Ek smeek God om gou weer vir ons volk goed te wees bo wat ons verdien. Net so smeek ek hom om jou met allerhande pyn en swaarkry te tref sodat jy sal bely dat Hy die enigste God is. 38) Ek vra die Almagtige ook dat na dit wat met my en my broers gebeur het Hy nie meer tereg kwaad wees vir ons hele volk nie.’

Skrywer: Proj Jan van der Watt




2 Makkabeërs 6:24–30

2 Makkabeërs 6:24-30

Hier is ʼn derde deel uit die Ou-Testamentiese apokriewe waarna ons kyk.

In die Bybel (bv. Johannes 10:11vv of 15:12-14) hoor ons dat dit goed kan wees as iemand vir iemand anders sterf, doodgewoon omdat hulle vriende is of aan mekaar behoort. Hy hoef nie eers noodwendig die ander persoon se lewe te red nie. Hy doen dit net vir hom of haar… Hier is een van die eerste verhale in die Jodedom wat die gedagte dat iemand vir ander sterf beklemtoon. Jesus het so vir ons gesterf. Die vroeë Christene het ook baie van Jesaja 53 gemaak. Die mense wou Eleasar dwing om onrein vleis te eet. Hy wou nie en omdat hulle so baie van hom gehou het, het hulle gesê hy moet net so maak. Dit wou hy ook nie doen nie. Kyk net wat hy sê:

Eleasar was een van die belangrikste Skrifgeleerdes. Hy was reeds oud.

24: Hy het dit so verduidelik. “Dit sou nie by my ouderdom pas om toneel te speel nie. As ek dit doen sal baie jongmans dink dat Eleasar op sy negentigste jaar na ʼn vreemde godsdiens toe oorgestap het. 25) Ek sou met die toneelspelery hierdie jongmans op die verkeerde spoor lei en dit net om ʼn oomblikkie langer te leef. Watter skande en oneer sou dit net nie vir iemand van my ouderdom beteken nie? 26) Ek sou nou miskien die straf van mense kon vryspring, maar of ek nou lewe of dood is, ek sal nooit uit die hande van die Almagtige kan ontsnap nie. 27) Dus, die waardige ding vir ʼn persoon op my ouderdom om te doen sou wees om nou dapper te sterf. 28) So sal ek vir die jongmans ʼn edel voorbeeld nalaat, naamlik hoe om uit vrye wil en op ʼn edel manier vir die gerespekteerde en heilige wette te sterf.”

Nadat hy dit gesê het, het hy na die stellasie toe gestap waar hulle hom sou martel. 29) Die mense wat voorheen so vriendelik met hom gepraat het, het nou teen hom gedraai. Vir hulle het dit wat hy gesê het na malligheid geklink. 30) Net voor hy van al die slae dood is, het hy kreunend gesê: “Die Here, met sy besondere wysheid, weet dat ek hierdie dood kon vryspring. Tog byt ek vas onder die geweldige pyn van die houe waarmee hulle my slaan. Maar diep binne-in my is ek baie bly, omdat ek die Here eer en dien.”
Skrywer: Prof Jan van der Watt



2 Makkabeërs 7:3–14

2 Makkabeërs 7:3-14

Hierdie gedeelte hanteer die martelaarskap van die eerste van sewe broers.

Die koning het hom liederlik vererg en beveel dat panne en ketels oor die vuur warm gemaak moes word. 4) Terwyl dit warm gemaak word, het die koning gesê dat die tong van die een wat namens die ander gepraat het, uitgesny moes word. Sy kopvel moes afgesny word saam met sy hande en sy voete – dit voor die oë van die res van sy broers en sy ma. 5) Totaal vermink en hulpeloos maar steeds by sy positiewe, het hulle hom in die pan gesit en gebraai, soos die koning beveel het.

9) Net voor hy sy laaste asem uitblaas, sê hy: “Jou vervloekte mens. Jy neem ons lewe in hierdie wêreld weg, maar die Koning van die wêreld sal ons weer vir ewig lewendig maak – dit is immers vir sy wette dat ons sterf.”

14) Toe hy op die punt was om dood te gaan het hy gesê: “Ek wil graag deur mense doodgemaak word omdat ek op God hoop om my lewe weer vir my terug te gee. Maar wat julle betref: vir julle sal daar geen tweede kans vir ʼn opstanding tot  ʼn nuwe lewe wees nie.”

Hierdie is een van die heel eerste beskrywings van Jode wat vir hulle geloof gemartel word. Hulle gee egter nie om nie, want hulle het ʼn verwagting dat die Here sy regverdige mense weer gaan opwek. Hy gaan vir hulle ʼn nuwe lewe gee. Hier kry ons van die eerste verwysings in die Jodedom na die ewige lewe wat gaan kom.

Skrywer: Prof Jan van der Watt