Jesaja – Die oordele oor ander nasies (hoofstukke 15-27) – Francois Malan

Die res van hoofstukke 13-23 se oordele oor die ander nasies sluit die volgende in:

Hoofstukke 15-16 is ‘n uitgebreide uitspraak van oordeel oor Moab (nageslag van Lot (Gen 19:37), wat oos van Jerigo en die Dooie See gewoon het.  Hulle koning Balak het vir Bileam geroep om Israel te vervloek (Num 22-25). Later was Israel 18 jaar lank onder Moabitiese bewind tot die linkshandige rigter Ehud die Moabitiese koning Eglon vermoor het, Israel se manskappe geen Moabiet deur die Jordaandriwwe laat kom het nie en 10,000 Moabiete verslaan het (Rigters 3:14,21,29).  1 Sam14:47 vertel van Saul se oorlog teen Moab; Dawid skuil tydelik vir Saul in Moab (1 Sam 22:1-5), maar verslaan hulle later toe hy koning word (2 Sam 8:2). Later veg Moab saam met Nebukadnesar van Babel teen Juda (2 Kon 24:1-2). En in Jesaja 15-16 voorspel die Here die uitwissing van Moab. Hulle vernaamste god was Kamos.

Hoofstuk 17 het ‘n uitspraak van die Here teen Damaskus/Arameërs en Efraim/Israel, wat in koning Agas van Juda se tyd die land Juda wou oorneem (1 Kon 16:5; 2 Kronieke 28:5-8). Aan die einde (17:12-14) is daar ‘n algemene uitspraak teen die baie nasies wat Juda aanval en stroop.

Hoofstuk 18 voorspel dat die lang mooi (gladde vel) mense van Etiopië (Kus, suid van Egipte), wat nie teen Assirië veg nie, na Jerusalem vir die Here geskenke sal bring met hulle papirusbote (ná Jerusalem se wonderbaarlike redding uit Assirië se hand soos in Jesaja 36 beskryf is?).

Hoofstuk 19 se eerste 15 verse is in digvorm met die aankondiging van die Here se oordeel oor Egipte wat toe waarskynlik deur die sterk Etiopiese koning Sebaka oorgeneem word (716 v.C.) en ‘n droogte die Nyl laat opdroog (19: 5-10) Verse 16-25 bestaan uit vyf prosa-gedeeltes wat elkeen begin met ‘op die dag’ wanneer die Here Egipte genadig sal wees, ingelei met Egipte se vrees vir die Here (19:16-17) en verder uitgewerk word met hulle aanvaarding van die Here as hulle God, met vyf Joodse kolonies en tempels in Egipte.

Hoofstuk 20 vertel van Jesaja wat drie jaar lank kaal moes loop (net in onderklere?) as simbool vir Etiopië en Kus oor wat met hulle sal gebeur as hulle in opstand teen Assirië kom. Egipte is agtereenvolgens in 670 v.C. en 667 v.C. deur Assirië verower.

Hoofstukke 21-23 is oordeelsuitsprake oor vyf lande:

Babel (21:1-10), moontlik toe Hiskia die Babiloniese afvaardiging te vriendelik ontvang het (2 Kon 20:12-16) ,

Edom, nageslag van Esau, woon  suid van Juda (21:11-12).

Arabië (21:13-27) lê oos van Moab, en word ook deur Assirië ingeneem.

Jerusalem/Juda (22:1-25) wat soos die ander nasies geword het, word nou saam met die nasies veroordeel. Ten spyte van die profete se visioene van waarskuwing gaan hulle rustig voort en sê: ‘Laat ons eet en drink, want môre sterf ons’ (22:13; in 1 Kor 15:32 aangehaal). In 22:15-28 word Sebna, die vertroueling van die koning Hiskia in Jerusalem veroordeel, wat waarskynlik die opstand teen Assirië organiseer, maar sy opvolger Eljakim kry dieselfde oordeel.

Tirus/Fenisië (23:1-18) lê noord van Israel met Tirus op ‘n eiland in die Middellandse See, die sentrum van die handel in die Ooste, wat strek van Babel, Egipte, Siprus, tot Tirus in Spanje; ook Tirus sal onder gaan (23:1-16)  maar weer deur die Here herstel word tot ‘n land wat sy winste aan die Here sal wy (23:17-18).

Hoofstukke 13-23 beskryf die Here se oordeel oor die vreemde volke, maar  die fokus is op Juda, om hulle te oorreed om nie ooreenkomste met die volke te sluit nie, want hulle bied ‘n valse hoop aan. Die volk van die Here, deur Hom gemaak (14:32), moet die Here alleen vertrou vir hulle hulp. Hy heers oor Juda en sy amptenare, en oor al die nasies en alle mense (as hulle Maker 17:7), oor die wêreld-ekonomie, oor die natuur (reën en droogtes 15:6;

19:5, oeste en misoeste, 16:9-10), oor die mens se denke (19:14, 21); Hy stel mense aan en verwyder hulle uit hulle amp (22:19,21); Hy laat koninkryke ondergaan en herstel hulle (16:13; 23:9,17).

Hoofstukke 24-27 verkondig en beskryf die oordeelsdag oor alle nasies van die wêreld (vgl ‘die dag van die Here’ in 24:21; 25:9; 26:1; 27:1; 27:12), ‘n dag van oordeel oor die vyande van Israel, maar verlossing vir Israel en dié vreemde nasies wat die Here se koningskap aanvaar. Bonatuurlike en aardse vyande word vernietig (24:21-22; 27:1); so ook die dood (25:8; 26:19,21 van die min tekste in die O.T. wat ‘n opstanding uit die dood in die vooruitsig stel). Dit alles is rede vir lofsange wat die Here besing en dank (25:1-5 vir sy verlossingsplan wat Hy deurvoer en as toevlug vir die armes; 25:9-11 Hy het ons gered; 26:1-6  Hy is ons beskermer, ‘n veilige toevlug). Dit gaan nie net oor die verre toekoms nie, maar ook oor Jesaja se tyd vir Jerusalem/Juda (24:23; 26:1),  Moab 25:10), Egipte en Assirië (27:12-13). Die hoofstukke is waarskynlik later in die boek Jesaja ingevoeg, na die tyd van die ballingskap in Babel.

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Jesaja – Verdrukkende regerings kom tot ’n val (14:12-32) – Francois Malan

14:12-20 Hier is ’n lang gedig wat nadink en feesvier oor die omwenteling in die geskiedenis. Die redes en gevolge van die val van die magsmisbruikers word met feesvreugde bedink deur die verdrukte gemeenskap van getroues. Hulle is getuies van die verdrukkers se val, en hulle vier reeds hulle Godgegewe vryheid, al lewe hulle nog in afwagting daarop.

14:12 Die tema van die gedig word weer, soos in 14:4b, met ‘n retoriese vraag ingelei, wat spottend uitnooi om te rou: ‘Hoe het jy tog uit die hemel geval, Môrester seun van die Daglumier (die rooi skynsel van die daeraad), jy is tot op die grond neergevel, onderdrukker van nasies!’ Die onderdrukker se ambisie om na die hemel op te klim, om ‘n plek tussen die gode in te neem (‘n ster om soos die son te skyn), om as onderdrukker van die onskuldiges die troonkamer van die goeie God oor te neem, eindig in uiterste mislukking – hy is nie eers meer die Môrester nie. Die goeie triomfeer altyd, die wêreld is veilig, ons is verlos!

14:13-14 Die valse ambisie van die verdrukker word verwoord in sy arrogansie in hierdie twee verse. In sy hart het hy gesê – homself verbeel – ek sal opklim…ek sal verhoog…ek sal sit…ek sal opklim…ek sal wees…. So ‘n selfbevorderende verbeelding word oorheers deur ‘n skaamtelose ‘ek’! Hy sê dit miskien nie altyd prontuit nie, maar deur sy optrede beklemtoon hy sy sug na alleenheerskappy, dryf hy die Here uit, en weier hy om hom aan die kragtige hand van die Here te onderwerp (ek sal opklim na die hemel, my troon bokant God se sterre oprig, sit in die vergadering op die godeberg in die hoogstes van die Noorde, opstyg bo die hoogtes van die wolke, ek sal myself beskou as die Hoogste/as God). Dit is waaroor onderdrukkende maatreëls in die politiek gaan.  Dit sal nie werk nie, sê verse 15-17.

14:15-17 Teenoor die verbeeldingsvlugte van grootheid om selfs die hemel oor te neem, kom die Here se oordeelswoord: ‘Maar jy…! vir jou selfverhoging en jou arrogansie is daar nie plek in die hemel nie. Die opkomende ster word ‘n verskietende ster wat (deur die Here) verlaag word tot in die onderwêreld, Sjeool, die plek van die uiterste magteloosheid. Sy ambisie lei toe nie na die hemel nie, maar word neergeslaan. Hy kry toe nie die hemel nie, maar die onderwêreld; nie die hoogste godeberg in die Noorde wat na die hemel lei nie, maar  die onderste deel van die put wat na die doderyk lei.

Dié verlaging is skielik, totaal en verbysterend, sodat toeriste kom om na jou lyk te kyk, en hulle te verwonder oor die geweldige omkering. Hulle kyk na die dop van mag en verwonder hulle oor die pad van die man wat gister nog die wêreld beheer het, nasies laat bewe het, die aarde verwoes het in die naam van ontwikkeling, stede ingeneem het en mense in die tronk gestop het. Die man wat met mense gemaak het wat hy wou sonder om twee keer daaroor te dink. En nou?  Die Bybel weet dat daar ‘n Mag is wat ver meer betroubaar is as hierdie terroriseerder van die aarde. As die Môrester, wat die dag aankondig, misluk in die lewe, word sy mislukking al duideliker in die dood:    

14:18-20a Gewoonlik word konings geëer na hulle dood, met volle eerbewys begrawe in hulle eie praalgrafte in rots uitgekap.  ‘Maar jy… word nie eers begrawe nie. Sy lyk word soos die armstes s’n weggegooi – die grootste skande wat ‘n mens destyds kon oorkom was om nie begrawe te word nie – tussen die lyke van dié wat met die swaard deurboor is – in sy veldtogte, en op getrap word – in die massa as kos vir die roofvoëls.

Anders as konings wat volgens ordelike reëls regeer en met eer begrawe word, word hierdie tiran nie eers begrawe nie, want hy het sy eie nes vuil gemaak deurdat hy sy eie land verwoes het en sy eie mense doodgemaak het. Eer wat gebou word op dreigemente, geweld en prag wat deur uitbuiting verkry word, kan nie stand hou nie.

14:20b-21 Die gedig kyk verder as die weggegooide lyk en die diepte van die doderyk.  Ná die dood van ‘n tiran is daar gewoonlik volgelinge en familie wat sy gewelddadige en uitbuitende regering voortsit. Daarom moet sy nageslag saam met hom uitgeroei word sodat die naam van die slegte mense nie eers genoem word nie, van hulle nageslag nie eers ‘n herinnering oorbly nie. Die permanente uitwissing van ‘n dinastie is die enigste seker manier  om te verseker dat dit nie weer sal gebeur nie (vgl. 1 Konings 15:29-30 Jerobeamfamilie; 2 Kon 10:17 Agabfamilie). Die Assiriërs, Babiloniërs, later die Grieke en daarna die Romeine se regeerders het graag hulle eie versterkte hoofstede gebou om hulle naam vir altyd te verseker. Maar die digter voorsien die uitwissing ook van hulle stede.

14:22-23 Aan die begin en einde word die Here van die leërskare en sy uitspraak genoem, om te verseker dat dit van Hom af kom, en deur Hom, wat die leërs van die aarde bestuur, uitgevoer sal word. Die vernietiging van Babel is totaal. Sy naam sluit sy reputasie, roem en waarde in. Vir Babilon sal nie eers ‘n oorblyfsel van die stad en sy bevolking voortbestaan nie. Dit word die blyplek van ystervarke/krimpvarkies/uile (dieselfde Hebreeuse woord word vir al drie gebruik), wat geen bedreiging vir Israel en die land inhou nie. Vir die heersers is dit onheilspellende nuus, vir Israel goeie nuus van verlossing uit die verdrukking.

14:24-27 Die gedig brei die Here se straf uit, eers oor Assirië, die oorheersers in Jesaja se tyd vanuit die noorde, in vers 25 en in die ander verse oor enige wrede oorheerser;

14:28-32 Daarna kom die Filistyne aan die beurt, Juda se suidelike bure, wat ook onder die Assiriërs gely het. Hulle moet hulle nie verheug oor Assirië se val nie, daar kom nog erger onderdrukking wanneer die Babiloniërs oorneem. Vir Jerusalem/Sion se armes is daar egter uitkoms uit die aanslag van die Assiriërs (vgl. Jes 36).

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Jesaja – Vrede sonder Babel (14:1-11) – Francois Malan

14:1-2  Omkeer, deernis en tuiskoms.

14:1 Die hoofstuk begin met ‘n ’maar!’ Die geweldige en harde aftakeling wat vir Babel in hoofstuk 13 voorsien is, het belangrike nagevolge vir die Joodse gemeenskappe in die Babiloniese ryk. Soos teenoor al sy kolonies van volke wat hy onderwerp het, was Babel ook meedoënloos teenoor Israel (Jes 47:6). Maar ná Israel se straf uitgedien is, sal die Here ‘Jakob met hartstog liefhê (die Hebreeuse woord vir hartstogtelik liefhê, regêm, word ook gebruik vir die baarmoeder, om die Here se liefde vir Israel met onselfsugtige moederliefde te omskryf) en Israel weer uitkies.’ Terwyl Babel se trots omskep is in vernietiging, sal die Here vir Jakob genadig wees en sy lyding omskep in ‘n lewe onder die ontferming van die Here, met godsdienstige en sosio-politiese gevolge. Die Here sal Israel weer sy uitverkore volk maak, ‘en Hy sal hulle laat rus/vestig in hulle land/grond’).

Die oorblyfsel van die tien stamme van Israel wat in 722 v.C. in die Assiriese ryk verstrooi is en deur Babel oorgeneem is, en die oorblyfsel van die twee stamme van Juda wat deur Babilonië in 587 v.C. as ballinge weggevoer is, is nou weer een volk, na hulle loutering van 185 en 70 jaar onderskeidelik, waardeur die oorblyfsel geleer het om die Here lief te kry en te vertrou (vgl. Hosea 1:11; 2:13-14;  3:5; 5:15-6:3; 11:12; 12:7).

Soos tydens die uittog uit Egipte sal vreemdelinge (lede van ander volke) hulle by Israel aansluit en hulle verbind aan die huis van Jakob (Eks 12:38).

14:2 Benewens die vreemdelinge wat vrywillig met hulle saamgaan, sal lede van ander volke die Jode na hulle land toe bring, hulle help dra en voortaan as slawe in hulle diens wees, soos die huis/volk van Israel in die Babiloniërs se diens was tydens die ballingskap. Israel sal heers oor die slawe-eienaars wat hulle onderdruk het. Israel sal weer gerespekteer word.

14:3-4a is die aankondiging van ‘n spotlied (spreuk/gelykenis) oor die koning van Babilon (14:4b-23). Die lied het dieselfde ritme as ‘n begrafnislied, wat met spot gesing word oor die ballingskap se lyding, verdrukking en harde werk as slawe. Dit sal gesing word op die dag wanneer die Here vir Israel rus gee van hulle swaarkry. Israel se slaweskap in Babel herinner aan hulle slawerny in Egipte waaruit die Here verlos het, en hulle vreugdeliedere daarna in Eksodus 15. Die lied kondig ‘n toekoms vir Israel aan, soos hoofstuk 11dit reeds vir Jerusalem aangekondig het en hoofstuk 12 waar hulle lof aan die Here uitgesing word.

14:4b-7 Uiteindelik Sabbatsrus

14:4 ‘Hoe (spottend gesê) het die verdrukker tot rus gekom (sjabat)! die verdrukker, eintlik sy arrogansie het tot rus gekom

14:5-6 ‘Die Here het die staf van die goddeloses verbreek, (nl.) die septer van die heersers, wat die volke in toorn geslaan het, houe sonder ophou, wat nasies in woede vertrap en oorheers het, wat sonder selfbeheersing vervolg het.’

Die verdrukker het roekeloos te kere gegaan. Maar die verdrukking het opgehou omdat die Here die mag van die heersers gebreek het. Die Here is vertoorn op Babel wat eens sy roede was, maar hy het die doel van sy straf geskend/verkrag met sy woede teen mens en dier en skepping, en weens sy arrogansie teen God.

14:7-8 Dit is stil en rustig in die skepping, wat verteenwoordig word deur die sipresse en die seders van die Lebanon wat onder die verdrukker se byl gely het. Die mensdom wat vertrap en sonder medelye vervolg is, breek uit in ‘n gejuig en ‘n vreugde uitroep oor die val van die verdrukker. In Mesopotamië is daar nie bome nie, en hulle konings het dikwels togte gereël om hout in Lebanon te kap vir die bou van hulle paleise en tempels. Verdrukkers wat mense verslaaf, is arrogant teenoor die mense, en vernietig die omgewing sorgeloos vir hulle eie gewin. Die nuwe heerskappy van die Here is ‘n versekering aan alle skepsels en daarom sing hulle soos in Ps 96:10-13. Nou dat Israel vry is, is selfs die bome veilig.

14:9-11 Interessant is die digter se gedagtes oor die tafereel wat afspeel in Sjeool, die doderyk, of onderwêreld, die plek van die dooies. Toe die onderdrukker in Sjeool aanland, gestroop van al sy gesag en totaal onmagtig, sien die digter ‘n verwelkoming vir hom deur almal wat ook onmagtig is en van hulle magte gestroop is. Hy word erken as heeltemal gebroke en irrelevant, wat geen aandag werd is nie. Met dié beeld word vir die maghebber ingevryf wat hy werklik is. Die doderyk wat gewoonlik stil is, word geroer deur die koms van hierdie verdrukker, veral die gebied in Sjeool waar die vorige heersers is, wat opstaan om hom te ontmoet. Hulle ‘praat’ selfs (of ‘sing’) in ‘n koor: jy is nou gemaak soos ons is: swak, sonder klanke, en hulpeloos teen die maaiers. Hy wat op ‘n bed lê en luister het na musiek, lê nou tussen maaiers; hy wat beklee was met koninklike klere is nou bedek met wurms. Dit is ‘n beeld van die niksbeduidendheid van maghebbers wat hulle mag misbruik. Hulle tyd gaan verby.

Die wêreldbeeld van die oudheid het die doderyk voorgestel as ‘n gebied diep onder die aarde (Num 16:30) of onder die see (Job 38:16-17). Daar voer die dooies ‘n soort skaduweebestaan, sonder lig, sonder kontak met mense wat nog lewe (1 Sam 28 se verskyning van Samuel het slegs bestaan in die verbeelding van die heks van Endor), sonder gemeenskap met God (Job 10:21-22; Ps 88:6; 115:17). Die woord Sjeool kom 65 maal in die OT voor,  en word dikwels gebruik as sinoniem vir ‘graf’ en ‘dood’ (Ps 18:6; 30:4; 49:15). Dit verwys na God se ewige straf in die hel (Ps 9:18, en soos hier in Jes 14:9,11,14 ).

Skrywer:  Prof Francois Malan




Jesaja -Die Here vernietig arrogante Babel (13:14-22) – Francois Malan

13:14-16  Mense sal so kwesbaar wees soos skape sonder herders en wildsbokke, wat blootgestel is aan roofdiere wat tevergeefs vir hulle lewe weghardloop. Die opstandelinge teen die Here vlug voor die leërs, maar word deur die wrede soldate mishandel, verkrag en vermoor word. Dit is nie slegs die soldate wat val nie, maar ook hulle babas en vroue en huise val voor die aankomende leër en sy wrede soldate, wat optree volgens die oorlogsgebruike van die Assiriërs en die Babiloniërs. Soos die Babiloniërs met die ander volke en Juda gemaak het, sal met hulle gemaak word.

Die inwoners van Babel wat betyds gevlug het na hulle lande van herkoms, mense uit Israel en Juda wat terugkeer na die Here vir wie hulle verlaat het, kan die geweld en die toorn van die Here ontkom. Hulle is soos die takkie uit die stomp van Dawid (11:1), die skaars klompie waarvan vers 12 praat,  die oorblyfsel van Jes. 1:9; 10:21,22.

Hoewel 13:1 vir Babel aanwys as die skuldige wat aangespreek word, is die gedig in verse 2-16 heel algemeen en nie net op Babel van toepassing nie. Dit sluit selfs die hemellggame in en dit pas by enige tyd en optrede van mense wat teen die Here en sy woord lewe, en die kinders van die Here vervolg. So word Babilon, soos Sodom en Gomorra, ‘n model en voorbeeld vir enige mag wat teen die wil van die Here optree. In Openb. 18 word Babel steeds gebruik as simbool vir die bose, en toe het die stad Babilon vir eeue reeds nie meer bestaan nie.

In die volgende verse word weer spesifiek verwys na die hoogsontwikkelde en magtige maar arrogante Babel en sy bevolking, wat vir ‘n tyd lank Galdeërs genoem is toe ‘n suidelike Galdeërstam seggenskap gekry het oor die regering en 5 agtereenvolgens leiers opgelewer het, o.a. Nebukadneser.13:17 Die agente van die Here, wat sy oordeel oor Babilon voltrek, is die Meders wat sterker geword het en die Babiloniërs bedreig het. Eintlik is Babel deur die Pers Kores oorgeneem. Medië (noord) en Persië (suid) het aan die oostekant van Babel/Mesopotamië gelê. Babilonië is rofweg die huidige Irak en Medië-Persië die huidige Iran. Die Mediërs was reeds in Gen 10:2 genoem as afstammelinge van Jafet.

Van dié leërs van Medië-Persië en hulle leiers word gesê dat hulle nie omgekoop kan word – om Babel te spaar met ’n loskoopprys van ’n jaarlikse belasting nie. Hulle gaan Babel verwoes, al die groepe van Babel wat in vers 16 genoem is. Van die invalsmag sê die Here letterlik: ‘Kyk! Ek spoor/wek die Meders aan/op teen hulle…’ (dieselfde werkwoord word in Jes 45:1,13 gebruik, dat die Here vir Kores opgewek of aangespoor het om reg te doen en my ballinge terug te stuur). Die Here sit die hele aksie aan die gang om van Babel rekenskap te eis en sy mag te verbreek.

13:18 herhaal, met ander woorde, wat in 13:16 gesê is (letterlik: jongmanne sal hulle boë in stukke slaan, en op die vrug van die baarmoeder sal hulle geen genade hê nie, op kinders sal hulle oog nie met deernis kyk nie). Hulle word terugbetaal vir wat hulle Juda aangedoen het (Ps 137:8-9).

13:19-22 Babilon verkry nuwe status in die plek van Sodom-Gomorra, wat die ou simbool van God se straf op die sonde was (vgl. Jes 1:9). Die trotse arrogante stad sal ‘n permanente ruïne word, so vernietig en met die grond gelykgemaak dat dit nooit weer sal herstel nie. Weens Babel en sy Galdeër-volk se roem en arrogansie teen die Here en sy volk, word nou aan hulle gedoen wat hulle aan Juda gedoen het (vgl. Jes 47:6; 2 Kron 36:17-20; Jer 50:33) en word hulle verwoes. Die ‘wonderstad van die wêreld’ (sy ‘hangende tuine’ is beskryf as een van die 7 wonders van die antieke wêreld), sentrum van kuns, kultuur en wetenskap, word verlaag tot die status van Sodom en Gomorra, die hoof simbole van die Here se straf en vernietiging.

Nie eers die Bedoeïene skaapwagters sal naby die verwoeste stad kom nie, want roofdiere en wilde diere (o.a. ‘veldduiwels’ letterlik: harige wesens soos bokramme; vgl. Lev 16:21-22) maak dit ‘n verlate en gevaarlike plek, die stad wat eens die sentrum van ‘n wêreldmag was. Dit gebeur nie dadelik nie, al is die waarskuwing bedoel vir enige tiran dat sy ondergang hier is (letterlik: naby om te kom vir haar, en haar dae sal nie verleng word nie). So sluit die paragraaf af, wat in 13:6 begin het met die dag van die Here wat naby is vir sy verwoesting van Babel.

Die eerste verwoesting van Babel (net na Jesaja se tyd) was deur die Assiriese koning Sanherib in 689 v.C. Honderd en vyftig jaar later, in 539 v.C., het die Meders en Perse onder Kores Babel ingeneem. In 518-465 v.C. het die stad agteruitgegaan onder Darius I en Xerxes. In 312 v.C. het die Griek Seleukes-Nikator, Alexander die Grote se generaal, die stad verwoes. Vierhonderd jaar later is Babel nog steeds ’n simbool van die bose. In die Nuwe Testament word na Babel verwys as ‘n simbool van die sedelose vrou (Openb 17) en die antichristelike ryk (Openb. 18).

Skrywer:  Prof Francois Malan