Die Ou Apostel Kerk

Die Ou Apostel Kerk – Pieter Verster

Vraag

‘n Leser het ‘n paar vrae oor Die Ou Apostel Kerk gevra. Prof Pieter Verster antwoord die vrae afsonderlik:

Ek wil graag my vorige vraag uitbrei. Ek het mos gevra indien ‘n persoon van Die Ou Apostel Kerk in ‘n verhouding is, en die priester keur dit nie goed nie om een of ander rede, sou hy dan sy lidmaat aanraai om die verhouding te verbreek?

Antwoord:

 

Prof Pieter Verster antwoord:

Die priester in die Ou Apostel Kerk het groot mag oor lidmate. Die lidmaat van die Ou Apostel kerk sou dan gehoorsaam moet wees aan die beslissing van die priester. Dit is duidelik dat die gesag van die priester nie uit die Woord afgelei word nie. Die gesag van Christus geld in die kerk. Alle ander gesag is afgeleide gesag en moet daaraan ondergeskik wees. Alhoewel die kerk wel tug mag toepas, moet dit altyd in liefde gedoen word en in afhanklikheid van Christus se gesag.

Vraag:

My vraag verder… al het hy dit dalk in die begin goedgekeur, maar sy lidmaat sal op ‘n stadium na hom toe gaan en sê, maar daar is deesdae verskille, rusie, sy of haar vriendin, vriend wil nie altyd meer by van die lidmaat se vriende gaan kuier nie, ens.

En veronderstel sy lidmaat sou dit nooit uit sy of haar eie wil, wou doen nie, het die ander persoon waarlik lief en weet dat daar aan die verskille gewerk kan word, sal die priester dalk aanraai, aandring daarop, dat sy lidmaat dit moet doen? Wat sou sy rede dan dalk daarvoor wees, dat sy lidmaat nie gelukkig sal gaan wees nie, en, en, en…….

En sal die lidmaat dan voel hy of sy moet dit doen omdat die priester nou so gesê het, want anders….., al is die lidmaat hoe lief vir die ander persoon, huil selfs baie, sou die lidmaat dan dalk se, ek wou “jou” nooit seermaak nie, wou jou net die beste gee, later dalk selfs sover gaan om vir die ander persoon te se, ek het jou nie lief nie!

Net om sodoende uit die situasie te kom?

 

Antwoord:

Daar rus groot verantwoordelikheid op elke individuele Christen. Ons kan nie ons verantwoordelikheid oordra op die predikant, priester of apostel of wie ook al nie. Elkeen van ons moet luister na die Woord van God en gehoorsaam aan Christus deur die Heilige Gees die Here dien. Die priester en predikant se taak is om die Woord uit lê en die gemeente te rig op Christus en Hom alleen.

Vraag:

Indien die ander persoon in ‘n ander kerk as Die Ou Apostel Kerk is, sou die priester dit ook as ‘n rede tot die beëindiging van die verhouding aanraai, selfs op aandring.

Kan dit ook wees, waar dit in die begin van die verhouding alles honkie dorrie was, maar dan skielik is daar aanhoudende verskille en rusie, erge rusie van tyd tot tyd?

Wat is die rede dan daarvoor?  Kon iemand v.d. OAK dalk ‘n vloek, of wat ook al uitgespreek het?

Maar as die ander persoon waarlik Die Here Jesus ken, Sy kind is, ‘n wedergeborene is, kan dit ‘n uitwerking he?

Moet so persoon dan dalk gaan vir bevryding?

En ten laaste, mens kan maar net ernstig Bid vir so iemand van die OAK om waarlik ‘n ontmoeting met Die Here Jesus te hê.

Antwoord:

Christus is die Here van die kerk en moet gehoorsaam word. Hy lei ons deur sy Woord en Gees. In diepe afhanklikheid van die Here moet ons soek na die waarheid van God se Woord. Dit moet alles in ons lewe bepaal, ook ons verhoudinge. Mens kan inderdaad bid vir iemand van die OAK om waarlik die volkome bevryding in Jesus te ervaar. Jesus doen wondere, kan red en genees. Ons moet in afhanklikheid na Hom toe gaan, ook in krisisse. Jesus kan alle vloeke en bedreiginge afwend en ons help om dit te oorkom. Maar dan moet ons ons rig op Hom en Hom alleen en nie op mense en menslike oorwegings nie. Die reformasie het die volgende beginsels neergelê: Die Skrif alleen, genade alleen, geloof alleen en in alles Jesus Christus alleen. Daaraan moet ons bly vashou. Verhoudinge moet ook daarop bou en daaruit lewe.

 

Skrywer: Prof Pieter Verster




Die Ou Apostels

Die Ou Apostels – Pieter Verster

Vraag:

’n Leser het ’n vraag gevra oor die Ou Apostels. Wat glo hulle en verskil dit van die ander kerke soos die NG Kerk , Gereformeerde Kerk , Hervormde Kerk en AGS.

Antwoord:

Prof. Pieter Verster antwoord:

Wanneer op die oog af na die geloofsbelydenis van die Ou Apostoliese Kerk gekyk word, is daar baie waarmee saamgestem kan word.

Hulle bely soos volg

Ons Glo

In een God, die Almagtige Vader, die Skepper van die hemel en die aarde en alle dinge sienlik en onsienlik, en in een Here Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, gebore uit die Vader van ewigheid af. God uit God, en Lig uit Lig, waaragtig God en waaragtig mens, verwek deur die Heilige Gees en gebore uit die maagd Maria, wat gely het, gekruisig is, gesterf het, neergedaal het na die hel, en op die derde dag opgestaan het, wat in die hemel opgevaar het en aan die regterhand van God die Vader sit, vanwaar Hy weer kom in heerlikheid, om die lewende en die dood te oordeel, en aan wie se koninkryk daar geen einde sal wees nie, en in die Heilige Gees wat deur die Profete spreek, waardeur ons die beeltnis van die Vader dra, en wat in ons leer en lei in alle waarheid, en dat Hy een enige Here is.

Ons Glo

In Sy heilige Apostoliese Kerk, die gemeenskap van die heilige en die Apostel tot ons gestuur as die gesalfde van Jesus Christus.

Ons Glo

In die bediening van die drie heilige sakramente, naamlik die Heilige Doop met water tot bekering in die Naam van Jesus Christus, die Heilige Avondmaal, waardeur ons vergifnis van sonde deur die bloed van Jesus Christus ontvang, en in die Heilige Verseëling, deur die handoplegging van ‘n Apostel van Jesus Christus, waardeur ons die Heilige Gees ontvang, en in die beginning van die drie heilige sakramente, aan die siele in die doderyk deur middel van die lewende vir die dode.

Ons Glo 

In die heilige skrifte, die Ou en Nuwe Testament, en in die vervulling van al die beloftes daarin vervat.

Ons Glo

Ons siele word in die liggaam van Jesus Christus gereinig en beklee met geregtigheid as lede van die sielebruid, sodat ons as kinders van God, Hom bo alles moet liefhê, en in onderdanigheid moet dien, die broederskap moet eer, en ons naaste moet liefhê soos ons self; sodat ons ter wille van die Here, ons moet onderwerp aan die owerhede, en magte wat oor ons gestel is, en dat ons alle verordeninge moet gehoorsaam, asook die wettige heersers van die land, waarin ons woon moet erken en respekteer, al gaan dit met benoudheid gepaard. Amen

Daar is egter baie wat ook tot diepe kommer stem.

Die kernsaak vind ons die erkenning van die Apostel wat gestuur is as die gesalfde van Jesus Christus. Volgens die Ou Apostoliese Kerk bestaan die apostelamp voort en moet die gesag van die apostel in hulle kerk erken word. Hierdie Apostel spreek volgens hulle die lewende woord. Die Apostel verkry buitengewone mag.

Wat moet ons in die lig van die Skrif hieroor sê. In die Skrif is die Apostelamp iets besonders. Hulle het Jesus gesien en kan getuig dat Hy hulle in die amp bevestig het. Hulle was buitengewone getuies van die Here. Hierdie amp bestaan nie voort nie en die toekenning van buitengewone gesag aan huidige Apostels moet bevraagteken word. Die Apostels in die OAK neem dan ook ‘n plek in in die kerk wat radikale beslissing vel en dus ook in direkte verhouding met Jesus staan. Dit moet afgewys word.

Die sakrament van verseëling wat deur die Apostel opgelê word waarmee die Heilige Gees ontvang word, is ook nie Skriftuurlik verantwoordbaar nie. Veral die verwysing na die siele in die doderyk stem ‘n mens onrustig. In Jesus se gelykenisse word die grens tussen lewe en dood duidelik geteken.

Wat die Skrif betref word die Bybel geestelik verstaan en die letterlike verwysings ook vergeestelik. Die implikasie is dat weinig van die Skrif ook as ware gebeure aanvaar word.

Sake soos die kruisiging van Jesus en sy opstanding is egter essensieel vir ons geloof.

Die OAK beskou homself as die enigste weg tot saligheid en enigeeen wat gered wil word moet by hulle aansluit. Juis daarom het hulle geen ekumeniese bande met ander kerkgenootskappe of organisasies nie, en verlang ook nie om sulke bande aan te knoop nie.

Waar die Apostelamp op enige wyse die wonder van geloof in Jesus wil beheer is dit verkeerd en lei tot ‘n verkeerde leer.

Vergelyk ook die volgende skakels

http://www.met.org.za/htm/Afrikaans/Wat%20jy%20van%20Ou%20Apostel%20kerk%20moet%20weet.htm 

http://af.wikipedia.org/wiki/Ou_Apostoliese_Kerk

 

Skrywer: Prof Pieter Verster




Die verskil tussen die NG Kerk en Gereformeerde kerk

Die verskil tussen die NG Kerk en Gereformeerde kerk – Kobus Kok

Christine vra:

Ek wil graag weet wat die verskil is tussen die NG kerk en die Gereformeerde kerk.

Antwoord:

Dr Kobus Kok antwoord:

Die verskil tussen die NG Kerk en Gereformeerde kerk

Op teologiese vlak is daar eintlik baie min verskille tussen die NG Kerk en die Gereformeerde kerk. Die twee is eintlik direkte familie van mekaar. Die verskil tussen die twee het egter ʼn lang storie wat in 1652 begin. Jan Van Riebeeck, en die VOC was oor die algemeen Hollands-Gereformeerde gelowiges. Met die groei van die Kaap en die vestiging van al meer Europeërs in Afrika, het die Hollanders besluit om hulle dominees na Afrika te stuur. So kom Johan van Arckel in 1665 hier aan, maar nog sterk onder die beheer van die klassis van Amsterdam. Rondom 1688 het baie Franse Hugenote gevlug vanaf  Frankryk. Hulle was sterk gelowiges wat in die dampkring van Luther en Calvyn se Reformasie lyn gestaan het. Op daardie stadium was daar eintlik net twee groot bewegings in die Christendom – Die Rooms Katolieke en die Hervormers wat losgebreek het uit die Katolieke kerk. So kom die Franse gelowiges in Suid Afrika aan en hulle hou kerk in Frans. Met tyd is die klein groepie Franse geassimileer in die groter Hollandse gemeenskap en het die Hollandse Gereformeerde kerk en manier van doen die botoon gevoer. Die grootste en enigste kerk op daardie stadium was dus die Hollands-Gereformeerde Kerk, maar daar was ook in die Kaap ʼn Lutherse Kerkgemeenskap omdat so baie Duitsers vir die VOC gewerk het.

Aanvanklik het alles goed gegaan totdat die Britte die Kaap beset het in 1795 voordat die Franse dit kon doen. Op daardie stadium was daar geweldige konflik tussen die Britte en die Franse, en die Franse het teen daardie tyd al die Nederlande in Europa beset. Op hierdie wyse is die sterk band tussen die Kaaps-Hollandse Gereformeerde kerk en die moeder kerk in Amsterdam verbreek. Teen ongeveer 1806 het die Britte besluit om Suid Afrika langer te beset as wat aanvanklik besluit is en die spanning tussen die Boere en die Britte kon met ʼn mes gesny word. Die Britte sou Suid Afrika van toe af vir meer as ʼn eeu in haar ysterhand vashou. Met die ontdekking van goud en diamante het Brittanje nog sterker probeer om beheer oor die land en sy mense te kry. Al meer Presbiteriaanse dominees is uit Skotland ingevoer en hulle het ʼn groot rol gespeel in die kerklike lewe van die Kaaps Hollandse Gereformeerde kerk in SA. Baie van die Hollanders het nie kans gesien vir die Britte nie en het besluit om te trek. Teen 1840 het baie Hollanders die Kaap verlaat en noord getrek. Dit het bekend gestaan as die Groot Trek. Die boere trekkers het hulle al meer afgesny van die Britte en die Afrikaner Calvinisme het sterk in ʼn ander rigting ontwikkel as die van die Britse heersers. Met tyd sou die boere hulle eie onafhanklike republieke vorm (Republiek van Transvaal, ens). Die Voortrekkers het op ʼn stadium gevoel dat die Kaaps-Hollandse Gereformeerde Kerk kop in een mus is met die Kaapse regering en die Britte. Om hierdie rede het hulle nie die dominees en sendelinge van die moederkerk vertou nie. Die gevolg was dat daar meer divisies onder die boere en tussen die boere en die Britte ontstaan het.

Onder die Voortrekkers was daar diegene wat meer behoudend was en hulle het die singery van sekere liedere teengestaan. Hierdie groep sou later bekend staan as die Doppers, of die Gereformeerdes. Die hele storie rondom die gesingery het egter ook ʼn geskiedenis. In 1853 het die bekende Dirk van der Hoff na Suid Afrika gekom van Holland af en was ʼn dominee in die Nederduitsch Hervormde Kerk wat in 1856 gestig is. Teen 1860 is daar duidelik onderskei tussen die Hervormde Kerk en die Kaapse Gereformeerde Kerk. In Holland was daar ook skerp verskille oor die gesingery in die kerk. ʼn Sekere groep het weggebreek van die Nederlandse Gereformeerde Kerk en die Christelike Gereformeerde Kerk gevorm. Een van die bekende dominees van hierdie groep was Dirk Postma wat ʼn dominee in die Hervormde Kerk in Suid Afrika geword het. Hy het nie baie gehou van die gesingery van sekere van die liedere nie, en breek toe saam met die Doppers weg en vorm die Gereformeerde Kerk. Skielik was daar nie minder nie as drie Hollands-Gereformeerde susterskerke nie, naamlik die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die Kaap, die Nederduitsch Hervormde Kerk as staatskerk en die Gereformeerde kerk onder leiding van Ds Postma.

Na die uitbreek van die Anglo Boereoorlog (1899-1902) was die Boere volk in skerwe gelaat. Plase is afgebrand en tienduisende vroue en kinders het in die konsentrasie kampe gesterf. Die NG Kerk sou in die tyd na die Boereoorlog ʼn leidende rol speel om ʼn gebroke volk weer op te bou en om die ver-Engelsing van die Boere teen te staan, Hierdie kerk het haar beywer vir die herbou en ontwikkeling van die Afrikaner. Baie Boere sou in hierdie tyd die NG Kerk bywoon. Prominente politiese leiers sou NG Kerk lidmate wees en uiteindelik sou die NP en die NG Kerk hand om die lyf saamloop. Die res is geskiedenis….

Statisties is die susterskerke besig om aansienlik te krimp en sommige meen dat die kerke in ʼn krisis verkeer. Dit sou wonderlik wees as ons weer kon verenig – of ten minste ons Gereformeerde eenheid sou verklaar en opnuut mekaar in eenheid vind!

Geraadpleegde werke:

Lees gerus meer by http://en.wikipedia.org/wiki/Nederduits_Gereformeerde_Kerk

Daar sal binnekort ʼn artikel verskyn waarin Dr. Johan van der Merwe, dosent in Kerkgeskiedenis aan die Universiteit van Pretoria, verder in die verskille en ooreenkomste tussen die NG Kerk en Gereformeerde kerk sal ingaan.

 

Skrywer: Dr Kobus Kok