Ons gaan weer opstaan, al gaan ons dood (wederopstanding uit die dood)

Ons gaan weer opstaan, al gaan ons dood (wederopstanding uit die dood)

Wat gebeur as ʼn mens doodgaan? Is alles dan verby?

Wel, Paulus het verwag om in die hande van die Here te wees as Hy doodgaan (Filippense 1:23). Daar is dus lewe na die dood. Iewers in die toekoms gaan Jesus weer kom en dan gaan almal wat gesterf het, uit die dood opstaan (1 Tessalonisense 4:16; Johannes 11:23-25). Dit beteken hulle gaan hulle liggame weer terugkry en as volle mense (ʼn mens is altyd ʼn liggaam en ʼn gees) voor die regterstoel van God verskyn. Hierdie liggame van elkeen wat in Jesus geglo het, gaan verander word in verheerlikte liggame om dan vir ewig saam met God te wees.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




Die einde of dalk nie? (die dood)

Die einde of dalk nie? (die dood)

Die dood ken ons almal. Dit is omtrent al waarvan jy heeltemal seker kan wees… dat die dood iewers in die toekoms vir jou wag.

In die Ou Testament is die dood as ʼn soort eindpunt gesien. As jy dood is, is alles eintlik verby. God is ʼn God van lewe en as jy dus eers in die doderyk is, is jy weg van God af. Party het selfs gesê dat dit die duiwel se geheime wapen is, juis omdat hulle gedink het dat mense wat dood is van God afgesny is.

Maar Jesus het dinge kom omkeer. Hy het die dood oorwin, wat beteken dat die dood nie meer mense vir altyd van God af kan weghou nie. Die dood is soos ʼn tronk. Mense word daarin toegesluit. Maar Jesus het die sleutels en kan daarom die deure van die tronk (dood) oopsluit soos Hy wil en sy mense uit die tronk (dood) laat uitstap (Openbaring 1:18). Nou het die duiwel nie meer ʼn manier om mense van God af weg te hou nie. Daarom sê die Bybel dat Jesus die dood oorwin het en die ewige lewe vir mense gee (Johannes 3:16).

Ja-nee, Jesus het gewys dat Hy nie net praat nie. Toe Hy self uit die dood opgestaan het – met ander woorde die deure van die tronk oopgebreek het – het Hy gewys dat Hy sterker as die dood is. Die dood hou vir gelowiges geen gevaar meer in nie, juis omdat die krag wat Jesus het, groter as die krag van die “tronkdeure” is.

Daar word ook in Openbaring van die eerste en tweede dood gepraat. Die eerste dood is as ʼn mens fisies doodgaan – dit kan met ons almal gebeur. Die tweede dood is as jy met die finale oordeel voor God dit nie maak nie, ja, as jy nie die ewige lewe by God kry nie (Openbaring 20:14). Dan is jy vir ewig van God geskei, en dit is nie iets wat enigeen seker graag sal wil ervaar nie. Dit is die tweede dood.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy