Is hierdie werklik die boeke waarna ons moet kyk?

image_pdfimage_print

 

A society which discards those who are weak and non-productive risks exaggerating the development of reason, organisation, aggression and the desire to dominate. It becomes a society without a heart, without kindness – a rational and sad society, lacking celebration, divided within itself and given to competition, rivalry and, finally, violence – Jean Vanier

 

Is hierdie werklik die boeke waarna ons moet kyk?

Greg Gilbert het onlangs ‘n belangrike boek geskryf: “Why Trust the Bible?” Hierdie is vandag ‘n algemene probleem: Mense vertrou nie meer die Bybel nie. Ek gaan ‘n hele aantal blogs aan hierdie boek spandeer.

 

Dit bring ons by ons derde vraag: Kyk ons na die regte versameling boeke? Is daar nie boeke weggelaat wat ‘n ander perspektief op Jesus sou gee nie?

 

Mense sê dat in die eerste drie eeue van die kerk se bestaan was daar ‘n massa dokumente dwarsdeur die Romeinse Ryk versprei wat vir aandag en gesag gewedywer het. Daar was diversiteit en ‘n botsing van idees. Toe kom ‘n klomp biskoppe by Nicea bymekaar, en met die ondersteuning van die keiser, Konstantyn, publiseer hulle ‘n lys dokumente waarvan hulle die meeste gehou het. Hulle verbied die gebruik van enige ander boeke.

 

Is jy seker dat jy na die regte boeke kyk? Dit is ‘n belangrike vraag as ons doel is om te bepaal of die Bybel histories betroubaar is. Is daar nie ander “evangelies” waarna ons moet kyk nie? Die kanon is die lys van boeke aanvaar deur Christene as gesaghebbend. Kanon  beteke reël of standaard. Hulle is die standaard waarteen die lewe en leer van Christene gemeet word.

 

Toe Jesus geleef het, was daar feitlik algemene aanvaarding van die kanon van die Ou Testament. As ons na die Nuwe Testament kyk, moet ons vra: “Is ons redes om na hierdie boeke en nie na ander te kyk, geldig?”

 

Was daar ‘n sameswering om sekere dokumente te onderdruk – die bewering gemaak in die Da Vinci Code? Beslis nie. Die vroeë kerk was nie toegegooi onder ‘n see van boeke nie. Vroeë Christene het nie ‘n groot verskeidenheid oortuigings gehad nie. Die boeke wat tans in die Nuwe Testament is, is die enigste Christelike geskrifte wat met vertroue in die eerste eeu gedateer kan word. Die boeke wat in die eerste 50 jaar van die tweede eeu geskryf is, is feitlik almal deur die apostoliese vaders geskryf. Hulle leer stem ooreen met die leer van die boeke wat in die Bybel opgeneem is. Eers in die latere gedeelte van die tweede eeu – ‘n honderd jaar na die boeke opgeneem in die Nuwe Testament geskryf is, kry ons boeke wat betekenisvol verskil van die boeke opgeneem in die Bybel. Daar was die boeke van die Nuwe Testament en ‘n eeu later kry ons boeke wat daardie boeke uitdaag.

Daar word dikwels gesê dat daar geen kanon was totdat een of ander biskop of vergadering dit in die vierde eeu bymekaar gebring het nie. Die kerk het die gesag van ‘n paar NT boeke tot in die vierde eeu bespreek, maar die oorgrote aantal boeke van die NT was reeds aan die einde van die eerste eeu as gesagvol gereken. Irenaeus het reeds in 180 na die vier evangelies verwys. Papias in 110 skryf dat die apostel Johannes die drie ander evangelies aanvaar het. Daar was beslis geen sameswering om sekere boeke weg te laat nie.

 

Maar het die vroeë Christene geldige redes gehad om die dokumente wat hulle gekies het, te kies? Die vroeë Christene het nooit die boeke gekies nie – hulle het dit ontvang.  Hulle het nie met ‘n skoon bladsy begin en toe die proses om elke boek te evalueer aan die gang gesit nie. Hulle het begin met ‘n aantal gesagvolle boeke wat van geslag tot geslag oorgedra is.

 

Hoe kon die Christene vertrou dat die geskrifte wat hulle as gesagvol gereken het wel gesagvol is? Het hulle soliede kriteria gehad? Daar was veral vier kriteria van belang:

  • Geskryf deur ‘n apostel of ‘n vertroueling van ‘n apostel. Dit was die belangrikste kriterium. Van die latere skrywers het die naam van die apostels aan hulle boeke geheg. Hulle het dit gedoen om hulle boeke as gesagvol erken te kry.
  • Om die gesag van ‘n apostel te hê, moes dit uit die eerste eeu dateer. Boeke wat later geskryf is, kwalifiseer nie, want teen die einde van die eerste eeu was al die apostels reeds dood.
  • Die boek moet saamstem met die standaard van waarheid weerspieël in die leerstellige tradisie wat sy oorsprong by Jesus gehad het.
  • Die Christene oral moes die boeke gebruik en waardeer het. ‘n Boek in een deel van die wêreld gebruik en nie in die ander nie, was verwerp.

 

Het ons die regte boeke? Nie een van die boeke in die NT het die toets gefaal nie. Daar is ook geen boek wat in die kanon hoort wat nie daar is nie.

 

Dit bring ons by die vierde vraag: Was die oorspronklike skrywers betroubaar?

 

 

image_pdfimage_print