Leef uit jou Doop: 5.7 Die doop van gemeentekinders

5.7 Die doop van gemeentekinders

In die wêreldwye Christelike gemeenskap word gemeentekinders op twee maniere gedoop. Dié kerke wat die kinderdoop verwerp, vereis dat die gemeentekinders eers self tot geloof moet kom. Dié wat die kinderdoop aanvaar, vereis dat hulle ouers die Here moet ken, en dan word hulle gedoop.

Wie van dié twee groepe kan hulle op die Nuwe Testament beroep? Dié wat die kinderdoop verwerp, is oortuig hulle kan. Hulle wys daarop dat al die duidelike doop voorbeelde in die Nuwe Testament die doop was van mense wat eers self geglo het. En dit is natuurlik waar. Maar wie van dié wat in die Nuwe Testament gedoop  is, was gemeentekinders? Was dit nie juis almal mense wat van buite gekom het nie? Is dit nie waar dat daar geen voorbeelde in die Nuwe Testament is van die doop van gemeentekinders nie, net soos daar ook geen voorbeelde van kinderdoop is nie? Is dit nie waar dat ons dus glad nie weet hoe hulle die gemeentekinders gedoop het nie?

 

Dan sit die twee groepe mos in presies dieselfde situasie: Nie een het duidelike voorbeelde in die Nuwe Testament van hulle manier om gemeentekinders te doop nie. Die stelling dat die kinderdoop nie in die Nuwe Testament voorkom nie, is dus volkome waar, maar dis die helfte van die waarheid. Dit moet aangevul word met: Die doop van gemeentekinders kom nie in die Nuwe Testament voor

nie. Wat beteken dit? Dat beide groepe hulle praktyk met afleidings uit die Bybel verantwoord.

 

Dié wat die kinderdoop verwerp, redeneer ongeveer soos volg:

♦   Daar is heelwat doopvoorbeelde in die Nuwe Testament.

♦   In alle gevalle is die volgorde: Eers geloof, en dan doop.

♦   Al is daar nie voorbeelde van gemeentekinders nie, aanvaar ons dat ons met ons kinders moet maak soos daar in die Nuwe Testament gedoen is met mense wat van buite gekom het.

♦   Ons behandel dus ons kinders soos buitestanders wat moet inkom.

 

Dit is sekerlik nie ’n onredelike argument nie. Ek kan my indink ’n mens kan daarmee tevrede wees, veral as jy aanvaar dat daar geen absolute duidelikheid oor die saak is nie.

 

Dié wat die kinderdoop aanvaar, redeneer ongeveer soos volg:

♦   Dit is duidelik uit die Nuwe Testament dat ons deur die doop in die Abrahamverbond opgeneem word.

♦   In hierdie verbond was daar van die begin af plek vir twee groepe: heidene en verbondskinders.

♦   Daar is geen getuienis in die Nuwe Testament dat die verbond verander het nie.

♦   Daarom aanvaar ons dat ons met ons kinders kan doen wat gelowiges in die Ou Testament met hulle kinders gedoen het: aan die kinders van gelowiges ’n geloofsakrament bedien.

 

Is dit nie ook ’n redelike gevolgtrekking nie? Is dit nie minstens net so sterk op Bybelse gegewens gegrond nie? Maar dit beteken dat beide groepe, aanvaarders én verwerpers, hulle dooppraktyk op aannames bou, en nie op direkte Skrifgegewens nie. Op sigself is daar niks mee verkeerd nie. Beide groepe doen dit ook wat baie ander dinge betref soos die Sondagviering, die Drie-eenheidsleer,

vroue wat nagmaal gebruik (5.3.1).

 

Maar terwyl beide praktyke op aannames berus, is dit seker gepas dat hulle vir mekaar ruimte laat? En dan sou dit seker ook nie so vreemd wees dat iemand van oortuiging kan verander en oorgaan na die ander standpunt nie? In die praktyk is dit so dat daar veel meer mense oorgaan van die “aanvaarders” na die “verwerpers” as anders om. Is dit dalk omdat die denkproses van die vererpers

eenvoudiger is?

♦   Al die duidelike doopvoorbeelde in die Nuwe Testament is die doop van gelowiges.

♦   Dus moet ons kinders gelowiges wees om gedoop te word.

 

Die denkproses van die aanvaarders is moeiliker, of minstens langer.

♦   Ons word deur die doop in die Abrahamverbond opgeneem.

♦   Daarin is van die begin af twee groepe opgeneem: buitestanders wat eers moes glo (Abraham), en gelowiges se kinders wat eers besny is en dan self moes glo (Isak).

 

Groepe wat die kinderdoop verwerp, het altyd nog ’n paar vrae. Het daar regtig niks aan die Abrahamverbond verander nie? Dit het tog van die besnydenis oorgegaan in die doop? En is dit nie net seuntjies wat besny is terwyl almal nou gedoop word nie? Waarom het die besnydenis oorgegaan in die doop? Die vraag is sleg gestel. Dit is ’n oorvereenvoudiging om te sê die besnydenis het oorgegaan in die doop. Dit is veel ingewikkelder. Om dit te verstaan, moet ’n mens leer om histories oor die Nuwe Testament te dink. Alles was nie die eerste Maandagoggend na die opstanding van Jesus duidelik en klaar uitgewerk nie.

 

Die Christelike doop was aan die begin sterk op reiniging en vergifnis ingestel (Hand 2:38; 22:16). Dit sluit natuurlik aan by die Groot Versoendag (Lev 16). In hierdie tyd het die Jode wat as volwassenes gedoop is, nog hulle kinders laat besny (Hand 21:21). Die doop word op hierdie stadium nog nie aan Abraham en die Abrahamverbond verbind nie. Dit kom eers later as die doop veral by Paulus geleidelik ’n veel ryker betekenis ontwikkel. Dan verbind hy nie net die doop nie, maar ook die geloof en eintlik die hele evangelie aan Abraham en die Abrahamverbond (Gal 3; Rom 4). Maar dis omtrent 20 jaar na die opstanding.

 

Dit is eers in hierdie tyd dat die gedagte kon ontstaan dat daar eintlik ’n direkte verband is tussen die betekenis van die besnydenis en die doop (5.3.4), ’n oortuiging wat dan ook later in Kolossense 2:11-12 voorkom. Eers van hierdie tydstip af sou dit vir die Joodse gelowiges onnodig geword het om hulle kinders te besny.

 

Maar waarom dan ook dogtertjies doop as die besnydenis net vir mans en seuntjies was? Ons het geen duidelike uitsprake hieroor in die Nuwe Testament nie. Maar dis wel duidelik dat vroue, en dus ook dogtertjies, sterker na vore gekom het as in die Ou Testament waar hulle met respek gesê tweede gekom het. Veral Paulus gee ’n nuwe plek en veral ’n nuwe selfstandigheid aan die vrou. In

Galasiërs 3:28 kry sy langs die man ’n gelyke posisie, en elders voeg Paulus doelbewus vroue by waar daar net van mans in die Ou Testament sprake was (2 Kor 6:18), en dit nogal juis in ’n verbondsuitspraak. Dit sou dus ’n taamlik vanselfsprekende oorgang gewees het om ook vroue en dogtertjies te doop.

 

Kerke wat saam met die grootdoop ook die kinderdoop bedien, het dus inderdaad meer te verduidelik as kerke wat die kinderdoop verwerp. Maar op sigself kan dit natuurlik nie ’n geldige beswaar wees nie. Dit is egter waarskynlik wel ’n verduideliking waarom meer mense van standpunt verander na die verwerpers toe as na die aanvaarders toe.

 

Mens wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike doop. Leef uit jou Doop (2011) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die doop.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

Skrywer: Prof Adrio König




Leef uit jou Doop: 5.6 Is “eers geloof, dan doop” onveranderlik?

5.6 Is “eers geloof, dan doop” onveranderlik?

Kan ons saam die volgende aanvaar?

1. Die doop lyf ons in die Abrahamverbond in.

2. Die besnydenis was ’n geloofsakrament.

3. Dit is bedien aan heidene soos Abraham wat van buite gekom het en eers tot geloof in die Here gekom het.

4. Maar dis ook bedien aan verbondskinders wat agterna moes glo.

Beteken dit nie dat in die verbond waarin ons nou leef, verbondskinders in die Ou Testament ’n geloofsakrament gekry het nie? Dan was daar mos twee volgordes:

♦   Vir heidene: Eers geloof, dan besnydenis.

♦   Vir verbondskinders: Eers besnydenis, dan geloof.

Wat in die Nuwe Testament maak dit onmoontlik? Wat presies het verander in die Abrahamverbond? Waarom kry ons nêrens in die Nuwe Testament enige aanduiding van sulke veranderings nie? Dit beteken dat die volgorde geloof-doop vir mense geld wat soos Abraham van buite kom, maar die volgorde doop-geloof vir kinders van gelowiges.

 

 

Mens wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike doop. Leef uit jou Doop (2011) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die doop.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

 

 

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

Skrywer: Prof Adrio König

 




Leef uit jou Doop: 5.5 Die verband tussen die besnydenis en die doop

5.5 Die verband tussen die besnydenis en die doop

Ons het reeds gesien dat die besnydenis ’n geestelike betekenis gehad het (3.6). Verder ook dat daar ’n baie opvallende verband is tussen die geestelike betekenis van die besnydenis en die doop. In beide gaan dit om die nuwe lewe in gehoorsaamheid aan God.

Verder lyf die doop ons in dieselfde verbond in waarin die besnydenis Abraham ingelyf het.

Christene wat die besnydenis bloot as ’n “vleeslike” saak beskou, as ’n teken dat iemand ’n Jood is, beweer dat hierdie duidelike geestelike betekenis net vir Abraham self gegeld het, en dat die besnydenis ná Abraham net ’n nasionale, vleeslike betekenis gekry het.

Kom ons beoordeel hierdie siening in die lig van Paulus se argument in Romeine 4. Hy begin met die stelling dat Abraham se besnydenis ’n bewys was dat God hom vrygespreek het omdat hy geglo het (4:11). Daarna gaan hy dadelik oor na twee ander groepe wat ook besny is:

♦   die heidene wat soos Abraham van God gehoor het en hulle tot Hom bekeer het,

♦   en die kinders van die gelowiges.

Van die eerste groep skryf hy dat hulle net soos Abraham geglo het vóór hulle besny is, en dat hulle besnydenis dus net soos Abraham s’n, ’n bewys was dat hulle “deur God vrygespreek is omdat hulle glo”. Hoe is dit nou moontlik dat hulle besnydenis skielik sy duidelike geestelike betekenis verloor, en net ’n vleeslike betekenis het?

 

Die tweede groep (4:12) is “dié besnedenes wat nie net besny is nie, maar ook glo, soos Abraham geglo het”. Dit is dié Jode wat nie net as babas die letterlike besnydenis ontvang het nie, maar ook die geestelike betekenis van die besnydenis, wie se harte besny is, wat glo.

 

Eers net terloops: Dit is ’n wonderlike deurbraak uit die geslote kring van Jode wat alleen op Abraham en God wou aanspraak maak asof Abraham net hulle vader, en God net hulle God is. Paulus breek hiermee terug tot by Genesis 12:3, God se oorspronklike belofte aan Abraham dat al die volke van die aarde in hom geseën sal wees. Paulus herhaal hierdie universele vaderskap van Abraham effens later: “Hy is immers die vader van ons almal” (4:16), wat Jode én heidene insluit, maar net dié wat glo. En dit is presies wat ons hier in 4:11-12 het: Abraham is die vader van twee groepe:

♦   die vader van dié heidene wat net soos hy tot geloof in die Here kom, en daarna besny is,

♦   en ook die vader van dié Israeliete wat nie net as babas besny is nie, maar ook glo.

 

Maar die groot saak hier is nou die feit dat Paulus

♦   enersyds die volle geestelike betekenis van die besnydenis beklemtoon (die besnydenis is ’n geloofsakrament),

♦   maar dan terselfdertyd verwys na die situasie van die kinderbesnydenis: die Jode wat nie net besny is nie, maar ook glo.

 

Wat het ons hier? Die bekende situasie van kinderbesnydenis in die Ou Testament, maar terselfdertyd die volle beklemtoning van die geestelike en geloofsbetekenis van die besnydenis. In beginsel is dit moontlik dat iemand sal (probeer) ontken dat Paulus met die tweede groep inderdaad verwys na die Jode wat as babas besny is en agterna self geglo het.

 

Maar dit los nie die “probleem” op nie. Die “probleem” is dat Paulus die geestelike betekenis van die besnydenis erken en dat ons mos almal weet dié besnydenis is vir eeue lank hoofsaaklik aan babaseuntjies bedien. Kan ’n geloofsakrament aan die kinders van gelowiges bedien word? Dit het gebeur vir eeue lank. Waarom kan ons nie in dieselfde verbond daarmee voortgaan nie? Daar is net een manier waarop die goeie reg van die kinderdoop ontken kan word, en dit is om te beweer dat die Abrahamverbond in werklikheid radikaal verander het in die Nuwe Testament, dat die een faset van hier die verbond wat verreweg die bekendste was, die insluiting van gelowiges se kinders, in die Nuwe Testament verval het. Maar daarvan is daar geen getuienis in die Nuwe Testament nie. Die hele manier waarop juis in Romeine 4 oor hierdie verbond in sy Ou-Testamentiese gestalte praat, spreek sterk teen so ’n verandering.

 

Trouens dit sou tog die gelowige Jode soos ’n aardbewing getref het as hulle skielik moes hoor die een aspek van hierdie verbond wat vir hulle die bekendste was, bestaan nie meer nie. Daar is tog nie ’n manier om jou in te dink dat so ’n verandering stil-stil ingevoer sou word sonder enige  reperkussies in die Nuwe Testament nie.

 

Hier het ons nou nie meer net prinsipiële ruimte vir die kinderdoop nie. Hier sal mense wat die kinderdoop verwerp, moet antwoord op die vraag waarom die apostels kon swyg oor ’n basiese verandering in die grondstruktuur van die verbond waarin die doop ons inlyf. Dit kan tog seker nie betwyfel word nie dat die Joodse gelowiges wat gehoor het die doop lyf die dopeling in die verbond met Abraham in, sou aanvaar het dit is die verbond soos hulle dit vir eeue lank geken het.

 

Dit is nog geen direkte, duidelike verwysing na die kinderdoop nie. Maar dit bied selfs sinvoller grond om die kinderdoop te aanvaar as die grond wat ons almal aanvaar vir ons Sondagviering.

 

5.5.1 Die huisdope

Die huisdope was altyd ’n groot twispunt in die debat. Was daar babas of was daar nie? Daar is vyf verwysings na huisdope (Hand 16:15, 31- 34; 18:8 saam gelees met 1 Kor 1:14; Hand 11:14 saam gelees met 10:47, 48, en 1 Kor 1:16).

 

Daar is nogal redelike argumente aan beide kante. Die een kant het gevra hoe dit moontlik is dat daar in soveel gesinne nie babas was nie. Dit was die tyd van groot gesinne. Die ander kant het gesê ’n mens moet net die moeite doen om netjies te lees, dan sal jy sien daar was nie. Die dinge wat hierdie gesinne gedoen het, het eenvoudig babas uitgesluit. Hierdie mense het na die evangelie

geluister, hulle het geglo, hulle was vol blydskap (Hand 16:32-34). Babas kan dit nie doen nie.

Die vraag is egter of die saak nie effens ingewikkelder is nie. Die beredenering wat hier volg, gaan eindig met die slotsom dat ons nie weet of daar babas was nie. Indien jy daarmee tevrede is, hoef jy nie verder te lees nie, want dis nogal ’n ingewikkelde gedagte-ontwikkeling.

 

Kort saamgevat: In ’n gesprek sê ons nie alles volledig nie. Ons sê net wat nie klaar duidelik is nie.

Verduideliking: Kom ons kyk na twee sinne.

♦   Die hele gesin was vanoggend in die tuin besig.

♦   Die hele gesin is in die ongeluk dood.

Indien daar ’n baba in die gesin was, sal jy vanselfsprekend aanvaar die baba was nie ook in die tuin besig nie. Babas kan nie in ’n tuin werk nie. Maar jy sal ook vanselfsprekend aanvaar die baba is ook in die ongeluk dood, want babas kan in ’n ongeluk sterf. Wat beteken dit? Indien babas in daardie tyd gedoop is, sal jy aanvaar daar was ’n baba gedoop. Indien babas nie gedoop was nie, sou jy aanvaar het daar was nie ’n baba gedoop nie. So maklik en so moeilik is dit. Ons weet eenvoudig nie, en daarom is die stryd onsinnig.

 

Maar daar kan ander betekenis in die huisdope wees. Dit is opvallend dat in byna alle gevalle van doop daar van die gesin/huis/familie gepraat word. Dis besnydenistaal. So is daar in die Ou Testament oor die besnydenis gepraat: jy en jou huis. Waarom sal die apostels met dié taal aanhou as dit nie meer betekenis gehad het nie? Waarom nie net die mense noem wat gedoop is nie? Is dit nie dieselfde situasie wat ons gekry het in Romeine en Galasië nie? Dat die apostels eenvoudig met die “Abrahamstaal” aangehou het eenvoudig omdat die verbond met Abraham voortgegaan het. En die een ding wat regtig in die geskiedenis van Israel oor hierdie verbond bekend was, was die besnydenis van verbondskinders. Dan sê die huisdope vir ons die verbond het onveranderd voortgegaan.

 

 

Mens wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike doop. Leef uit jou Doop (2011) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die doop.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

 

 

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

Skrywer: Prof Adrio König

 




Leef uit jou Doop: 5.4 Is die Abrahamverbond die ou verbond?

5.4 Is die Abrahamverbond die ou verbond?

Dit word taamlik algemeen aanvaar onder gelowiges wat die kinderdoop verwerp dat die verbond met Abraham die ou verbond is wat deur die nuwe verbond vervang is (4.4). Maar ons het gesien dit is ’n misverstand.

Dink maar net aan die geweldige geloofsbetekenis wat veral Paulus aan Abraham gee. Ons het onder 2.4 die volgende opsomming uit Galasiërs 3 en Romeine 6 gemaak:

♦ Abraham het in God geglo, en daarom het God hom vrygespreek (3:6).

♦ Die goeie nuus (Grieks: “evangelie”) is al aan Abraham verkondig (3:8).

♦ Dié wat glo, is kinders van Abraham (3:7).

♦ Dié wat glo, word saam met die gelowige Abraham geseën (3:9).

♦ Deur Christus se kruis het ook heidene deel gekry aan die seën wat God aan Abraham toegesê het (3:14).

♦ Christus is die eintlike nakomeling van Abraham (3:16).

♦ God het sy genade aan Abraham deur ’n belofte toegesê (3:18).

♦ As ons aan Christus behoort, is ook ons nakomelinge van Abraham (3:29).

 

Ons het hier bygevoeg wat Paulus in Romeine 4 oor Abraham skryf:

♦ Hy is die vader van alle gelowiges (4:17),

♦ en ons moet glo soos Abraham geglo het (4:17).

 

Ons kan hieruit tog nie ’n ander gevolgtrekking maak nie as dat die doop gelowiges in die Abrahamverbond opneem. Dit mag vreemd klink vir dié wat die kinderdoop verwerp, maar wat staan daar anders in Galasiërs 3:27 en 29? En wat beteken die feit dat Abraham vandag nog ons vader is, anders as dat ons nog altyd in die verbond leef wat God met hom gemaak het?

 

Dit kan tog ook nie anders nie. Dis uit hierdie opsomming oor die betekenis van Abraham tog duidelik

dat die verbond met hom die genadeverbond is, die geloofsverbond. En ons weet tog dat die ou verbond niks met Abraham te doen het nie. Dis tog eers vier eeue ná Abraham by Sinai gesluit, die wetsverbond, en uiteindelik deur Jesus afgeskaf (Jer 31:31-34; Heb 8). Die feit dat ons nog steeds deur die doop in hierdie verbond opgeneem word, beteken dat ons met reg kan vra of die basiese struktuur van hierdie verbond in die Nuwe Testament inderdaad onveranderd gebly het sodat sowel heidene as verbondskinders toegang kan kry.

 

Mens wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike doop. Leef uit jou Doop (2011) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die doop.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

Skrywer: Prof Adrio König