Christene volg Jesus uit eie vrye wil

 

Christene volg Jesus uit eie vrye wil

Hy sê: “Kom, volg My.” Om ‘n Christen te wees beteken meer as dat ek moreel en intellektueel saamstem met die Christelike onderrig. Christus vra van ons liefde en lojaliteit. Om Hom te volg vereis bekering, wat lei na lidmaatskap van die kerk, die liggaam van Christus.  Om ‘n Christen te wees, beteken ek is ’n burger van ‘n stad met ‘n ryk erfenis en ‘n heerlike toekoms. Soos die psalmis sê: Gaan om Sion, trek reg rondom, tel sy torings, bewonder sy mure, bekyk sy versterkings, sodat julle dit aan die volgende geslag kan vertel! Dié God is ons God vir altyd; hy sal ons altyd lei (Psalm 48:13 – 15).

 

Die Christendom is ‘n geloofsgemeenskap gevorm deur die Heilige Gees, deur aanbidding en verkondiging, deur gebed en geestelike dissiplines, deur antieke rites en onderrig wat ontvang is van diegene wat vooraf gegaan het. In die geloofsgemeenskap ken en geniet ons God se teenwoordigheid. Die Christelike lewenswyse se wortels is in die mense van Israel. Christene deel met Jode ‘n erfenis wat teruggaan tot eeue voor Jesus van Nasaret geleef het op aarde. Dit begin met God se beloftes aan Abraham: Trek uit jou land uit, weg van jou mens en jou familie af na die land toe wat Ek vir jou sal aanwys. Ek sal jou ‘n groot nasie maak. Ek sal jou seën en jou ‘n man van groot betekenis maak, en jy moet tot ‘n seën wees. Ek sal seën, wie jou seën, en hom vervloek  wat jou vervloek. In jou sal al die volke van die aarde geseën wees (Genesis 12:1 – 3)

Trek uit jou land uit, weg van jou mense. Die soeke na God is aanhoudend. Godsdienstige oortuigings en rites kry ons in alle kulture. Die Christelike godsdiens het nie uit natuurlike menslike impulse, begeertes of instinkte ontstaan nie. Net soos God Abraham uit sy vader se huis en land geroep het, net so roep Christus ons om in ‘n nuwe werklikheid te leef. Ons besit ‘n natuurlike  godsdienstige sin, maar die goeie nuus dat God liefde is en begeer dat ons na Hom moet kom, is ‘n onverwagte en verbasende gawe. Ons kan onsself nie na God oplig nie – God kom n lig ons op na Hom. Die Christelike weg is bonatuurlik, gebaseer op die persoon en werk van Jesus Christus.

 

Jesus herhaal God se oproep aan Abraham as Hy vir sy eie dissipels sê: As iemand na My toe kom, kan hy nie my dissipel wees tensy hy afstand doen van sy eie vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs van sy eie lewe (Lukas 14:26). Jesus wil nie die natuurlike bande wat ons saambind ondermyn of vernietig nie, maar Hy beklemtoon hiermee sy eie gesag. Hy is die Here oor alle dinge. Geen geestelike magte of menslike magte kan Jesus se oproep vervang nie. Die Here Jesus heers oppermagtig oor die Christelike weg en oor alle skepsels. Diegene wat Hom volg, mag geen ander God hê nie.

.

Christus se Heerskap gee aan die Christelike weg ‘n karakter wat die hele wêreld in beroering bring (Handelinge 17:7). As beperkte mense leef ons in ‘n wêreld vol amptenare, goewerneurs-generaal. Goewerneurs, administrateurs, raadgewers, tesourie amptenare, regters, landdroste hoofamptenare van die provinsies (Daniël 3: 2). Vandag het die gesagte in die wêreld ander name soos kundiges, terapeute, bestuurders, burokrate, ens. Hulle heers en oefen hulle gesag uit in die verloop van die lewe –soms goed, soms sleg. Christene ontken dat hulle die finale gesag het: Jy mag naas My geen ander gode hê nie (Eksodus 20:3).

 

God is een en is die Skepper van alles. Hy oefen oppergesag uit. Hierdie oortuiging word uitgespreek in ‘n sentrale stelling van die Christelike geloof: God, die Vader, het die gekruisigde Jesus opgewek uit die dood deur die krag van die Heilige Gees.