13 November: Die lewe is vol ironie. – Jan van der Watt
Heb 13:9-25 (fokus 13:9-16)
Die lewe is vol ironie:
- As ons jonk is, gooi ons ons gesondheid weg om geld te maak, en as ons oud is, spandeer ons daardie geld om ons gesondheid te probeer terugkry;
- Ons leef asof ons nooit sal sterf nie, en ons sterf asof ons nooit geleef het nie;
- Ons bekommer ons so oor die toekoms dat ons die hede vergeet. So lééf ons nie meer nie, nie in die toekoms nie en ook nie in die hede nie;
- Ons wens ons lewens om. As ons kinders is, wil ons soos grootmense wees en as ons oud is, wil ons graag weer die vryheid en beweeglikheid van kinders hê.
Die lewe is sowaar vol ironie. Maar gelowiges hoef nie die lewe op die maat van daardie ironie te leef nie. Hulle het die wonderlikste boodskap in die hele wêreld, die goeie nuus van God self. Dit is ‘n boodskap wat mense se lewens kan verander, wat die toekoms vir hulle kan oopsluit. Christene kan hierdie lewe uit die krag van God se onverdiende goedheid leef (9). Hulle het al die rede om maar net te wees wie hulle is: God se kinders, mense wat oppad is na die hemelse blyplek wat aan die kom is (14). Dit sal die ironie van die lewe so bietjie afplat.
Gelowiges kan voluit vir God leef, want hulle is veilig in God se hand. By God hoef hulle ook nie bekommerd te wees oor die beweeglikheid van ‘n kind of wat die toekoms mag inhou nie. God sal eendag hulle trane afdroog, hulle siekte gesond maak. Hulle kan maar net voluit leef, want al sou hulle sterf, sal hulle tog vir altyd saam met God leef.
Christene moenie hulle lewens onnodig ironies maak nie: dit help nie ons weet hoe om te leef, maar ons leef nie so nie.