27 Januarie – Dit is dade wat tel, nie woorde nie. – Jan van der Watt
Mat 21:12-21:32 (fokus 20:28-32)
‘Daar was ’n pa met twee seuns. Hy is eers na die eerste seun toe. ‘Ou seun,’ vra hy, ‘sal jy nie asseblief vandag met die boerdery gaan help nie?’ ‘Ek is nie lus nie,’ sê die seun. Sy gewete het hom egter gou begin pla. Hy is tog daar weg om te gaan help. Die pa is intussen na die tweede seun toe. Hy vra hom ook om te gaan help. ‘Goed Pa, ek sal gaan,’ sê die seun dadelik. Dit was egter net leë woorde, want hy het nooit gegaan nie. Nou vra Ek julle, watter seun het gedoen wat sy pa gevra het?’ (20:28-31)
In die lewe is daar mense wat dinge laat gebeur, mense wat praat oor hoe dinge moet gebeur en dan mense wat wonder wat gebeur het. Wie van hulle maak regtig ‘n verskil in die lewe? Natuurlik die wat bereid is om moue op te rol en te doen. Niks gebeur as iemand dit nie laat gebeur nie. In God se koninkryk is dit nie anders nie. God soek daadmense wat bereid is om hulle moue vir die koninkryk op te rol. Dit het Jesus met sy verhaal van die twee seuns verduidelik– dit was nie wat hulle gesê het wat getel het nie, maar wat hulle gedoen het (21:28-30).
ʼn Groot probleem in die Christendom kan wees dat ons net praat, miskien omdat ons ʼn God het wat so baie vir ons doen. Ons het so baie om oor te praat. Ons kan oor sy liefde en genade praat en dit laat ons altyd lekker voel… maar as ons net praat, is dit waar die krag van die liefde en genade ophou. Om ‘n verskil te maak moet dit deur dade verder gedra word.
Ons kan met groot gevoel praat oor die armes of mense wat Hom nie ken nie… en mekaar selfs probeer motiveer om iets te doen. Maar mense kan nie woorde eet of van goeie bedoelings warm word nie. Jesus sê dit is eers as jy jou hande begin vuil maak ter wille van sy koninkryk, dat daar werklik iets gebeur. Dit is dan dat jy ʼn verskil begin maak. As jou woorde dade begin word begin wonders gebeur.
Die wet van sy koninkryk is nie wonder of praat nie, maar doen!