2 Johannes – Lewe in waarheid en liefde: Praktiese aanwysings (verse 9-11) – Francois Malan

9 ‘Elkeen wat nie bly by die leer van Christus nie, maar ‘vooruitgaan,’ het God nié;…’ Die eienaardige figuurlike gebruik van die woord ‘vooruitgaan’ word waarskynlik deur die dwaalleraars gebruik, met hulle sogenaamde meerdere kennis en progressiewe insig, dat hulle nie langer by die naïewe geloof in Christus as God en mens kan bly nie; hulle beweer blykbaar dat hulle by die naiewe geloof verby ontwikkel het.

 

Maar die oudste sê dat elkeen wat nie by die ware leer van/oor Christus bly nie, ‘het God nié’ – Christus bly nie in hom nie, en hy verloor ook die Vader. 1 Jn 2:23 sê: ‘elkeen wat die Seun verloën, het ook nie die Vader nie’ – het nie ‘n persoonlike en intieme verhouding met die Vader nie (In Jn 15:23 sê Jesus: wie My haat, haat ook my Vader). ‘Die leer van Christus’ – in Jn 7:16-17 het Jesus gesê: Wat Ek die mense leer, kom nie van Myself af nie, maar van Hom wat My gestuur het. Hierdie leer het die apostels verder gedra – ‘die leer oor Christus’ – wat self die boodskap van God is (Die Griekse voorsetsel kan van of oor aandui) . Vooruitgang wat nie bly by die leer wat Jesus van sy Vader af gebring het nie, gaan by God self verby, en laat die ware God agter.

 

‘…wie in dié leer bly, hý het die Vader en die Seun.’ Terwyl die dwaalleraar die Seun en die Vader verloor het, bly die ware gelowige by die leer van/oor Jesus as Seun van God wat vir ons mens geword het, en daarom het hy gemeenskap met die Vader en die Seun deur die Gees van God, wat in ons kom woning maak om altyd by ons te bly om ons te lei, te versterk, en te bewaar ( 1 Jn 3:23-24). In Jn 14:21 het Jesus gesê: wie My liefhet, hóm sal die Vader liefhê, en Ek sal hom ook liefhê en My aan hom openbaar; 1Jn 1:3 sê: ons gemeenskap is met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus.

 

10 ‘As iemand na julle (meervoud: as gemeente, die ‘dame en haar kinders’) kom, en nie hierdie leer oordra nie, moet julle hom nie in ‘n huis (waarin julle vergader) ontvang nie, en hom nie groet nie’ – nie ‘n welkomsgroet soos in v3 of ‘n afskeidsgroet nie – wat gewoonlik vreugde en voorpoed of die seën van die Here toewens. Dit word ‘n te groot geleentheid vir die dwaalleraars om die gemeente te probeer oortuig om hulle verkeerde leer te aanvaar, en so die waarheid te verkrag. Dit beteken nie dat nie met liefde na die dwaalleraars uitgereik moet word nie, maar liefde is nie eg sonder die waarheid nie, en die waarheid kan nie om liefdeswil gekompromitteer word nie.

 

11 Die rede vir Johannes se aanwysing in vers 10 word hier gegee. ‘n Leer wat Christus ontken en mense so van die Vader beroof, is nie slegs ‘n ongelukkige fout nie, maar ‘sy bose werke’ wat mense na die verderf kan lei, waaraan jy meedoen deur die dwaalleraar met ‘n groet aan te spreek. In die Oosterse wêreld is die groet meer as ‘n blote formaliteit; dit bied aan die persoon wat jy groet heil en seën aan, en verplig jou tot gemeenskap. In die gemeente is dit ‘n uitdrukking van verbondenheid tussen mede-gelowiges, kinders van God se gesin. Deur die misleier met ‘n seën te groet het jy deel aan sy bose werke, word jy medeverantwoordelik daarvoor en bied jy aan hom’n vrybrief vir sy valse leer en optrede. Vir die oudste is dit ‘n baie ernstige noodsituasie. Dit gaan nie hier bloot om ‘n wêreldsgesindheid nie, maar om die uitsluiting van ‘n slinkse aanbieding van super-christelikheid wat die ware Christus verloor (vgl. Mt 10:12-15; 1 Kor 10:21).

 

12 Die slot van die brief voorsien ‘n persoonlike besoek aan die gemeente. Die baie dinge wat hy nog vir die gemeente wil sê, wil hy nie met ‘swart’ (ink) en ‘papirus’ (papier) doen nie, maar ‘mond tot mond’ met hulle deurpraat. Die toon van sy stem en die uitdrukkings van sy gesig dra saam met sy woorde sy boodskap oor en skakel misverstand verder uit.

‘sodat ons vreugde volkome sal wees.’ Sy verwagting en hoop is dat die gemeente volgens sy aanwysings sal optree, die misleiers wegwys, en aan Jesus en die regte belydenis oor Jesus vashou. As hy dan by hulle kom en dit só vind, sal hulle saam bly wees. Volkome blydskap was ook as die doel van 1 Johannes beskryf (1 Jn 1:4). Om met blydskap vervul te wees, is die gevolg van die gemeenskap tussen gelowiges wat in liefde aanmekaar verbind is in die waarheid (hier tussen die oudste en die gemeente); die gemeenskap tussen gelowiges is weer die gevolg van hulle gemeenskap met die Vader en die Seun. Omdat God in ons kom woon het, is ons deur Hom ingeskakel in sy groot gesin van gelowiges. Die bron van ons lewe in volle vreugde is volgens 1 Jn 1:3-4 en Jn 15:11 dat Jesus se blydskap in ons is (Jn 16:24).

 

Slot en Groete

 

13 Die groete van die suster-gemeente waaraan die oudste behoort, betrek sy gemeente se gesag by sy gesag agter die brief, en sluit sy persoonlike gemeenskap en liefde vir albei gemeentes daarby in. Hy is een van die kinders van die suster-gemeente. Die uitdrukking ‘uitverkore suster’ kom slegs hier in die Bybel voor. In vers 1 was sprake van ‘n uitverkore dame;’ in Jn 15:16,19 sê Jesus dat Hy sy volgelinge uitgekies het uit die wêreld (die Griekse woord ekklesia ‘uitgeroep’ word met gemeente of kerk vertaal; die woord ‘kerk’ kom van die Grieks kuriake ‘wat aan die Here behoort/die Here s’n’). Die gemeentes is deel van God se groot gesin van Christus-gelowiges wat in waarheid en liefde leef.

Skrywer:  Prof Francois Malan