26 Oktober: Wat maak jy met mense? . – Jan van der Watt
Filemon 1:1-25 (fokus 1:15-20)
“Vee jy die kantoor uit?” vra iemand. “Nee, ek vee net die stof uit; ek los die kantoor”, kom die antwoord. Ons vee dikwels die kantoor en die stof uit as dit by mense kom. Ons kyk hoe hulle van buite lyk en as daar bietjie “stof” op hulle lê, vee ons hulle sommer stof en al uit ons lewens uit.
Dit het Jesus nooit gedoen nie, en Hy verwag ook nie dat sy mense dit sal doen nie. Geen wonder dat een hele boek van die Bybel, Filemon, gaan oor God wat in mense belangstel en nie in hulle status of klere nie; ja, hy stel in die mens onder die stof belang. Van stof kan ‘n mens maklik ontslae raak, maar nie van mense nie. Onesimus was ‘n wegloop slaaf. Slawe het aan die onderste lae van die samelewing behoort en as jy wegloop het jy nie meer die reg gehad om te lewe nie, want dan was jy nie eers meer ‘n goeie slaaf nie. Dan is jy doodgemaak. Maar in die hande van God word hierdie wegloopslaaf sy kind, word hy ‘n koningskind. God het deur die stof gekyk…
‘n Groot deel van die storie is dat Paulus geweet het God kyk dieper en stof af eerder as om uit te vee. Hy het nie die wegloopslaaf geïgnoreer, eenkant toe geskuif of “uitgevee” nie. Hy het God se liefde vir hom gegee, vir hom gehelp om in die oop arms van God in te stap. As Paulus dit nie gedoen het nie, sou Onesimus nie eers van daardie arms geweet het nie. Dan het Paulus nie alleen vir Onesimus gefaal nie, maar ook vir God.
Vee jy mense uit of stof jy hulle af?