Hoop (1)
An accurate statement of the problem is about 100 percent of the solution – Piet Hein, Deense filosoof
Hoop (1)
Ek gaan ‘n aantal blogs aan Tim Keller se nuwe boek Making Sense of God: An Invitation to the Skeptical spandeer. Hy wys dat die Christelike geloof in alle opsigte – emosioneel, kultureel en rasioneel – meer sin maak as die siening van ons moderne wêreld.
Hoekom styg die aantal selfmoorde as ons lewens vandag meer gemaklik is en ons langer as ooit tevore leef? Meningspeilings wys dat mense minder vertroue in die toekoms het as tevore. Alles kom neer op ‘n verlies aan hoop en niemand kan sonder hoop leef nie. Wat ons oor die toekoms glo, beheer volledig oor hoe ons die huidige ondervind. Ons is toekoms-geörienteerde mense; ons is deel van ‘n storie wat iewers heen lei. Vandag is die idee van vooruitgang besig om te verkrummel. In ons sekulêre samelewing het ons geen absolute waardes nie. Hoe kan ons dan definieer wat vooruitgang is?
Sekulêre optimisme is ‘n ramp. Dit verswak die mense se vermoë om moeilikhede en lyding te hanteer. Die alternatief tot sekulêre optimisme is hoop – ware hoop. Hoop vereis nie dat ons in vooruitgang moet glo nie, maar wel in geregtigheid, ‘n oortuiging dat die goddeloses geoordeel sal word en dat wat verkeerd is, reggemaak sal word. Hoop berus op iets wat bo die sinnelike uitstyg – iets wat die grense van ons ervaring oorskry. Daarom is dit nie beskikbaar vir hulle met ‘n wêreldsiening wat die bonatuurlike ontken nie.
Hoop berus op die mens se vermoë om sin van die dood te maak – om die vrees vir die dood te hanteer. Ons hoop vandag berus op individuele vryheid – om ons private idees na te jaag. Hierdie benadering kan nie sin maak van die sekerste feit van die lewe nie – die dood. Volgens die wêreldse siening van dinge eindig die dood net alles.
Die oorgrote aantal mense vrees die dood. Hoekom? Oor wat dit aan ons verhoudings doen. Wat die lewe sinvol maak is liefdevolle verhoudings. Die dood stroop ons van alles wat die lewe sinvol maak. Dit is nie net die dood self wat ons bang maak nie, maar die onsekerheid wat agter die dood lê.
Dit bring ons by die Christelike hoop. In Johannes 11 kom Jesus by Lasarus se graf. Twee maal lees ons dat Hy gehuil het. Hoekom het Hy gehuil? Hy het tog geweet dat Hy vir Lasarus uit die dood sal laat opstaan. Jesus was kwaad oor die sonde en dood wat die skepping en mense wat Hy liefgehad het, vernietig het. Die dood is nie deel van God se oorspronklike ontwerp vir die wêreld nie. Jesus was betrokke by ‘n geveg om lewe en dood met die dood – Hy veg ter wille van ons. Die dood se aanspraak en mag oor ons is gebreek toe Jesus aan die kruis gesterf het en ons skuld betaal het. Maar die dood kon Hom nie vashou nie – Hy het uit die dood opgestaan.
Daar is verskeie maniere waarop die Christelike verstaan van hoop uniek is. Daarna kyk ons die volgende keer.