Christians do not think God will love us because we are good, but that God will make us good because he loves us (C. S. Lewis).
Apologetiek: Paulus se preek in Atene (Handelinge 17)
[Apologetiek = Grieks Apologia = verdediging van die Christendom]
Alister McGrath het ‘n belangrike boek – Mere Apologetics – geskryf waarin hy op ‘n praktiese manier sê hoe gelowiges die Christelike geloof kan verdedig. Ek gaan ‘n hele paar blogs hieraan spandeer, want ek voel dit is ‘n belangrike taak vir gelowiges in ons sekulêre wêreld
Die Jode vra wondertekens en die Grieke soek wysheid (1 Korintiërs 1:22).
Toe Paulus daar aankom was Atene eintlik maar net ‘n provinsiale stad in die Romeinse Ryk. Tog was Atene belangrik weens sy filosofiese erfenis – die plek waar Plato se Akademie was.
Paulus begin sy toespraak met ‘n geleidelike inleiding tot die tema van die lewende God. Hy laat toe dat die godsdienstige en filosofiese nuuskierigheid van die Ateners die kontoere van sy uitleg vorm. Hy begin: Ateners, ek sien dat julle in alle opsigte baie godsdienstig is. Dit is sy kontakpunt. Hy verbind met die bestaande Griekse godsdienstige aannames. Dan wys hy vir hulle dat die Christelike godsdiens verder gaan. Wat die Grieke beskou as onbekend (selfs onkenbaar) sê Paulus is deur die opstanding van Christus bekend gemaak. Paulus kan met hulle verstandswêreld en ondervindings verbind sonder om ‘n kompromis met die integriteit van die Christelike geloof aan te gaan.
Hoe verbind hy met die Ateners? Ons moet onthou dat hulle niks van die Ou Testament geweet het nie. Daarom benader hy hulle uit ‘n totaal ander kultuurkonteks. Petrus gebruik die Skrif; Paulus gebruik die boek van die natuur. Hierdie idee het natuurlik diep wortels in die Skrif: Die hemel getuig van die mag van God, die uitspansel maak die werk van sy hande bekend (Psalm 19:2). Die verwysing na God as Skepper word nou ‘n kanaal om oor die tema van verlossing in Christus te praat.
Paulus is duidelik bekend met die besondere identiteit en kenmerke van sy gehoor. Hy gebruik dit wat hulle glo en plaaslike landmerke as die ankers van sy preek. Hy verwys na mense met wie hulle bekend was – nie Moses en Dawid nie, maar na Aratus, een van die grootste kulturele ikone van sy tyd. Hy was ‘n student van die Stoïsynse filosofie in Atene en wel by die skool wat deur Zeno gestig is. Luister hierna: God het hulle gemaak om Hom te soek, al sou hulle ook moes rondtas om Hom te vind. Hy is nie ver van enigeen van ons af nie, want deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons. Of soos party van julle digters ook gesê het: ‘Ons stam ook van Hom af (Handelinge 17:27 – 28).
‘n Tweede landmerk speel ook ‘n rol in Paulus se benadering: ‘n altaar waarop geskrywe staan: ‘Aan ‘n onbekende god.’ (17:23). Hierdie anonieme altare was algemeen in daardie tyd. Paulus sê dat ‘n god van wie die Grieke ‘n implisiete en intuïtiewe bewustheid het nou aan hulle bekend gemaak word. Die God wat ons indirek in die natuur leer ken, kan ten volle deur die opstanding van Jesus Christus geken word.
Petrus se benadering tot sy Joodse gehoor sou nie hier gewerk het nie – en omgekeerd. Paulus pas sy retoriek by die plaaslike situasie aan – hy haal ‘n plaaslike gesagsfiguur (Aratus) aan en gebruik die apologetiese potensiaal van ‘n plaaslike landmerk (‘n altaar aan ‘n onbekende god).
Volgende keer kyk ons na Paulus se regstoesprake.