8 Februarie – Moenie vir koue pampoen skrik nie. – Jan van der Watt

Markus 1:1-28 (fokus 1:1-13)

‘Satan wou kyk of Hy Jesus iets kon laat doen waarvan God nie hou nie.’ (1:13)

 

‘n Engel van die Here verskyn eendag onverwags aan ‘n vroom man. “Skrik jy nie eers nie?” vra die engel toe hy so skielik voor die man staan. “Nee, ek skrik net vir lede van die vyand se span”, sê die man. In ‘n sekere sin is dit waar, en in ‘n sekere sin ook nie.

  • Die duiwel is niemand se speelmaat nie en daarom moet ons maar skrikkerig versigtig wees as ons sy reuk naby ons optel. Dit voorspel gewoonlik niks goeds nie. Ons moet dus skrik as ons agterkom dat hy naby ons is. En daar is goeie rede voor. Die duiwel het die geneigtheid om so onskuldig te lyk dat jy eintlik voel jy wil van hom hou. Maar die oomblik dat jy dink dit is veilig, is jy in sy kloue. Dit is baie keer hoe sonde werk: as ons geweet het wat die gevolge sou wees van wat ons doen, sou ons dit waarskynlik nie gedoen het nie.
  • Maar aan die ander kant hoef ons glad nie bang te wees vir die duiwel nie, want Jesus is daar. En Jesus het die duiwel klaar ‘n deeglike pak slae gegee. In 1:13 lees ons dat al probeer die duiwel sy bes, hy niks kan regkry as Jesus naby is nie. Ons moet die duiwel nooit te veel krediet gee asof hy so vreeslik sterk is nie. As hy langs Jesus staan, lyk hy na niks anders as ‘n verloorder nie – en dit is hy ook. Ons moet versigtig wees vir hom, maar moet hom nooit sterker maak as wat hy regtig is nie.

Jou pad gaan verseker vandag met dié van die duiwel kruis. Jy hoef nie te skrik as Jesus by jou is nie, want die duiwel hou nie daarvan om naby Jesus te kom nie. Jy moet wel skrikkerig wees, want hy gaan jou probeer uitvang, soos wat hy met Jesus probeer doen het.