Ons word oud – Liggaam en siel

You can’t love Jesus and not love His Word – R. C. Sproul

Ons word oud – Liggaam en siel

J. I. Packer het onlangs ‘n kort boekie oor oud word geskryf: Finishing our Course with Joy. Ek gaan ‘n hele aantal blogs oor oud word skryf en van hierdie boek gebruik maak

Om te weet hoe ons moet leef, moet ons eerstens weet wie en wat ons is. Dit is veral belangrik vir bejaardes wat dikwels in die versoeking kom om te dink en ons te gedra asof ons nog is wat ons jare gelede was – ons aanvaar nie dat ons verander het en wat ons vandag is nie.

Vooraf is daar ‘n paar basiese dinge wat ons moet opklaar.

  • Liggaam en siel

Almal van ons leef in ‘n fisiese liggaam.

Ons vertrou op hierdie liggaam vir ons energie en die vermoë om dinge wat ons begeer te doen. Die liggaam beperk ons – daar is dinge wat ons graag sou wou doen wat ons net nie meer kan doen nie. Ons liggame dwing ons om sekere dinge te doen – eet, slaap, ens. Ons liggame kan fisiese vaardighede geleer word – sport, chirurgie, bestuur, ens. Ons brein kan ook sekere vaardighede aanleer – logika en wiskunde is voorbeelde.

Die mens bestaan uit liggaam en siel. Ons kan hulle onderskei, maar nie skei nie. Plato het reeds gesê dat ons liggame ons groei beperk – ons liggame is tronke waarin ons siele vasgevang is. Ons siel is dan wie ons werklik is en word eers vrygestel as die liggaam doodgaan. Daarna word die siel vrygelaat en ondervind dan ware geluk. So asof ons liggame ons weerhou van vreugde, kennis en ‘n vol lewe.

Christene stem nie saam nie. Hulle geloof fokus op die Seun van God se menswording en sy opstanding. Daarom kyk Christene vooruit na die opstanding van hulle liggame. Ouer Christene voel soms ook dat hulle liggame vir hulle ‘n las geword het – hulle sou die lewe soveel meer geniet het as dit nie vir hulle fisiese probleme was nie. Maar om te dink dat ‘n mens se siel vryer en gelukkiger sou wees sonder jou liggaam is ‘n ernstige fout.

  • Wat is mense en hoekom het God ons gemaak?

Die mens  is ‘n eenheid – liggaam en siel. Die mens is aanvanklik gemaak om die geordende omgewing wat God gemaak het, te bestuur. Die mens moes vreugde put om aan God die eer en die lof en diens te gee. God het altyd bedoel dat die mens se lewe op aarde tydelik sou wees en sal lei na ‘n vorm van transformasie en oorgang na ‘n ryker lewe elders.

  • Wat is ons siel?

In die Skrif verwys siel en hart na die sentrale kern van menswees – die innerlike bron van al ons gedrag en reaksies. Die lewe van die siel gaan voort selfs wanneer fisiese lewe ophou. Die persoonlike bewussyn wat ons s’n is, hou nooit op nie.

  • Wat is die doel van ons liggame?

Om ons gereed te maak om die materiële wêreld waarvan Hy ons as trustees en rentmeesters aangestel het en om ons lewens hier en nou te verryk.

‘n Lewe sonder ‘n liggaam sou ‘n arm lewe gewees het.




Ons word oud – Die verkeerde pad

We know nothing of humility by nature, for we are all born proud – J.C. Ryle

Ons word oud –  Die verkeerde pad

J. I. Packer het onlangs ‘n kort boekie oor oud word geskryf: Finishing our Course with Joy. Ek gaan ‘n hele aantal blogs oor oud word skryf en van hierdie boek gebruik maak

Maar watter raad gee ons sekulêre wêreld aan ou mense? Ontspan. Doen net wat jy geniet. Stadiger. Wees gemaklik. Jy is nie veronderstel om nog kreatief te wees nie; jy moenie meer verantwoordelikheid aanvaar  om doelgerigte instellings te lei nie. Jy is af van die trapmeule en uit uit die rotteresies. Uiteindelik  kan jy nou daarop konsentreer om die lewe te geniet. Jy het jou pensioen en mediese skema; daar is klubs, kompetisies, speletjies, toere en vermaak wat help dat jy die tyd omkry.

 

Vul jou lewe met dinge wat jou interesseer. Ten opsigte van die samelewing is jy nou op die rak – jy kan nou net aan jouself dink sonder om na ander om te sien en oor hulle bekommerd te wees. Baie bejaardes leef asof hulle lewe van aftrede met genoeg gesondheid vir altyd gaan duur – daarvoor sal nuwe vooruitgang op mediese gebied sorg. As jou lewe vervelig is, is dit jou eie skuld.

Dit is die verkeerde pad. As ons die teken “Geen Ingang” sien, weet ons ons is besig om iets te ignoreer. Dit geld vir ons huidige kultuur se agenda vir oud word. Hierdie agenda, dalk goed bedoel, is misleidend en bereik presies die teenoorgestelde van wat dit veronderstel is om te bereik. Wat is verkeerd met die agenda? Dit skryf ledigheid, selfgesentreerdheid en onverantwoordelikheid voor. Mettertyd kry ons die gevoel dat die lewe nie die moeite werd is nie – jou lewe is nie meer betekenisvol nie.

Die ondervinding om nie meer saam met ander in ‘n span te werk om iets wat die moeite werd is, te bereik nie, lei tot eensaamheid, rusteloosheid en terneergedruktheid. As jy niks het om na vooruit te sien nie, word jy toenemend ontevrede met die manier waarop dinge is. Jy voel jy het die reg om beter versorg te word as wat tans die geval is. Die feit dat jy nie meer onder druk is om jou verstand te gebruik om dinge te leer of probleme op te los nie, beteken jou intelligensie lê braak en gaan mettertyd agteruit. Die wêreld se agenda vir veroudering is ‘n resep om jouself te isoleer en ‘n vervelige lewe. Bejaardes word mettertyd losgemaak van die lewe van hulle kerngesinne – dit is verkeerd.

Maar hoe moet ons dan leef? Daarna kyk ons in die volgende blog.




Ons word oud – Die laaste rondte

 As I grow to understand life less and less, I learn to love it more and more. ”— Jules Renard

Ons word oud – Die laaste rondte

J. I. Packer het onlangs ‘n kort boekie oor oud word geskryf: Finishing our Course with Joy. Ek gaan ‘n hele aantal blogs oor oud word skryf en van hierdie boek gebruik maak

Die Bybelse verwagting en beloftes van rypheid, groei en diens aan ander wat voortgaan soos ons met God ouer word, is die beeld van die laaste rondte waarmee ons die wedloop moet afsluit. As ons liggaamlike kragte dit toelaat,  moet ons steeds die laaste rondte van ons Christelike lewe  hardloop – so vinnig as wat ons kan.

Live each day as if thy last!  Hoe ouer ons word hoe meer kom ons onder die indruk van hierdie wysheid. Ons moet dit ter harte neem. Uit hierdie gesegde is drie dinge duidelik:

 

  • Leef vir God een dag op ‘n slag.

Maak nie saak watter langtermyn planne ons het nie ons moet die gewoonte aanleer om elke dag se dinge vooraf te bepaal. Om God te verheerlik, moet ons voortdurende doel wees. Daarom moet ons nog ‘n gewoonte aanleer: aan die einde van elke dag  moet ons voor God vasstel hoe ver ons met ons plan gevorder het. Ook hoekom en hoe ons  ons plan moes aanpas om by veranderende omstandighede en nuwe insigte aan te pas. Dit is belangrik dat ons dit doen soos ons die einde van ons lewens nader en daarmee saam die vooruitsig om aan God verslag te doen.

  • Leef in die huidige

Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld (Matteus 28:20). Leef ons elke dag asof ons weet Jesus Christus is by ons teenwoordig? Die belang van Christus se teenwoordigheid word belangriker soos ons ouer word.  Om te droom en nostalgies te wees, is ongelukkige gewoontes. Dit lei net tot ontevredenheid en onrealisme. Soos alle slegte gewoontes versterk hulle hulle greep op ons. Met God se hulp moet ons hierdie gewoontes verbreek. Dit word al hoe meer noodsaaklik hoe ouer ons word. Om elke oomblik vasberade vorentoe te kyk, word toenemend ‘n groter faktor vir ons innerlike geestelike gesondheid.

  • Leef sodat jy gereed is om te gaan as Christus jou kom haal

In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie. En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is (Johannes 14:2 – 3). Hierdie belofte van Jesus aan sy elf getroue dissipels is ‘n belofte vir al sy getroue dissipels van alle tye. Die ondervinding van dood verskil van die een persoon na die ander. Party van ons is by ons volle bewussyn; party sterf in ‘n koma of terwyl hulle slaap; party sterf skielik in ‘n ongeluk. Ons weet nie hoe ons gaan sterf nie en daarom moet ons te alle tye daarvoor gereed wees.

Wat behels dit? Meer as net om ‘n testament op te stel of om opdragte vir jou begrafnis te gee, ens. Die belangrikste is Jesus Christus wat ons sal kom haal om ons van hierdie wêreld na die volgende een te neem. Op een of ander stadium gaan Hy ook ons regter wees. Ons moet immers almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang volgens wat hy tydens sy aardse lewe gedoen het, of dit nou goed was of kwaad (2 Korintiërs 5:10). Om nou deur geloof in ‘n persoonlike verhouding met Jesus Christus te kom, is dringend. Dit verdryf alle vrees vir ons toekoms. Die vooruitsig om met Hom oor te gaan na ‘n wêreld waar ons Hom voortdurend sal sien soos Hy is en om voortdurend by Hom te wees, is nou ‘n aantreklike vooruitsig – nie iets wat ons bang moet maak nie.

In die volgende blog gaan ons kyk na die verkeerde pad wat die wêreld vir ou mense aanbeveel.




Ons word oud

 

 “The Dogmatic Theologian who does not find that his work drives him to pray frequently and urgently from his heart: ‘God be merciful to me a sinner,’ is scarcely fit for his job.” – Emil Brunner

Ons word oud

J. I. Packer het onlangs ‘n kort boekie oor oud word geskryf: Finishing our Course with Joy. Ek gaan ‘n hele aantal blogs oor oud word skryf en van hierdie boek gebruik maak

Kan ou mense nog vir God verheerlik? Dit hang af van hoe ons ouderdom beskou. Algemeen word aanvaar dat ouderdom ‘n proses van verlies is: krag van beide liggaam en denke word verminder; die vermoë om vorentoe te beweeg, word drasties ingeperk. Meer as vier eeue gelede het Shakespeare in As You Like It die sewe tydperke van die mens se lewe  beskryf. Hy eindig met:

 

Last scene of all

That ends the strange eventful history

In second childishness and mere oblivion;

Sans teeth, sans eyes, sans taste, sans everything.

Ons het eeue vantevore ‘n soortgelyke beeld by die Prediker gekry (12:1 – 5). Hierdie beeld van verlies, swakheid en apatie wat tot die dood lei, is Prediker se storie van ouderdom.

Maar nie in die Bybel en nie in die lewe is dit die volle verhaal nie. In King Lear skryf Shakespeare van ‘n seun wat onterf is, maar weier om hom aan bitterheid oor te gee:

Men must endure

Their going hence, even as their coming hither;

Ripeness is all.

 Rypheid? Wat beteken dit? Die woord dra die positiewe betekenis van volwassenheid. Ons ken tog almal die verskil tussen vrugte wat ryp is en vrugte wat nog nie ryp is nie. Vrugte wat nie ryp is nie, is skerp, suur, hard, sonder veel geur en laat jou tande stomp voel. Ryp vrugte is sag, soet, sappig, geurig en laat ‘n aangename nasmaak in jou mond agter.

In mense tydens of na hulle middeljare kry ons ‘n soortgelyke verandering. Sommige ou mense word grasieus oud – vasgevang in die greep van God se genade. Hulle verstaan oud word en het ‘n goedgevormde karakter: ferm, vasberade en met baie hulpbronne om  vir ander as mentor te dien. Die Bybel sê dat geestelike rypheid veel meer werd is as materiële rykdom. Die Bybel sê ook dat geestelike rypheid behoort toe te neem namate ‘n mens ouer word.

Die Bybel se siening is dat veroudering onder God en deur genade wysheid sal bring. Dit beteken ‘n groter vermoë om te onderskei en te bemoedig. In Spreuke 1 – 7 is ‘n oënskynlik ouerige vader besig om realistiese morele en geestelike wysheid aan sy volwasse (in ouderdom) seun maar onvolwasse (in karakter) seun te leer. In Psalm 71 bid ‘n ouer prediker wat die beste jare van sy lewe gegee het aan die onderrig van die waarheid oor God ten spyte van sterk teenkanting:

Want U, Here, het ek van jongs af vertrou …  Moet my tog nie verwerp nou dat ek oud geword het nie, moet my tog nie alleen laat nou dat my kragte ingegee het … Ek, sal gedurigdeur bly hoop, ek sal U altyd weer loof. Sonder ophou sal ek van u verlossingswerk, van u reddingsdade bly praat, want hulle is meer as wat ek kan tel. Ek kom om u magtige dade te prys, Here my God, die verlossingswerk wat net U kan doen. U het my van jongs af onderrig, o God, en ek getuig nou nog van u kragtige dade. Nou dat ek oud en grys geword het, moet U my tog nie alleen laat nie, o God, dat ek nog aan die geslagte wat kom, kan vertel van u werk en u mag (verse 5, 9, 14 – 18).

Psalm 92:13 en 15 verklaar:

Die regverdiges sal sterk wees soos soos palmbome, soos hoë seders op die Libanon … Selfs in hulle hoë ouderdom sal hulle nog toeneem in krag. Hulle sal fris en lewenskragtig wees.

In die volgende blog gaan ons kyk na wat die Bybel oor hierdie laaste rondte sê.