Die ontstaan van die Nuwe Testament – Francois Malan

Ronel vra:

Noem die vier stadiums waarop boeke in die NT opgeneem is.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Die boeke van die Nuwe Testament is nie eintlik in ’n bestaande boek opgeneem nie, maar die boek het ontstaan uit die verskillende boekrolle wat met die hand geskryf is, waarvan die gesag van die Here se woord in die boeke deur die gemeentes beleef en aanvaar is. Die vooraf stadium was die mondelinge vertelling deur sy apostels en oorvertelling daarvan in die gemeentes van die woorde van Jesus en die verhale oor Jesus se optrede, sy kruisiging, dood, opstanding en hemelvaart, en die verwagting van sy wederkoms wat Hy voorspel het. Die eerste stadium is die erkenning van die basiese getal geskrifte as die norm vir die geloof en lewe van die Christene. Die Nuwe Testament is ’n versameling van 27 boeke wat deur verskillende persone op verskillende tye geskryf is, aan verskillende persone en gemeentes, onder verskillende omstandighede. Die geskrifte is onder leiding van die Heilige Gees met die hand geskryf en deur die ontvangers as die Woord van God aanvaar. Die briewe wat die apostels aan gemeentes geskryf het gehandel oor spesifieke probleme en onduidelikhede wat in gemeentes ontstaan het. Met verloop van tyd het gemeentes kopieë vir hulle gemaak van briewe wat by ander gemeentes ontvang is. So het ’n gemeente bv. ’n geskrif ontvang waarvan ’n ander gemeente ’n afskrif gemaak het. Paulus sê bv. aan die gemeente in Kolosse: ‘En wanneer hierdie brief by julle voorgelees is, sorg dat dit ook in die (buur-) gemeente Laodisea voorgelees word, en dat julle ook die brief wat van Laodisea af kom, voorlees (Kol 4:16). So het sommige gemeentes ’n aantal boekrolle gehad wat Paulus geskryf het, en wat hulle saam met rolle van die Griekse vertaling van ’n aantal van die boeke van die Ou Testament in hulle eredienste gebruik het. Op verskillende tye is die boekrolle in verskillende gemeentes aanvaar as die Woord van God, die maatstaf (kanon) vir hulle lewe, voordat dit onderskei is van baie ander geskrifte. 2 Petrus 3:16 verwys na al Paulus se briewe, wat wys dat daar reeds vroeë versamelings van party van sy briewe gemaak is. Die briewe van Paulus was almal klaar geskryf voordat die Evangelies geskryf is. Die Evangelieskrywers het later die woorde en werke van Jesus op versoek van gemeentes saamgestel uit die apostels se ervarings van Jesus en wat hulle aan hulle helpers vertel of voorgedra het. Dit is saam met die voorlesing uit die Ou Testament in die gemeentes gelees. Terwyl die Ou Testament se wet en profete die eintlike bron vir die leiding van die gemeentes was (vgl. Matt 5:17; 2 Tim 3:15-17), het die geskrifte van die apostels al wyer bekend geword en die maatstaf vir die gemeentes geword saam met die Ou Testament. Ook ander geskrifte deur kerklike figure is later in die eredienste gelees, soos Ignatius se briewe aan die Filippense, 1 Klemens in Korinthe, die Polikarpusbrief, ens. Hulle het egter nie dieselfde gesag gehad as die geskrifte wat van apostels af gekom het nie. Later moes die gemeentes leiding kry oor watter boeke die fondament vir die geloof van die gemeentes is en watter net goeie leesstof, wat nie dieselfde gesag het nie. In die tweede helfte van die 2e eeu n.C. was daar al versamelings van die vier Evangelies, Paulus se briewe., 1 Petrus en Hebreërs. Die tweede stadium die totstandkoming van die idee van ’n kanon van die boeke van die Nuwe Testament was die geleidelike aanvaarding daarvan as die Woord van God, deur die gemeentes, en die vervanging van die mondelinge tradisie met dié geskrifte. Terwyl die vroegste skrywers soos Klemens (96 n.C), Didache (95-120 n.C.), Ignatius (ongeveer 110 n.C.), Barnabasbrief (135 n.C.) woorde van Jesus aanhaal, berus hulle uitsprake meer op die mondelinge tradisie wat hulle hoër ag as die geskrewe woord. Papias (135 n.C.) verkies ook die mondelinge tradisie maar weet skynbaar van Markusevangelie en sekere woorde (logia) van Matteus. In 140 n.C. word enkele aanhalings uit die Evangelies gemaak in die 2e brief van Klemens. Teen 165 n.C. word telkens verwys na die Evangelies as bron deur Justinus die Martelaar. Daar was ’n groeiende erkenning van die normatiwiteit van die Nuwe Testamentiese geskrifte van ongeveer 95-165n.C. Die derde stadium (150-190 n.C) die afgrensing van die kanon teenoor die apokriewe geskrifte wat in die naam van die apostels geskryf word met legendes oor Jesus, Paulus en ander apostels, en die openbaringsaansprake van die Montaniste, wat hulle nuwe openbarings naas die Nuwe Testamentiese boeke as gesaghebbend beskou. Ireneüs en Athenagoras (albei 180 n.C.) staan by die oorgang van die tweede na die derde stadium. Die Nuwe-Testamentiese geskrifte word deur hulle as gelykwaardig aan die Ou Testament se boeke beskou en hulle het die Nuwe-Testamentiese geskrifte as maatstaf (kanon) gebruik in hulle stryd teen die ketters. Teofilus van Antiochië noem die Johannesevangelie as Heilige Skrif. Met die groot aantal boeke wat in die tweede helfte van die 2e eeu geskryf is en afwykende leringe verkondig het, het dit noodsaaklik geword dat die kerk aanwys watter boeke as maatstaf (kanon) vir die kerk en prediking gebruik kan word. In 144 n.C. stel Marcion sy lys van aanvaarbare boeke op. Hy verwerp die Ou Testament as ’n Joodse boek met hulle wet en geregtigheid deur wetswerke en minderwaardige aardse bindinge, en stel die evangelie van die liefdevolle en barmhartige God op wat slegs deur Paulus reg verstaan is. Van die Evangelies behou hy net die ‘nie-Joodse’ Evangelie volgens Lukas en tien briewe van Paulus, maar suiwer die Evangelie en Paulus se briewe van alle Joodse invoegings. Dit ontlok ’n wye reaksie wat die idee van ’n kanon gestimuleer het. Die vierde stadium is die afsluiting van die Nuwe Testamentiese kanon van ongeveer 190 n.C. tot die vyfde eeu. Die kanon Muratori wat moontlik rondom 200 n.C.in Rome geskryf is oor verskillende geskrifte praat van erkende of aanvaarbare geskrifte vir gebruik in die erediens. Die eerste Griekse skrywer wat die naam ‘Nuwe Testament’ gebruik is Klemens Aleksandrinus (dood voor 215 n.C.) en sy opvolger Origenes (185-254 n.C.); die eerste Latynse skrywer is Tertullianus. Hulle verwys na die Ou Testament en die Nuwe Testament. Die aantal boeke waarna hulle verwys is meer as die huidige 27. Atanasius van Alexandrië se nege-en-dertigste Paasbrief in 367 n.C. aan die gemeentes in sy metrogebied bevat presies dieselfde 27 boeke van ons huidige Nuwe Testamentiese kanon, en noem dit ook die kanonieke boeke (wat die maatstaf is vir die kerk) teenoor die nie-kanonieke boeke. Sy invloed in die Oosterse en Westerse kerk was so groot dat sy kanon groot instemming en navolging gevind het. Die sinode van Rome 382 n.C. het die 27 boeke van die Nuwe Testament as kanoniek aanvaar, so ook die sinodes van Hippo Regius 393 n.C. en Karthago (397 n.C.). Pous Innosensius het in 405 n.C. gesê die kerk erken al 27 boeke as die kanon vir die kerk. (In 1546 het die Roomse konsilie van Trent die Bybelkanon as ’n geloofsartikel aanvaar. Dit het die inhoud van hulle Vulgata as hulle maatstaf gebruik, nl. die Ou Testamentiese Boeke, die Ou Testamentiese Apokriewe en die Nuwe Testament. Die Nederlandse Geloofsbelydenis van 1561 het die Ou Testament se 39 boeke en die Nuwe Testament se 27 boeke as kanoniek bely, en dat die Ou Testamentiese apokriewe wel gelees mag word en daaruit geleer word, maar dit het geensins die krag om die geloof van die Christelike godsdiens te bevestig nie. Dié geloofsbelydenis is in 1619 deur die Dordtse sinode aanvaar om alleen as outentiek gehou te word).

Skrywer: Prof Francois Malan




Die oue weerklink in die nuwe. Die eggo’s van die Ou Testament in die Nuwe Testament – Jan van der Watt

Die boodskap van die Nuwe Testament het nie sommer uit die lug geval nie. Jesus het nie sommer een dag opgedaag en niemand het geweet waarom nie. Nee, die Nuwe Testament is die tweede episode van God se verhaal met sy mense op aarde. Die Nuwe Testament begin nie nuut nie, maar is gewortel in die Ou Testament. Hoewel die verhaal van Jesus vars en nuut is, is dit ook die ou-ou tyding van die Skeppergod wat ’n pad met sy mense deur die wêreld stap. Om dus te verstaan waarom daar sekere dinge in die Nuwe Testament gebeur en waarom dit juis op die manier moes gebeur, is dit dus belangrik dat mens die verhouding tussen die Ou en Nuwe Testament goed verstaan. Die nuwe groei immers uit die oue.

’n Basiese veronderstelling is natuurlik dat die God waarom dit gaan, gister, vandag en môre dieselfde is. Dit is sy verhaal, beide in die Ou en in die Nuwe Testament. Daarom kan mens verwag dat dit nie twee afsondelike verhale is nie, maar een verhaal waarin die verskillende temas en drade nou met mekaar vervleg is. Die verhaal van die Ou Testament word dus in Nuwe Testament voortgesit. Verwagtings uit die Ou Testament, profesieë, voorbeelde van hoe God is en optree, dit alles vloei deur na die Nuwe Testament.

Daar is natuurlik een verskil – in die verhaal van God in die wêreld het daar in die Nuwe Testament een ‘karakter’ bygekom, naamlik Jesus Christus, die Seun van God. In en deur Hom het die ou verhaal van God met die wêreld nuut geword. Hy is nie verniet Immanuel genoem nie, want Hy het God naby sy mense gebring. Die ware lig sou nou oor die wêreld skyn (Joh 8:12) sodat mens in díe lig God se teenwoordigheid by sy mense beter sou kon sien. Daarom word die Nuwe Testament ook NUWE Testament genoem; dit gaan oor God se nuwe plan en ooreenkoms deur Christus met sy mense in die wêreld.

Die spore van die Ou Testament lê diep in die Nuwe Testament. Hier volg voorbeelde van die belangrikste voetpaadjies wat uiteindelik op die Nuwe Testament uitgeloop het. Sekere sentrale gebeure in die Ou Testament was vir die Christene veral belangrik. Gebeure soos die skepping, die uittog (eksodus) uit Egipte, die ballingskap in Babilonië was baie belangrik, omdat dit draaipunte in die geskiedenis van Israel was waarin hulle God baie nodig gehad het. Dan het die vroeë Christene ook baie geleer uit die voorbeelde wat ‘godsmanne’ soos Abraham, Moses of koning Dawid gestel het. Daarom duik die figure gedurig in die Nuwe Testament op as voorbeelde. Natuurlik is daar ook die profete soos Jesaja of Esegiël; die gelowiges word gedurig herinner aan hulle woorde en hoe dit betekenis het vir die Christene. Dit help hulle om die betekenis en boodskap van Jesus soveel beter te verstaan.

In die volgende artikel gaan ons kyk na spore van die Ou Testament wat diep in die Nuwe Testament lê. Ons gaan by die skepping begin.




Die Nuwe Testament en die Apostels

Die Nuwe Testament en die Apostels

Ons kyk na Michael Kruger se reeks oor die Nuwe Testament. Wat ons moet verstaan, is dat die Nuwe Testament nou verbind is aan die aktiwiteite van die apostels. Jesus het die twaalf apostels aangestel om by Hom te bly sodat Hy hulle kon uitstuur om te preek. Hulle het ook die mag ontvang om bose geeste uit te drywe (Markus 3:14 – 15).

Die apostels se gesag kom van Jesus Christus en hulle was sy mondstuk. Hulle onderrig, saam met dié van die profete, was die fondament waarop die kerk gebou is met Jesus Christus as hoeksteen (Efesiërs 2:20). As die kerk die ware Christelike boodskap wou ken, moet hy teruggaan na die onderrig van die apostels.

Op ‘n stadium – redelik vroeg al – het die apostels hulle boodskap neergeskryf. Hulle het dit self gedoen of  ander het dit vir hulle gedoen. Die kerk sou uiteraard meer waarde aan hierdie apostoliese boeke as enige ander tipe boek heg. Die boeke wat die kerk as apostolies beskou het, was juis die boeke wat gelees en neergeskryf is – en tydens aanbidding gebruik is. Hulle word uiteindelik die boeke van die Nuwe Testament.

Dit is juis die kerk se afhanklikheid van hierdie apostoliese geskrifte wat aanleiding gegee het tot die proliferasie van die apokriewe boeke wat na die apostels vernoem is – die Evangelie van Tomas, die Evangelie van Petrus, die Handelinge van Johannes en selfs die Evangelie van die Twaalf.

Die Nuwe Testamentiese kanon bestaan, want die vroeë Christene het geglo dat die apostels vir Christus gepraat het. Daarom het hulle soveel waarde aan die apostoliese boeke geheg.

Wanneer is die boeke van die Nuwe Testament geskryf?

Wanneer is die boeke van die Nuwe Testament geskryf? – Kobus Kok

Jan Smith vra: 

Ek verneem graag in watter jare nC die onderskeie boeke van die NT geskryf is. Watter metode is van toepassing om dit outentiek te bepaal, asseblief? Baie dankie.

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord:

Wanneer is die NT boeke geskryf, en hoekom het hulle kanon geword? 

Die Nuwe Testamentiese boeke is volgens navorsing almal geskryf tussen 48 n.C. en 110 n.C.

Die vroegste boek is 1 Tessalonisense. Ons weet dit, aangesien ons met die rekonstruksie van Paulus se sendingreise weet waar hy sekere tye was. Tessalonisense is op sy tweede sendingreis geskryf. Kort daarna verskyn Galasiërs en Korintiërs so teen 55 n.C. Romeine was Paulus se laaste brief kort voor sy dood in ongeveer 64 n.C.

Die evangelies is na alle waarskynlikheid na die val van die tempel in 70 n.C. geskryf. Johannes se evangelie en briewe was die laaste geskryf, waarskynlik tussen 90-110. Ons weet dit agv die verwysing na die val van die tempel, die eskatologie wat vervaag het, en die verwysing na die uitbanning uit die sinagoge wat aan die einde van die eerste eeu gekoppel word.

Die pastorale briewe is na die val van die tempel geskryf.

Openbaring is waarskynlik die jongste brief en word teen die einde van die eerste eeu geskryf of daarna. Daar was baie gesprek oor die vraag of Openbaring deel moet vorm van die kanon. Uiteindelik is dit aanvaar.

Die Nuwe Testamentiese boeke wat ons as gesagsvol aanvaar, is vroeg in die kerk se geskiedenis al reeds as gesagvol beskou. Die vroegste kerkvaders en biskoppe in die tweede eeu haal NT boeke van Paulus byvoorbeeld aan (vgl. 1 Clemens). Dit was vir hulle gesagvol omdat dit deur apostels en ooggetuies van Jesus se lewe, dood en opstanding geskryf is. Die was ook boeke wat deur die hele kerk algemeen aanvaar was as gesagvol en boeke wat die vroeë kerk geoordeel het die hart van die evangelie suiwer uitdruk. In dieselfde tyd is baie valse geskrifte in die naam van die apostels geskryf en die boeke is nie aanvaar nie, omdat dit nie voldoen het aan die laasgenoemde vereistes nie.

Die kerk was vir die eerste drie eeue vervolg. Toe die Romeinse Keiser Konstantyn in die vierde eeu tot bekering kom het hy saam met die kerkleiers besluit dat die Christene ‘n duidelike afgebakende kanon moet kry. Daar was vir vele jare vergaderings en gesprekke waarin hulle uiteindelik besluit het om die boeke wat ons vandag as die NT ken as die amptelike kanon van die Christene in die wêreld te aanvaar. Eersgenoemde kriteria was deurslaggewend. Valse geskrifte wat nie aan die dissipels en ooggetuiens gekoppel is nie, is nie aanvaar nie. Ons het hierdie geskrifte vandag nog. Prof Jan van der Watt en prof Tolmie het dit in Afrikaans vertaal. Die boek se naam is “Die Apokriewe boeke”, en kan by CUM gekoop word.

 

Skrywer: Prof Kobus Kok