16 November: Om te luister is ‘n kuns. – Jan van der Watt
Jak 1:19-27 (fokus 1:19-27)
Om te luister is ‘n kuns, want ons praat so graag; en as jy praat, kan jy nie lekker luister nie. Die ou spreuk sê mos: Jy het twee ore gekry en net een mond. Daarom moet jy dubbel so lank luister as wat jy praat.
Dit is nogal opvallend dat Jakobus ook sê dat gelowiges ander ‘n kans moet gee om te praat (19). Die gelowige se taak is dan om maar net rustig te sit en te luister. Daar is ‘n goeie rede voor. Om te luister wat iemand anders sê, beteken om die pad na sy hart te vind. Iemand se woorde word gebore uit die gedagtes en begeertes diep binne in hom. Om noukeurig daarna te luister maak vir jou die deure oop na daardie gedagtes en laat jou daardie begeertes self voel. Om iemand die kans te gee om met jou te praat en geduldig te luister neem jou op ‘n reis deur sy denke en gevoelens.
As jy mense wil wen of leer ken, gee hulle kans om te praat. Luister mooi as die persoon deur sy woorde vir jou ‘n kans gee om sy hart en gedagtes te sien. Veral Christene moet mooi luister, want deur te luister lei God ons in mense se binneste in waar ons soveel kan ontdek: ons kan daar die pyn en seerkry ontdek, die behoeftes en soeke… en met die ontdekkings kan ons God se genesing vir die mense bring. As ons nie luister nie, sal ons nie dit kan doen wat God regtig wil hê ons moet doen nie, naamlik, om sy genesing vir mense te gee waar hulle dit die nodigste het nie.
Luister is ‘n kuns… wat jou nader aan mense bring en hulle nader aan jou.