1 Korintiërs (6)
1 Korintiërs (6) – Francois Malan
Trots op hulle kennis, verwerp sommige leiers Paulus se gesag en sy opdrag om nie om te gaan met afgodedienaars nie (8:1-11:1; vgl. 5:10-11). Dit gaan oor hulle gebruik van vleis wat aan die afgode geoffer is in heidense tempels tydens heidense feeste (8:1-10:22), en wat op die vleismark verkoop en in private wonings geëet word (10:23-11:1).
8:1-13 Christelike optrede is gebou op liefde, nie op kennis nie
Gelowiges weet dat die baie sogenaamde gode en here nie bestaan nie, want vir ons is daar maar een God, die Vader, die Skepper van alle dinge, wat ons as sy kinders aangeneem het om vir Hom te lewe en sy wil te doen; en daar is maar een Here wat oor ons regeer, Jesus Christus, deur wie God alles geskape het en ons kinders van God maak. Omdat hulle weet dat ʼn afgod niks is nie, en kos nie jou verhouding met God affekteer nie, is die gemeentelede trots op hulle kennis, vier fees saam met hulle heidense vriende en familie in die tempels van die afgode, en eet hulle ook vleis wat aan die afgode geoffer is. Omdat God ons liefhet word Christelike optrede nie deur kennis bepaal nie, maar deur liefde, wat nie mede-lidmate wat nog swakker in die geloof is, laat struikel nie. As die ‘swakkes’ sien dat die ‘sterkes’ afgodsoffers in die afgodstempel eet, word hulle verlei om dit ook te doen, en loop daarna met ʼn skuldige gewete voor God. Om ʼn ‘swakke’ te laat struikel is sonde teen ʼn medegelowige en teen Christus. Kennis maak hoogmoedig teenoor die ‘swakkes’. Liefde bou die ‘swakke’ op, lei hom nie in versoeking deur jou optrede nie.
9:1-27 Paulus verdedig sy optrede as apostel
Die ‘sterk’ lidmate betwyfel Paulus se gesag en vryheid as apostel, omdat hy nie van hulle geldelike ondersteuning gevra het nie, en slaghuis-vleis wat aan afgode geoffer is saam met hulle geëet het.
Volgens Christus se bepaling het dié wat die evangelie verkondig die volste reg op onderhoud soos deur die gemeente. Paulus het egter van sy reg afstand gedoen en die evangelie kosteloos aan die Korintiërs gebring om geen struikelblok vir hulle bekering te wees nie. Hy het ook saam met hulle geëet volgens Christus se liefdeswet, om soveel mense as moontlik vir Christus te wen, maar wanneer dit vir ʼn swakke ʼn struikelblok word, sit hy nie sy mond aan vleis nie, om geen hindernis in die pad van die evangelie deur die wêreld te wees nie. So is hy vir die gelowiges ʼn voorbeeld hoe om uit liefde op te tree, en nie uit kennis nie. Sy roem en sy loon is juis dat hy van sy regte afstand doen. Die evangelie maak vry om ander te dien.
Die evangelie maak jou egter ook vry van jouself. Soos atlete oefen Paulus hom in selfbeheer, om volgens die liefdesreël te lewe. Teenoor die ‘sterkes’, wat hulle vryheid ten koste van die ‘swakkes’ uitlewe, stel Paulus die voorbeeld, deur sy vryheid op eie koste uit te leef en vry te bly om vir ander te lewe en nie vir homself nie.
10:1-22 Deelname aan die etes in die afgodstempel is afgodediens
Met voorbeelde uit Israel se woestynreis na Kanaän waarsku Paulus die Korintiërs teen God se straf as hulle volhou om Christus se genade te beproef deur offermaaltye by die afgode by te woon. Hulle meen dat hulle doop en deelname aan die nagmaal hulle beskerm. Die Jode het egter in sonde geval en hulle lyke het orals in die woestyn bly lê, ten spyte daarvan dat hulle deur die water van die Rietsee gegaan het en daagliks manna van God ontvang het. Hulle het God nie behaag met hulle onsedelikheid en afgodery voor die goue bulkalf by Sinai, later by die afgod Baäl-Peor, en toe hulle teen God en Moses uitgevaar het oor hulle kos nie.
ʼn Afgod is niks, en vleis wat aan ʼn afgod geoffer is niks, maar offers aan afgode is werklik offers aan die duiwels. Die nagmaal is deelname aan die offer van Christus. As Nagmaalgangers ook aan die tafels van die duiwels gaan aansit, soek hulle die toorn van die Here wat Israel se afgodediens nie verdra het nie. Vlug vir afgodsdiens. Dit is in wese diens aan die duiwels.
10:23-11:1 Vleis wat op die mark verkoop word
ʼn Christen is vry om vleis te eet wat in die slaghuis verkoop word, want alles behoort aan die Here. Maar as jy by ʼn ongelowige aan huis eet en iemand wys jou daarop dat die vleis aan die afgode geoffer is, los jy die vleis ter wille van die persoon se gewete. Doen alles tot eer van God, sonder om vir iemand ʼn struikelblok te wees, soos Paulus vir Christus navolg. (10:24-11:1).
Outeur: Dr Francois Malan