28 Desember: Bly weg van die duiwel se poele van plesier . – Jan van der Watt
Open 16:10-17:18 (fokus 17:1-18)
Sonde is oëverblindery. Dit lyk altyd beter as wat dit is. Aan die begin lyk dit lekker, onskadelik en selfs maklik. Maar aan die einde word dit ʼn monster wat jou verskeur, want sonde dra die kiem van selfvernietiging in sigself rond. Oppas dat daai kiem nie iewers in jou lewe beland nie.
In hoofstuk 17 lees ons van die vrou met haar pragtige klere en juwele aan. Sy lyk vrolik en vier fees. Dit lyk so lekker en begeerlik. Sy ry selfs op ʼn bloedrooi dier, die simbool van die bose. Almal vier so lekker fees en dit gaan so jollie… Mense baai te lekker in die duiwel se poele van plesier.
En dan gebeur die verrassende: die einste dier wat so gedweë was, vlieg om, ruk die vrou se klere af, molesteer haar en verskeur haar net daar (17:16)! Wat ʼn partytjie is dit nou net nie… ʼn partytjie van vernietiging. Maar dit is hoe Satan se partytjies maar lyk. Dit eindig altyd in ‘n gemors; in vernietiging, hartseer en pyn.
Die boodskap is helder en duidelik: sonde is oëverblindery. Die lewe sonder God kan aan die begin so goed en gaaf lyk, maar die einde daarvan loop uit op selfvernietiging. Dit ruk elkeen uitmekaar wat saam op die maat van daardie partytjiemusiek wil dans.
Bly daarom van die drinkbakke en feestelikhede van die sonde af weg. Dit is nie ʼn plek waar ʼn mens regtig wil wees nie, nie as jy jou lewe liefhet nie.