23 Desember: Moenie die lewe onderste bo draai nie. – Jan van der Watt

Open 8:6-9:21 (fokus 9:13-21)

Mense kan dinge soms so agterstevoor draai. ʼn Klein dogtertjie was baie lief vir haar “Simba die Leeu” boekie. Toe sy eendag in die museum ʼn skildery sien van Christene wat deur die Romeine in die arena vir die leeus gevoer word, huil sy: “Daardie arme leeu het nie eers ʼn Christen gekry nie”.

Net so draai mense soms hulle godsdiens onderste bo. In 9:20 lees ons hoe mense afgode maak. As hulle nie goud het nie, maak hulle dit sommer van hout, net solank hulle iets het om te aanbid. En dan wonder ‘n mens wat het van die ware God geword? Hedendaagse mense kan hulle wenkbroue daarvoor lig, maar ons moet nie te vinnig oordeel nie.

Afgode hoef nie van goud of hout gemaak te wees nie. Dit kan iets anders ook wees. Jy mag dalk jou knie voor iets anders buig en daaraan jou eersgeboortereg verkoop. Dit mag jou werk wees, of die najaag van ideale, of status… iets waarvoor jy jouself gee met die hoop dat dit jou lewe voller en meer sinvol sal maak. Afgodediens lê nie noodwendig in die “afgod” nie, maar in jou wat jouself in “diens” aan iets weggee. Dit gaan oor jou wat jouself op die altaar van iets lê wat jou lewe dan totaal beheer.

Dit is partymaal moeilik om agter te kom dat jy jou knie buig en ‘n mens wil dit nie maklik erken nie… maar ʼn mens kan tog toets of dit so is: waaraan spandeer jy die meeste van jou tyd? Wat weeg vir jou die swaarste as jy keuses moet maak? En neem dit jou fokus van God af weg?

Moenie die dinge in jou lewe onderste bo draai nie. Op die ou einde is dit nie die moeite werd nie.




22 Desember: God se hand is altyd vir jou daar. – Jan van der Watt

Open 6:12-8:5 (fokus 7:1-8)

Soms kan dinge vir ʼn mens net te veel word. Dit voel asof die duiwel jou om elke hoek en draai inwag en behoorlik koudsit. En as jy na God begin soek is dit byna of ʼn wolk tussen jou en God inskuif. Jy sukkel om te bid en om te glo gaan ook nie meer so maklik nie. Jy voel hoe Twyfel sy arm om elke hoek en draai om jou slaan en hy hou jou so styf vas dat jy uiteindelik nie eers meer probeer om hom weg te stamp nie.

Die duiwel het dit vir die mense in Openbaring ook maar baie moeilik gemaak. Hy het hard probeer om die wolk van twyfel tussen hulle en God in te kry. En hy was gedeeltelik suksesvol – ons lees dat van die gemeentelede ook maar van die Here begin afdwaal het (in hf 2-3 sien ons dit duidelik).

Maar God los ons nie alleen nie. Hy sit nie stil terwyl die duiwel sy mense terroriseer nie. Dit lees ons 7:3: Die mense wat God dien word gemerk; met ander woorde, God eis openlik sy mense op. Hulle si syne. En wees verseker – God self sorg vir sy eiendom. Sy krag is hulle krag, sy liefde is vir hulle daar. As die wolk dus tussen ons en God inskuif en ons voel of ons van Hom af wegglip, moet ons weet, God glip nie van ons af weg nie. Ons is syne, want Hy het ons gemerk. Juis dan steek Hy sy onsigbare hand uit om ons stywer vas te hou, want ons is Syne. In en deur die donker van die wolk moet ons maar net ons hand uitsteek en voel… sy hand is daar.

Vertrou maar net – dinge mag vir jou baie word, maar dit sal nooit te veel word nie. Jy is deur God gemerk!




21 Desember: Ons geliefdes is by God. – Jan van der Watt

Open 5:1-6:11 (fokus 6:9-11)

Waar gaan ons geliefdes heen as hulle doodgaan? Dit is seker een van die algemeenste vrae wat mense vra wat iemand aan die dood afgestaan het. ʼn Mens wil so graag weet dat die persoon veilig is, want dit troos darem so bietjie.

In 6:10-11 loop ons die mense wat dood is onder die altaar van die Here raak… en wat doen hulle daar? Hulle praat met God, so naby is hulle aan Hom. Immers, die altaar is ‘n baie spesiale plek, ja, dit is die plek waar mense in die Ou Testament die naaste aan God gekom het. Daar het die mense vir God offers gebring. Dit is die plek waar mense en God bymekaar kom – die een om te gee en die ander Een om te ontvang. Dáár kom God met sy genade en vergifnis by en tussen sy mense staan. Daarom is dit so betekenisvol dat Openbaring sê dat juis die plek waar die mense wat gesterf het wag, die plek is waar die Here ook spesiaal teenwoordig is.

Die taal is natuurlik simbolies – God prop nie almal wat dood is onder ʼn altaar in nie. Wat die gedeelte wel sê is dat ons geliefdes wat in die Here gesterf het, by God is. Nader as by ‘n altaar kan hulle nie kom nie. Hulle is nie alleen nie, maar sáám met Hom. Natuurlik wag hulle ook vir die wederkoms sodat alles volmaak kan wees en hulle in die nuwe Jerusalem saam met God kan wees. Maar intussen, terwyl hulle wag, is hulle al by God!

Wat ʼn troos is dit nie. Ons geliefdes is nou reeds by God… en ons gaan ook eendag daar wees.




20 Desember: Maak jou oproep aan die Here plaaslik. – Jan van der Watt

Open 3:14-4:11 (fokus 3:14–22)

ʼn Man vra eendag dringend vir twee dominees om namens hom vir die Here iets te vra. “Dit sal R100.00 kos”, sê die een. Die ander dominee onderbreek egter en sê: “By ons gemeente is dit net 25c”. “Waarom is dit so goedkoop by julle?” vra die man. “Wel”, kom die antwoord, “By ons is dit ʼn lokale oproep”.

Die verhaaltjie illustreer ʼn belangrike punt. Ons kan in die “godbesigheid” wees, sonder om naby God te wees. As ons Hom begin soek, moet ons langafstandoproepe maak en duim vashou dat die “lyn” duidelik en helder gaan wees. Soos in Laodisea kan God buite staan terwyl ons aan die binnekant onsself met allerhande “godsdinge” besig hou en dan dink ons hou ons besig met God (3:20).

Werklike Christenwees is “25c”, of eintlik “0c”-Christenwees. Die is om so naby die Here te leef dat jy enige tyd met Hom kan praat, en Hy met jou. Dit is om nie alleen in jou geestelike lewe besig te wees nie, maar om daar saam met Hom besig te wees.

Op geestelike gebied is daar nogal ʼn groot verskil tussen ʼn langafstand en plaaslike oproep. Maak joune plaaslik.