Die Vulgaat – Coen Slabber
[Hierdie artikel volg op die artikel van die Septuagint. Die twee artikels behoort eintlik saam gelees te word.]
Met verloop van tyd word Latyn belangriker en verplaas Grieks as die algemene spreektaal. Reeds in die tyd van Jesus Christus was Latyn die dominante taal in die westelike dele van die Romeinse Ryk – dele soos Gallië en Noord-Afrika. Die noodsaaklikheid van ‘n Latynse vertaling van die Ou Testament word dringend.
Verskillende Latynse vertalings van die Ou Testament word gemaak. In 160 n.C. gebruik Tertullianus waarskynlik ‘n Latynse teks. Voor sy dood in 258 n.C. gebruik Siprianus ook ‘n Latynse teks. Hierdie ou Latynse tekste was vertalings van die Septuagint. (Op die webblad is daar ‘n artikel oor die Septuagint.) Ongelukkig is geen van hierdie ou Latynse manuskripte bewaar nie – slegs fragmente is beskikbaar.
In die derde eeu n.C. verplaas Latyn Grieks as onderrigtaal in die Romeinse Ryk. Die kerk besef dat ‘n uniforme, betroubare teks in Latyn nou dringend noodsaaklik is. Pous Damasus I gee in 382 opdrag aan Hieronimus om die Ou Testament te vertaal. Hieronimus was ‘n student van die Latynse, Griekse en Hebreeuse tale. Hieronimus het begin deur eers die vier evangelies in Latyn te vertaal. Hy voltooi hierdie taak in 384 – die jaar waarin Pous Damasus I oorlede is.
Hieronimus begin deur die Septuagint as sy grondteks vir sy vertaling te gebruik. Hy besef egter gou dat dit beter sou wees om eerder die Hebreeuse teks te gebruik. Hierdie teks was nog in Palestina as grondteks gebruik. Tussen 390 en 405 vertaal hy die Ou Testament in Latyn. Hierdie vertaling staan bekend as die Vulgaat. [Dit is afgelei van die Latynse woord vulgare wat verkrygbaar maak beteken.]
Nou het die kerk ‘n probleem: Hieronimus beklemtoon die belang van die Hebreeuse Ou Testament – 39 boeke; die Septuagint het ‘n hele aantal boeke wat nie deel van die Hebreeuse Ou Testament was nie, ingesluit. By die Sinode van Trente aanvaar die Rooms-Katolieke Kerk hierdie boeke wat nie deel van die Hebreeuse Ou Testament was nie as gesagvol. Hulle verduidelik dit deur twee woorde:
(a) Proto-kanoniek. [Proto is afgelei van die Griekse protos wat eerste beteken.] Hierdie boeke is eerste as gesagvol aanvaar. Hierdie is die 39 boeke wat ons in die Hebreeuse Ou Testament kry.
(b) Deutero-kanoniek. [Deutero is afgelei van die Griekse deuteros wat tweede beteken.] Hierdie ekstra boeke is dus dié boeke wat tweede as gesagvol aanvaar is.
Vir die Rooms-Katolieke Kerk beteken dit nie dat die een meer gesagvol as die ander is nie – die kerk het net op ‘n latere stadium die deutero-kanonieke boeke aanvaar as gesagvol.
Vir eeue was die Vulgaat die Bybel van die kerk.
Skrywer: Dr Coen Slabber