Paulus in die tronk – Francois Malan

Willie vra:
Kan n mens aanvaar dat Lukas by Paulus was tydens sy gevangeneskap tot en met sy dood is ? Indien wel , weet ons of hy dalk in meer detail hieroor geskryf het wat nie in die Bybel opgeneem is nie.. Indien hy nie hieroor geskryf het nie, weet ons hoekom nie?

Antwoord
Prof Francois Malan antwoord:
Handelinge is nie ’n lewensgeskiedenis van Paulus nie, maar verkondiging van hoe God te werk gegaan het om sy heilsplan vir die mensdom uit te voer deur Christus se getuies, onder leiding van die Heilige Gees, en hoe hulle die boodskap uitgedra het tot in Rome. Aangesien Lukas waarskynlik saam met Paulus op sy laaste reise was, en by hom persoonlik baie gehoor het, word baie vertel van die Heilige Gees se werk deur Paulus se arbeid, sonder om volledig te wil wees.

Vir sy teenwoordigheid op die reise vergelyk die ‘ons’ gedeeltes: Hand. 16:10,15; 20:6; 21:1-25; 27:1-28:16, wat moontlik kan aandui dat Lukas daardie gedeeltes van die reise saam met Paulus was. Vergelyk Paulus se eie verwysings na Lukas in Filemon 24; Kol 4:14; 2 Tim 4:11.

Volgens Handelinge 28:19,30 het Paulus in Rome vir twee jaar onder bewaking op sy eie gewoon, terwyl hy, op sy eie appel, sonder ’n klagskrif, op die keiser gewag het (vgl Hd 25:11,27; 26:32; 27:24).

Moontlik is die briewe aan Filemon en aan die Kolossense (en Efesiërs?) gedurende hierdie twee jaar geskryf – al drie uit gevangenisskap (Flm 9,13;  Kol 4:18; Ef 3:1, ens).  Sommige teoloë meen dat die briewe of uit Efese of uit Sesarea se twee jaar gevangenskap geskryf is.

1 Klemens 5:5-7 (96 n.C.)  noem Paulus saam met Petrus as groot voorbeelde van uithouvermoë onder jaloesie en twis wat na ’n reeks ontberings vir die evangelie, hierdie wêreld verlaat het vir die heilige plek. Die kerkgeskiedskrywer Eusebius het in die laaste gedeelte van die vierde eeu n.C. geskryf (II:12:2): die tradisie vertel dat Paulus na die twee jaar vrygesgepreek is en weer voortgegaan het met sy bediening, en toe vir ’n tweede keer na Rome toe is en as martelaar gesterf het onder Nero. In II:25:5 skryf hy dat Paulus onthoof is. In die tyd toe hy bevry was, het hy moontlik 1 Timoteus en Titus geskryf, en toe hy weer gevang is, het hy 2 Timotheus geskryf as sy laaste brief (2 Tim 4:6-7). (Sommige teoloë betwyfel die ou tradisie van Paulus se outeurskap van die drie Pastorale briewe.)

2 Timoteus 4:11 verwys na Lukas se teenwoordigheid by Paulus tydens sy laaste gevangenisskap in Rome: ‘Net Lukas is by my.’ Maar Lukas het niks verder geskryf waarvan wat weet nie as slegs tot by die twee jaar in Rome toe Paulus nog baie besoeke ontvang het.

Die onbetroubare apokriewe boek Die Handelinge van Paulus, met ’n klomp legendes oor Paulus, is waarskynlik deur ’n ouderling geskryf, wat later aan Tertullianus gebieg het dat hy die dinge oor Paulus geskryf het omdat hy so lief vir Paulus was. Die boek is tussen 150-200 n.C, geskryf (Paulus is waarskynlik voor Julie 64 n.C. dood). Die boek vertel van Paulus se marteldood en die wonders wat daar sou plaasgevind het, van Nero se christenskinker wat uit die dood opgestaan het nadat hy by die venster uitgeval het, en hoe dit aanleiding gegee het dat al die christene vir die leeus gegooi is, en hoe daar by Paulus se onthoofding melk in plaas van bloed by sy nek uitgespuit het. Na sy dood sou Paulus aan Nero verskyn het, wat so bang geword het dat hy die ander christene in die tronk vrygelaat het. Hierdie gegewens is egter fantasie en nie werklikheid nie.

Skrywer:  Prof Francois Malan




Jok Lukas of Paulus? – Kobus Kok

Die teenstelling in Handelinge 9:7 en Handelinge 22:9

Dit is vir my so lekker om te sien dat mense die Bybel so fyn lees. Dit beteken iemand het met hulle hele hart en met passie die Bybel gelees en op ʼn baie interessante teenstelling afgekom wat 90% van ander mense nooit eers gesien of oor gedink het nie. Kom ons begin eers om so bietjie meer te vertel van die skrywer van Handelinge. Daar is verskillende perspektiewe, maar die meeste mense dink dat dit dieselfde skrywer was wat Lukas geskryf het. Daar is op baie vlakke ʼn onderlinge verband tussen Lukas en Handelinge. Dit veronderstel ook die moontlikheid dat dit geskryf is deur iemand wat baie nou aan Paulus gekoppel was en wat self betrokke kon gewees het by die sendingreise van Paulus (vgl. Die “ons” uitsprake” Sien Hand 16:10–17; 20:5–15; 21:1–18; 27:1–28). Baie geleerdes is van mening dat dit ʼn lang tyd ná die dood van Paulus op skrif gestel is.

Die gedeeltes wat ons gaan bestudeer handel oor die bekering van Paulus op die pad na Damaskus. Dit vertel van die dag toe Paulus se ganse lewe tot stilstand geruk is en God deur Sy Gees Paulus se lewe kom aanraak het. Dit kom egter voor asof die verhaal op belangrike punte kontrasterende informasie bied.

Daar is ooglopend, indien mens fyn kyk, ʼn verskil of selfs teenstelling in die bewoording in Handelinge 9:7 en Handelinge 22:9. Kom ons kyk in detail wat die verskille is:

kobusartikel

 

In Handelinge 9:7 vertel die skrywer van Lukas oor die gebeure in die derde persoon. In Handelinge 22:9 plaas die skrywer van Lukas woorde in die mond van Paulus self, of rappoerteer die woorde wat Paulus gespreek het.

In die oorspronklike Grieks is daar duidelike verskille in die woorde wat gebruik word. In Handelinge 9:7 word die woorde ἀκούοντες μὲν τῆς φωνῆς (akoe-ontes [horende] men tes fonês [die stem]) teegekom. In Handelinge 22:9 vind ons die woorde οὐκ ἤκουσαν τοῦ λαλοῦντός μοι (ouk [nie] ekoesan (hulle het gehoor] toe laoentos moi [die een wat pratende was met my]). Die woorde ἀκούοντες (akoe-ontes [horende] en οὐκ ἤκουσαν (ouk ekoesan [nie gehoor]) is ‘n duidelike kontradiksie of teenstelling.

Tog moet mens vra wat die onderliggende betekenis is wat die skrywer van Lukas wil kommunikeer. Lukas het tog die hele boek geskryf en sou mos baie goed geweet het indien hy so ‘n skynbare teenstelling gemaak het. Inteendeel, die Bybel is keer op keer deur die eerste paar eeue oorgeskryf deur verskillende mense en selfs hulle het nie probeer om die teks te korrigeer nie. Ons het baie voorbeelde in die Bybel waar latere scribes probeer het om foute te korrigeer. Vir die antieke mense was hierdie skynbare teenstelling nie ‘n teenstelling nie. Die rede daarvoor was dat hulle almal geweet het wat Lukas wou kommunikeer, naamlik dat die mense wat rondom Paulus gestaan het nie verstaan of begryp het wat gesê word nie. Ons sal vandag nog in ons eie spreektaal sê dat iemand my gehoor het maar dat iemand my nie verstaan het nie. Ons sal ook vir iemand sê dat hulle na ons moet “luister” as ons praat. Hulle “hoor” ons dus, maar hulle “begryp” of verstaan ons nie. Dus, die skynbare teenstelling kan opgelos word indien ons die woorde “hoor”, “begryp”, “verstaan” en “luister” meer genuanseerd gebruik. Die punt wat die skrywer van Lukas wil maak dat die mense wat daar was dalk die lig “gesien” het en die stem “gehoor” het, maar dat niemand van hulle dit “begryp” het nie. Alleen Paulus het geweet wat daar gebeur het, want Paulus het ‘n besondere Openbaring gehad. Almal wat daar teenwoordig was, sou getuig van die feit dat daar wel “iets” gebeur het, maar self het hulle nie presies besef wat aan die gang was nie. Hulle het wel almal besef dat God daar ingegryp het.

Dus, Paulus en/of Lukas het nie gejok nie. Hulle het almal dieselfde punt gekommunikeer.

Juis om hierdie rede is dit vir ons as ernstige Bybellesers wat erns maak met ons Bybelkennis om verskillende vertalings te raadpleeg en ook om te sien hoe die verskillende vertalings met moeilike interpretatiewe sake soos hierdie omgegaan het. Een van die vertalings het die probleem probeer oplos deur nie die Grieks letterlik te vertaal nie maar die saak aan die hand mooi uit te druk:

Die New International Version (1983) het dit soos volg vertaal:

“My companions saw the light, but they did not understand the voice of him who was speaking to me.”

Myns insiens het die vertalers die skynbare kontras tussen die twee vertalings mooi opgelos. Doen gerus jouself ‘n guns en vergelyk verskillende vertalings om te sien hoe hulle die probleem opgelos het. En aan u wat die teks so fyn gelees het: “Doe zo voort..!”

Skrywer:  Prof Kobus Kok

 




Jy sal saam met My in die paradys wees

Jy sal saam met My in die paradys wees – Francois Malan

Loraine vra:

Ek wil graag weet in Lukas 23 vers 42 lees ons van die een kwaaddoener wat aan Jesus sê om aan hom te dink in Sy koninkryk. Jesus het hom geantwoord en gesê voorwaar Ek sê vir jou dat jy vandag saam met My in die Paradys sal wees. Kan ek dit so verstaan dat Jesus toe Hy sy asem uitblaas na die Paradys gegaan het, m.a.w Sy Siel het opgegaan na die hemel of dan die Paradys. Wat ek ook raak lees is dat die man van Jesus se koninkryk praat en Jesus van die Paradys. Ek sal dit waardeer as iemand my in geheel kan verduidelik van Jesus se woorde van Paradys en dan was Hy in die graf en het weer na die 3de dag opgestaan en het opgevaar na die hemel. 

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Paradys is ‘n Persiese woord vir ‘n omheinde gebied soos ‘n park of ‘n tuin. Nadat die Grieke in 300 v.C. die Persiese wêreld ingeneem het, is die woord in Grieks opgeneem om ‘n ideale tuin te beskryf. Toe die Ou Testament in Grieks vertaal is in 250 v.C., is die Hebreeuse ‘tuin van Eden’ van Genesis 2:8 vertaal as ‘paradys’, die plek waar die mense gewoon het, en God met hulle verkeer het. Na die sondeval is hulle uit die tuin van Eden uit weggestuur (Gen.3:24)

Toe die geloof in Israel begin posvat dat God die oorspronklike geluk sou herstel, het die Paradys die naam geword vir die toekomstige woonplek van die regverdiges, wie se verhouding met God herstel is, soos dit voor die sondeval was. En dit het Jesus daar aan die kruis kom doen. Daarom gebruik Hy die woord Paradys wat vir die moordenaar aan die kruis ‘n bekende term sou wees.

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Lukas 8:18

Lukas 8:18 – Francois Malan

Piet vra:

Bespreek of verduidelik Lukas 8:18 aan my asseblief.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Soos in Markus 4:21-25, volg Lukas 8:16-18 op die verklaring van die gelykenis van die saaier wat die woord van God saai. So word Jesus se volgelinge vermaan om die woord wat hulle ontvang het oor Jesus se verlossing van sondaars te saai/verkondig: hulle het die lig van die evangelie ontvang, en moet dit nie vir hulleself hou soos ‘n lamp wat met iets toegemaak of onder ‘n bed gesit word nie. Die lig is juis daar om die duisternis te oorwin (vgl. ook Luk 11:35). Dit moet op ‘n staander gesit word sodat die mense wat binnekom, die lig kan sien (v16). Die mense wat binnekom sal op verskillende maniere op die lig/saad reageer soos die gelykenis van die saaier verduidelik het.

Aan die volgelinge van Jesus is dit deur God gegee om die gelykenisse te verstaan, hulle is ingewy in die verborgenhede van die koninkryk van God (v9). Maar hierdie verborgenhede moet nie geheim gehou word nie. Hulle moet dit bekend maak. God gebruik hulle om alles bekend te maak tot seën van die mense. Maar as iemand huiwer en self probeer lyf wegsteek om die goeie nuus te verkondig, sal God hom/haar aan die kaak stel. Niks of niemand kan voor God geheim bly nie (v17).

Vers 18 is ‘n vermaning oor hoe gelowiges hoor: hoe hulle die evangelie verstaan en hoe hulle dit aan ander oordra as saaiers, getuies van Christus. As iemand die Woord reg gehoor het, mag hy/sy dit nie in hulle hart opberg nie. As hulle dit doen sal hulle op ‘n dag ontdek dat hulle die Woord kwyt is. Die besit van die Woord word vermeerder deur die aanwending daarvan. Soos die saaier moet hulle die saad van die Woord uitstrooi. Dan sal hulle vermeerdering van hulle besit daarvan verwag, deur die vrugbaarheid van die saad in goeie grond – die mense wat die woord met ‘n goeie en opregte hart hoor en dit bewaar en deur volharding vrug dra (vv8,15) – vers 21 sê dit gebeur: deur na die woord van God te luister en daarvolgens handel.

Maar as hulle dit gaan wegsteek of verborge hou of by hulleself alleen hou, sal hulle vind dat dit van hulle weggeneem is, deur die duiwel, deur beproewings, deur die sorge, rykdom en genietinge van die lewe, en sal hulle bedroë daarvan afkom, soos die saad wat op die pad geval het (vv5,12) op die klipbank (vv6,13) tussen die onkruid (vv7,10).

Dieselfde beginsel word deur Jesus uitgespreek oor geestelike besit in die gelykenis van die goue muntstukke (Luk. 19:26; vgl. Mat. 25:29; en Luk 6:38). Slegs hulle wat het, hulle wat hoor, bewaar en daarmee werk, ontvang werklik God se gawe, terwyl diegene wat dink dat om te ontvang is genoeg, eendag sal sien dat hy/sy met leë hande staan, dat God die onbenutte gawe van hom/haar wegneem.

 

Skrywer: Prof Francois Malan