15 Januarie – Spyt kom altyd te laat. – Jan van der Watt
Lees: Mat 12:22-50 (fokus: 12:24-33)
‘Daar is niks wat julle doen of sê wat so sleg is dat God dit nie sal vergewe nie. Maar daar is een ding wat God glad nie kan verdra nie. Dit is as mense sê dat wat Hy doen van die duiwel af kom en so die Heilige Gees met die duiwel vergelyk.’ (12:31)
Die lewe het grense… oral. Die kuns is om die grense te herken – om te weet wanneer jy te ver gaan. Dit is nogal belangrik om dit te weet, want een ding is seker: spyt kom altyd te laat!
Nou wonder ek: God gee sy genade so vrylik en sy goedheid is so onbeperk. Het dit ook grense? Kan dit ook klaar raak of opdroog?
Wel, God se genade kan nie klaar raak of opdroog nie, daarvoor is sy hart te groot en strek sy liefde te ver. Wat egter wel kan gebeur is dat ʼn mens ʼn grens kan oorsteek waar God se genade net nie meer dáár is nie. Jy kan so in die arms van die duiwel inhardloop dat jy onder God se genade uithardloop.
Dit is wat hier in hoofstuk 12 met die mense gebeur. Hulle het by Jesus gestaan en was dus net ʼn handuitsteek ver van Hom af. Tog het hulle die grens van ‘geen genade’ net daar oorgesteek. Juis daar het hulle het God heeltemal misgekyk. Al het hulle voor Hom gestaan, kon hulle God en wat Hy doen nie meer raaksien nie. As dit gebeur draai die wêreld vir jou op sy kop. Wat verkeerd is, lyk dan skielik vir jou reg. Jy word geestelik dronk. Jy begin die duiwel sien waar die Gees van God werk (12:31), wat eintlik maar net beteken dat jy God heeltemal miskyk. Jy verloor jou geestelike onderskeidingsvermoë. Dit gebeur nou maar eenmaal so as jy die hand van God se gees los om kermis te gaan hou saam met die duiwel. Jou werklikheid rondom jou draai en spin, ja, onder God se genade uitdraai en spin!
Moenie pad vat na die duiwel se kermis nie. Onthou: spyt kom altyd te laat. Maak jou oë weer oop om Jesus by jou, in jou lewe, raak te sien. As jy nie meer seker is nie, steek jou hand na Hom toe uit, voel… Hy is daar; Hy is vir jóú daar.